Die koninkryk van ons bure

swaziland-01

Swaziland het van die mooiste landskappe in die wêreld. Foto: Verskaf.

Aan die oewer van Lake Longmere staan ʼn spierwit tent. As ʼn mens verwag om in ʼn safaritent te bly, kan jy seker ʼn vorm van luuks verwag, maar hierdie tent is nie luuks nie – dit lyk meer soos iets wat mens sal kry in die woestyn wanneer die sjeik op ʼn uitstappie gaan. Dit is ten volle toegerus met ʼn moderne Smeg-kombuis, lugverkoelers, elektriese komberse en twee swaarhout-hemelbeddens. Wit gordyne is gedrapeer voor die tent se gaasvenstertjies en die stoep neem jou na die stilte wat hier volop is.

Net buite Witrivier in Mpumalanga, op ʼn swierige plaas, verwelkom Jenna Clifford, die bekroonde juwelier jou met haar twee hansdonkies, ʼn trop wolfhonde en ʼn kleuterskool poedels.

As ʼn mens sou besluit om jou reis na Swaziland te begin net so ʼn klein entjie voor die Bulembo/Josefsdalgrens tussen Suid-Afrika en die klein koninkryk, is dit belangrik om te weet van Lake Longmere. Die weggesteekte uitspanplek dompel jou in die vakansiegevoel in.

As jy van Pretoria of Johannesburg kom, is die pad na Swaziland van Lake Longmere maklik en vinnig, en as ʼn mens na ontbyt ry, kan jy nog voor middagete in Pigs Peak wees. Pigs Peak is ʼn klein dorpie met skewe huisies wat hoog in die berge van hierdie besonder tradisionele land lê. Die dorpie het nie sy naam gekry omdat daar volop varke is nie, maar is vernoem na die eerste inwoner en goudprospekteerder, William Pigg, wat dié edelmetaal in 1884 hier ontdek het.

Die meeste mense sal tuisgaan in die Pigs Peak Hotel en Casino, wat in sy gloriedae dié samekomplek was van die rykes, maar nou ʼn afgewaterde hotel is wat onlangs van eienaar verander het. Of hulle sal tuisgaan in die Royal Swazi Sun; ʼn besige hotel vol internasionale toeriste. Talle van Swaziland se parke, oornaggeriewe en besienswaardighede word deur die staat beheer, en anders as in Suid-Afrika, is dit nie bouvallig en afgeskeep nie. Boonop is die diens goed en die pryse baie billik. So is een van dié plekke op die lys van moet-sien in Swaziland die Phophonyane-falls Nature Reserve and Lodge. Dit is geleë in een van Swaziland se natuurryke en woudagtige omgewings in ʼn natuurreservaat wat sowat 600 hektaar beslaan. Die park spog ook met 240 voëlspesies waarvan talle slegs hier voorkom. Daar is verskeie wandelroetes in die reservaat en ʼn mens kan die majestueuse Phophonyane-watervalle gaan besigtig.

Swaziland is een van die 50 kleinste lande ter wêreld, met ʼn grondoppervlak van slegs 17,204 vierkante kilometer. ʼn Mens toer dus gemaklik deur die land sonder om jouself simpel te ry. Dit is ook heeltemal moontlik om die hele land binne ʼn tydperk van vyf dae te sien. As ʼn mens afsak van die bergreekse met sy koel temperature, val die bosveldagtige middelande voor jou oop en die son skyn fel op dié klein koninkryk.

Swaziland het verskeie groot natuurreservate en parke in sy bosveldstreke wat die Hlane Royal Nationale Park, die Mlilwane Wildlife Sanctuary en die Mkaya Game Reserve insluit. Die parke is sowat ʼn uur se ry uit mekaar en word deur die regering besit en bestuur. Dit is die moeite werd om ʼn tent in die wa te laai, want hier wil ʼn mens kamp. Dit is die soort parke waar jy snags die leeus voel brul in jou borskas en waar jy werklik na aan die natuur is.

Mbuluzi-natuurreservaat word privaat bestuur en is so ʼn uur se ry anderkant Manzini. Hier kan jy kies tussen safaritente of rondawels. Wanneer jy ʼn tent vir ʼn aand bespreek, maak nie saak hoeveel mense in jou geselskap is nie, of dit een of vyf is, kry jy die hele kamp vir jouself. Mbuluzi is een van die spesiaalste plekke waar ek al in die bosveld was. Snags word die rivier voor die luukse tente ʼn vergaderplek van diere en lewe die bos soos op min ander plekke.

Hoewel ʼn mens nie te naby kan gaan nie weens die krokodille en seekoeie, kan jy wel op die oewer sit om die uitvoering van vuurvliegie-vlugte hier in te neem. Derduisende vliegies kom snags hier bymekaar en hulle liggies skyn so sterk saam dat ʼn mens die rivier se water plek-plek kan sien. Daar is egter baie skerpioene en gevaarlike slange en die seekoeie loop snags in die kamp. Daarom is dit beter om Mbuluzi te besoek as jy regtig ʼn liefde vir die natuur het, en nie as jy ʼn amateurkamper is nie.

Swaziland se gasvrye mense is anders as dié van Suid-Afrika. Hulle is erg tradisioneel en trots en sowat 80% van die bevolking is geletterd. Hulle verstaan dat toerisme ʼn groot rol in hulle ekonomie speel en daarom word toeriste op die hande gedra.

As jy graag as ʼn Afrika-boorling wonder hoe jou bure lewe, pak jou 4×4 of gooi ʼn tent in die kattebak, laai ʼn koffieketel en ʼn gasstofie en begin jou reis in Witrivier. Onthou om vleis saam te vat – die Swazi’s het nie skape nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.