Die gil

china-tempels-01

Foto: Verskaf.

Die mis sliert tussen die moderne geboue deur, streel oor voete geboetseer in wollerige stewels en blaas sy asem oor die Bank of China – ʼn argitektoniese monstruositeit – wat skerp kontrasteer met die Berg Emei waar die tyd vir die Boeddhistiese monnike- en nonne stilstaan.

Dit is agtuur die oggend in Emeishan, ʼn dorp sowat 160 km wes van Tsjengdoe. Vir die tienduisend inwoners staan die horlosie nie stil nie; dit beweeg net so vinnig soos die toeriste wat uit die magdom hotelle kom om hulle pelgrimstog na die berg te begin.

Die plaaslike inwoners kyk nie eens na die heilige berg wat die dorpie omvou nie. Hulle is té besig: Winkels se deure word oopgegooi om sagte apies en pandas aan toeriste te verkoop. Die kosstraat – so genoem omdat daar ongeveer 16 restaurante is – is besig om vir ontbyt voor te berei. Ryspap, gestoomde brood, sojamelk en knoffelgegeurde groente. Die hase en paddas (honderde van hulle) word vetgevoer – om geslag te word vir die middag- en aandetes.

Die restauranteurs is die hekse in die Hansie en Grietjie-sprokie, dink ek terwyl ek en my sussie deur die kosstraat stap.

Die alomteenwoordige berg is ook besig om uit sy nagslaap te ontwaak. Die mis lig en die misterie van die heilige berg is vir almal sigbaar.

Berg Emei is een van die vier heilige berge in China. Op die berg, wat meer as 50 km in lengte strek, is daar sowat tien heilige tempels. Die heiligste van dié heilige tempels is op die spits van die berg – drie dae te voet ver. Dit is waar die Boeddha sit en sy dagtaak beplan, beskryf die toeristepamflet die Golden Summit-tempel. Dit is ook glo waar Sin Yu-Lu sowat 4 000 jaar gelede die Boek van die Hemele ontdek het, met wyshede wat die wêreld en die godheid verklaar en vrede beskryf.

Almal is op soek na vrede, kondig ʼn pamflet aan die voet van die berg aan. Hordes Chinese en Westerse toeriste staan voor die ingang na die berg. ʼn Tempelopening na die hemel, sê ʼn Chinese vrou in ʼn Mandarynse aksent.

Die naaste tempels is sowat vyf kilometer bergop. Daar is trappe teen die berg uitgekerf. Elektrisiteit en dreineringstelsel is na die verskillende tempels aangelê. Nie omdat die monnike dié wêreldse luukse verlang nie – dit is vir die toeriste.

Sowat drie kilometer bergop is daar ʼn kruispad: regs na die Fuhu-tempel, links na die Baoguo-tempel. Reguit-aan, terug dorp toe.

“Dit is hier waar ʼn mens gewoonlik moet kies,” sê ʼn Chinees in geradbraakte Engels. “Keuses, net soos ek nou moet maak,” sê hy en loop reguit aan. Ons draai regs, na die Fuhu-tempel.

En toe is die ingang skielik voor ons. Die swaar wierookreuk hang verstikkend in die doolhof van gange. In die binnehof brand honderde kerse, kerse vir siele, vir mense.

Twee nonne geklee in ligte bruin mantels prewel uit die Boek van die Hemele. Ek kyk van die tweede verdieping en lig my kamera om ʼn foto te neem. Een van die nonne – haar kop kaalgeskeer – kyk op. Haar donker oë kyk deur my siel, ryg al my sondes uit.

Ek laat sak my kamera en dwaal rond tot voor die ingang na die kamer van die 500 Boeddhas. ʼn Makabere kamer met beelde van mense in verskillende posisies, verskillende rasse en gelowe. Party van die beelde se gesigte vertrek in doodsangs, woede, ʼn stemlose gil soos Munch se bekende skildery Die gil. Vrees, sarkasme. Menslike natuur uitgekerf op die gesigte.

Daar is ook vreedsame mense: ʼn onderwyser, ʼn trooster, ʼn pa wat ʼn kind in sy arms vertroetel. Die enigste vrou, uitgebeeld in barensnood. Daar is mense in verskillende sondige posisies: ʼn moord, verkragting, diefstal. Die sewe doodsondes uitgestal in al sy glorie.

“Wat is dit veronderstel om te wees,” vra ek vir ʼn Duitser wat langs my staan en na ʼn afgryslike moord-uitbeelding staar. Sy Chinese vrou se selfoonkamera klik-klik, hoewel ʼn bordjie voor die ingang besoekers vra om nie die heiligheid te skend met foto’s nie.

“Die beelde,” verduidelik hy, “beeld die mens in al sy dade uit. Daar is verskillende Boeddhas in elkeen van ons.”

ʼn Chinese pelgrim geklee in ʼn moderne denim, ʼn parka en swart leerhandskoene, kniel voor die gillende Boeddha. Hy prewel ʼn paar woorde. ʼn Frons ontsier sy gladde voorkop. Die man se liggaam ruk. Ons staar gefassineerd na die tafereel wat voor ons afspeel.

Sy mond gaan oop. Sy gesig vertrek in doodsangs. Die gil ontsnap uit sy mond uit.

Geluidloos.

Die Chinese vrou laat sak haar kamera.

Nog ʼn geluidlose gil. Nog rukbewegings.

Vinnige Mandaryns.

Die Chinese-vrou is bleek onder die geel van haar vel.

“Die demoon van vrees het ontsnap,” verduidelik sy.

Ons staar.

Die man staan op. Draai om. “Voorspoedige nuwe jaar,” sê hy op Engels.

Hy loop uit.

Dit is 1 Januarie 2017.

Meer oor die skrywer: Yolanda Barnard

Yolanda Barnard woon en werk in Tsjengdoe, China, en skryf weekliks vir Maroela Media oor haar wedervaringe in dié land.

Deel van: Reis, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Basson ·

Effens boheems geskryf vir ‘n boerseun, maar geniet jou kuier en voorspoedige nuwejaar!

(Wat doen hulle dan op 28 Jan?)

Dot ·

Dankie dit is ‘n ongelooflike goeie artikel oor ‘n ander kultuur.
Vraag aan John. Met wat word ons gebreinspoel. As jy vas staan in jou geloof as Christen kan niks en niemand jou breinspoel nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.