Die LekkeSlaap-span se top-Valentynsdagwegbreke

Bushwa Game Lodge. Foto: LekkeSlaap

Of ons dit nou wil erken of nie, die meeste van ons is heimlik romanties en droom alte lekker daarvan om ’n afgeleë huisie in die woud of ’n luukse bosveld-lodge met ’n spesiale persoon te deel. So, van sakpas-opsies tot eersteklasbestemmings, laat die LekkeSlaap-span se top-idees vir romantiese wegbreke jou en jou spesiale persoon se voete onder julle uitslaan!

Aquila Private Game Reserve and Spa

Touwsrivier, Breederiviervallei, Wes-Kaap
Vanaf R4 260* per nag vir 2, sluit buffet-etes in

Dink net: ’n Spa-bederf gevolg deur ’n behaaglike buitestort by julle privaat eenheid en ’n sonsondergangwildrit om die dag mee af te sluit. By Aquila, ’n luukse 10 000 hektaar-reservaat aan die suidpunt van die Karoo, is dít wat op jou en jou geliefde wag. Dié Groot 5-reservaat spog met verskeie wildspesies, ’n spa, swembadkroeg, twee groot swembaddens, ’n biblioteek en verskeie verblyfopsies wat in die bos of teen die berg skuil ─ sommige met buitestorte en kaggels as ekstra bederf!

 

Cederkloof Botanical Retreat

Citrusdal, Sederberg, Wes-Kaap
R1 200* vir 2 gaste

By Cederkloof groet voëlgesang en die reuk van fynbos jou voor die vriendelike honde van dié prentjiemooi kloof aangedraf kom om jou welkom te heet. Lê agteroor in ’n luukse bad of in ’n privaat Jacuzzi versteek in ’n aromatiese fynbostuin en vergeet van alles buiten die sterre en jou geliefde. Daar is ’n lieflike staproete op die perseel en Cederkloof het die perfekte ligging, net ’n entjie vanaf die skouspelagtige rotsformasies van die Sederberg en sowat twee uur se ry vanaf die Kaap.
*Troeteldiere welkom op versoek.

 

The Place

Ladismith, Klein-Karoo, Wes-Kaap
Vanaf R800* vir 2 gaste

In ’n afgesonderde vallei in die Klein-Karoo skuil The Place. Daar is twee kothuise op die plaas, maar dit is die Red Rock Cottage, aan die voet van ’n rooisandsteenrif met ’n uitsig oor akasias en Karoo-koppies, wat vir ons ekstra romanties lyk. Dié kothuis het ’n kaggel in die slaapkamer en stoepdeure wat na ’n privaat braaiplek en plonspoel lei. Hulle sê mos verliefdes kan op brood en water oorleef en by The Place kan jy ook vars olyf- en roosmarynbrood bestel ─ dis mos ál wat julle sal nodig hê.
*Troeteldiere welkom op versoek.

 

Ocean View Hotel

Koffiebaai, Wildekus, Oos-Kaap
Vanaf R1 800* vir 2 gaste

Kom wees ’n bietjie wild by hierdie kaalvoet-strand-lodge in Koffiebaai aan die Wildekus. Bespreek ’n heerlike masseersessie, ’n kajakvaart, grottoer of ’n staptoer na die Hole in the Wall by ontvangs en sit soggens, smiddae en saans by die restaurant op die perseel aan vir iets te ete. Daar is ook ’n strandkroeg net ’n paar meter vanaf die swembad en die strandhekkie. Kom swem saam in die Wildekus se warm water en sit salig op jou stoep en kyk hoe die koeie, perde en varkies dóér op die strand wandel.
*Klein troeteldiere word op versoek toegelaat.

 

Moon Mountain Lodge

Abbabis, Hardap, Namibië
Vanaf R3 600* vir 2 gaste, ontbyt en aandete ingesluit.

Hulle sê die liefde is maanskyn en rose. Ons weet nie so mooi van die rose nie, maar Moon Mountain Lodge bied luukse verblyf in ’n tent-lodge omring deur maanagtige woestynvlaktes wat jou en jou geliefde se asem sal wegslaan. Bedags kan julle in jul privaat plonspoel of tent ontspan en ’n uitsig oor die vlaktes geniet en saans wag ’n glasie wyn onder die helder sterreruim vir julle by die restaurant en kroeg op die perseel.

 

Hooikraal Tented Camp

Naby Heidelberg, Tuinroete, Wes-Kaap
Vanaf R160* vir 2 gaste

Die tentwonings by Hooikraal sal julle na die bosveld meevoer … al is dit in ’n kloof buite Heidelberg in die Wes-Kaap geleë. Elk van die drie tente het ’n privaat buitebadkamer, braaigeriewe, ’n houtvuur-warmbad en sonkrag-beligting. As julle buitelugmense is wat hou van visvang, fietsry, voëlkyk en braai, sal ons Hooikraal beslis aanraai!

