Die kos is op die… strand

Só lyk die snoek by die Strandkombuis

Só lyk die snoek by die Strandkombuis

‘n Mens ruik die seekos van ver af terwyl die branders hier by jou breek.

Die briesie is koel, maar dit pla nie as ‘n mens onthou het om ’n kombers en baadjie saam te bring nie. Gesellige stemme vul die Weskus-lug wat nou en dan onderbreek word deur die skel roep van seevoёls wat aas vir ‘n happie. Op die horison raak die son ‘n vuurbal wat sy laaste stuiptrekkings gee voor hy agter die branders verdwyn.

Die vure brand vroeg, en vars gebakte brood en tuisgemaakte konfyt word uitgedra met die skink van die eerste glasie wyn. Die brood word vinnig aangevul met die geurigste verskeidenheid vars seekos, vandag gevang en uitgehaal – onder meer engelvis, tuna, kalamari en natuurlik snoek. Die vis word voor jou op die kole gebraai en jy dis sommer self op. Maak seker jy kry van die soetpatats en waterblommetjiebredie…

Dis hoe dinge loop by die strandkombuise aan die Weskus.

Daar’s iets terapeuties daaraan om in die natuur te eet. Asof ‘n mens terug is in die oertyd toe ‘n mens nog op die strand jou kos geëet het, sonder fieterjasies soos messe en vurke (hier eet mens sommer met leë mosseldoppe) of tafeldoeke.

Beplan jy ‘n Weskus- of Kaapse vakansie? Hier is my drie top strandrestaurante – gaan maak gerus ‘n draai!

Muisbosskerm in Lambertsbaai

Muisbosskerm in Lambertsbaai

Muisbosskerm, Lambertsbaai

Die Muisbos is al van 1986 aan die gang en ek het nog nooit van iemand gehoor wat dit nie geniet het nie.

Miskien is dit die huislike atmosfeer wat die Turner-familie skep wat bydra tot die gevoel dat jy self deel is van die familie wat hierdie stukkie strandhemel hulle huis kan noem.

Slegs onopgesmukte muisbos bied hier skuiling teen die koel luggie wat winter en somer van die see se kant af kom. Die vure wat al brand teen die tyd dat jy daar opdaag, maak die eetarea lekker snoesig en kort voor lank kuier jy oor ‘n feesmaal met vreemdes asof julle lank verlore vriende is.

Wat moet jy weet?

Die Muisbosskerm is veral bekend vir sy kreef, waarvoor jy ekstra moet betaal en wat jy afsonderlik moet bestel. Besprekings is noodsaaklik, aangesien hulle nie elke dag oop is nie. Muisbosskerm is ook beskikbaar vir privaat funksies. Twee sittings per dag word geakkommodeer, vir middagete en aandete. Daar is ‘n kontantkroeg beskikbaar.

• Besoek www.muisbosskerm.co.za vir meer inligting.

Boesmanland Plaaskombuis in Langebaan

Boesmanland Plaaskombuis in Langebaan

Boesmanland Plaaskombuis, Langebaan

Dink terug aan die dae toe ouma en oupa nog op die plaas gebly het en elektrisiteit maar skaars was. Dis waaraan ek dink as ek die Boesmanlandskombuis besoek.

Kos, meestal familieresepte, word in groot swart potte op die vuur gemaak, en die botter smelt sommer al nog voor dit kontak maak met die warm, tuisgebakte brood, reg uit die oond. Die kos word bedien in blikborde. Terwyl jy op afgekapte boomstompe aansit by ruwe houttafels, sak die son stadig oor die Weskussee, net ‘n paar meter van jou af.

Die Boesmanlandskombuis is nie ‘n restaurant nie. Dis ‘n familiekombuis met al die huislikheid, gasvryheid en kuier wat daarmee gepaard gaan. Hier word nie net heerlike seekos bedien nie, maar ook ware plaaskos soos lekker skaaptjops en potjiekos.

Hulle is Woensdae tot Sondae oop vir ontbyt, middagete en aandete (Sondae slegs vir middagete) – jy moet bespreek vir een van die drie etes. Op ander dae kan hulle groepe vir privaat funksies akkommodeer.

Wat moet jy weet?

Trouonthale kan hier gehou word. Dit word aangebied in ‘n aparte area sodat die restaurant normaalweg gaste kan ontvang. Besprekings vir etes is noodsaaklik as gevolg van die gewildheid van die restaurant. Daar is ‘n kontantkroeg beskikbaar.

• Besoek www.boesmanlandfarmkitchen.com vir meer inligting.

Strandkombuis in Yzerfontein

Strandkombuis in Yzerfontein

Strandkombuis, Yzerfontein

Met ‘n uitsig oor die baie bekende 16 myl- strand, wat begin by Yzerforntein, is hierdie die ideale ligging vir ‘n strandkombuis.

Die gespande markiestent met sy ru afgewerkte “vissersdorpie”-strukture en visnette lyk soos ’n oase in die strandlandskap. In die aand wink die gloeiende liggies jou na binne om teen die (dikwels) skerp Weskusluggie te skuil.

Strandkombuis is op ‘n duin geleë en gee jou ‘n ononderbroke uitsig op die strand, oseaan en natuurlik die ondergaande son. Na die ooste kyk dit uit oor ‘n soutpan met interessante voёls indien jy ‘n voёlkyker is.

Hier kan jy jouself oorgee aan die visserman se dieet van vars vis en veral smullekker Weskusmossels, brood en koeksisters.

Wat moet jy weet?

• Strandkombuis is oop vir ontbyt, middagete en aandete. Dit kan bespreek word vir troues en privaat funksies. Daar is ‘n kontantkroeg beskikbaar.
• Besoek www.strandkombuis.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.