Dié land die beste ter wêreld om te besoek

BArcelona. Foto: Pixabay

Wanneer jy besluit op ʼn buitelandse vakansiebestemming is daar verskeie aspekte wat in ag geneem word – die land se kultuur, kos, ontspanningsaktiwiteite, beskikbare akkommodasie, toeriste se veiligheid in die land, ensovoorts.

Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) het pas sy 2019 Reis & Toerisme Mededingingsverslag bekendgestel wat ʼn ranglys insluit van 140 lande in volgorde van beste tot slegste om te besoek.

Heel bo-aan die lys pronk Spanje met ʼn telling van 5,4. Met talle toeriste-trekpleisters soos die asemrowend mooi Barcelona, sy pragtige kerke en kunsmuseums en prentjiemooi strande, is dit geen raaisel hoekom Spanje ʼn gunsteling onder toeriste is nie.

ʼn Kortkop agter Spanje is Frankryk, gevolg deur Duitsland, Japan, die VSA, die Verenigde Koninkryk, Australië, Italië, Kanada en Switserland in die tiende plek.

Kaapstad. Foto: SkyPixels/Wikipedia

Suid-Afrika beklee ʼn heel skaflike 61ste plek op die ranglys, met Mauritius wat in die 54ste plek die top-toeristebestemming in Afrika suid van die Sahara is.

Die ranglys word saamgestel deur te kyk na 90 aanwysers wat verdeel word in vier hoofareas van toerisme: natuurlike en kulturele hulpbronne, infrastruktuur, nasionale reis- en toerisme-beleid, en die bemagtigende omgewing (veiligheid, higiëne, die arbeidsmark, ensovoorts).

Finland, Ysland en Oman is volgens die ranglys die veiligste lande ter wêreld, terwyl El Salvador, Nigerië en Jemen die onveiligste lande is. Die VSA kraai koning in terme van menslike hulpbronne en die arbeidsmark, terwyl Kanada goed gevaar het in lugvervoerinfrastruktuur.

Helsinki in Finland. Foto: Pixabay

Suid-Afrika het uitstekend gedoen in terme van kulturele hulpbronne en sakereise danksy die land se stadions en bogemiddelde aantal vergaderings wat deur internasionale organisasies hier gehou word. Die land in die afdeling vir Afrika suid van die Sahara wat as die veiligste gesien word, is Rwanda, terwyl Kenia die land is waar veiligheid die meeste verbeter het.

In die afdeling vir lande suid van die Sahara is die tien top-lande Mauritius (54ste op algehele ranglys), Suid-Afrika (61), die Seychelle (62), Namibië (81), Kenia (82), Kaap Verde (88), Botswana (92), Tanzanië (95), Senegal (106) en Rwanda (107).

Die lande wat heel onder aan die algehele ranglys boer, sluit in Jemen (140), Tsjad (139), Liberië (138), Burundi (137) en die Demokratiese Republiek van die Kongo (136).

Lees die volledige Wêreld Ekonomiese Forum se 2019 Reis & Toerisme Mededingingsverslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karel Combrinck ·

Die 61ste plek “heel skaflik”?! Ook maar met min tevrede.

Marius ·

Stem heelhartig met jou saam. Ons het ‘n nasie geword wat tevrede is met swak tot middelmatig!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.