 

Uitsig Cottages

Ladismith, Klein-Karoo, Wes-Kaap
Vanaf R700* vir 2 gaste

Dié kothuise spog nie verniet met só ’n naam nie! Kom geniet ’n uitsig op die skouspelagtige Swartberge en oor die plaasdamme wanneer julle by een van Uitsig Cottages se privaat kothuise bly. Elke kothuis is toegerus vir basiese selfsorg, die ligte werk met sonkrag en die res van die toebehore met gas ─ so beurtkrag sal nie julle romanse beïnvloed nie! Ontspan rondom die privaat vuurput of in die rotsplonspoel ─ Gelukstroom-kothuis s’n kan met ’n donkie verhit word en Hemelrand s’n kan met die liefde aangevuur word.

 

The Stables and Loft at Glenogle Farm

Magoebaskloof, Limpopo
Vanaf R1 550* vir 2 gaste

In feëverhale kry die prinses altyd haar prins, so hoekom dan nie by hierdie sprokiesagtige kothuis in ’n woud kom bly nie? Glenogle Plaas skuil tussen denneboom-plantasies langs ’n foreldam in die pragtige Magoebaskloof. Die kleiner een van die twee eenhede, The Loft, is perfek vir ’n romantiese wegbreek en spog met ’n plattelandse kombuis, ’n skilderagtige uitsig oor die woud, ’n kaggel en ’n privaat dek.

 

Imvumbu Lodge

Meer-en-See, Richardsbaai, KwaZulu-Natal
Vanaf R1 100* vir 2 gaste

Dié driester-lodge op die Menywa-meeroewer word omring deur tropiese plantegroei en voëlgesang. Dit is naby die Noordkus se warm Indiese Oseaan en gaste kan op die perseel visvang of by een van twee restaurante aansit. As jy op soek is na ’n romantiese wegbreek, is dit die moeite werd om die wittebroodsuite te bespreek wat ’n pragtige uitsig oor die bome, ’n privaat Jacuzzi en ’n luukse, losstaande bad bied.

 

Canyon Lodge

Visrivier-canyon, Karas, Namibië
Vanaf R4 102* vir 2 gaste

Dié lodge, ’n entjie vanaf die wêreldbekende Visrivier-canyon, bied ’n outydse plaashuisgevoel en ’n groen tuin midde die gestroopte landskap. Verblyf is beskikbaar in 29 grasdak-kliphuisies wat tussen granietrotse skuil en perde sal jou en jou geliefde tussen die kameeldoringbome tot by julle huisie volg. Geniet ’n oggend- of sonsondergangwildrit deur die Canyon Park en ’n uitstappie tot by die bekende Visrivier-canyon, lê weg aan drankies en etes by die restaurant of koel lekker in die swembad onder die warm Namibiese son af.

 

Bushwa Game Lodge

Vaalwater, Waterberg, Limpopo
Vanaf R5 000* vir 2 gaste, wildritte en etes ingesluit

Dié eksklusiewe spog-lodge in die Waterberg is die ideale wegbreekplek vir Gautengers wat op soek is na ’n bietjie rus en romanse. Van standaardspa-kamers, tot ’n boomhuis en glanstente, daar sal beslis ’n eenheid by Bushwa wees wat julle wildste Afrika-bosvelddrome oortref! Daar is ook ’n swembad met ’n uitsig, restaurant en ’n spa op die perseel.

 

Buff and Fellow Eco Cabins

Buite George, Tuinroete, Wes-Kaap
Vanaf R1 250* vir 2 gaste

Die Tuinroete bly nou maar eenmaal ’n gunsteling onder verliefdes. As jy en jou geliefde dié lowerryke streek wil verken, stel ons die eko-eenhede by Buff and Fellow voor. Daar is eenhede vir gesinne, maar die stelt-eenhede op die dam se oewer het net plek vir twee. Die spa-bad wat met vuur verhit word, privaat braaigeriewe en ’n uitsig oor die dam vanaf die dek en die bed sal verseker dat julle wegbreek romanties is.

 

Op LekkeSlaap.co.za kan elke dag Valentynsdag wees. So, waarvoor wag jy? Kliek en bespreek vir jou en jou spesiale persoon daardie romantiese wegbreek!

*Al die tariewe was akkuraat ten tyde van publikasie en is onderhewig aan verandering.
Alle foto’s van LekkeSlaap.co.za.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Adriëtte le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.