Die vele gesigte van Istanbul

Die Blou Moskee Foto: Marianne Styan

Die Blou Moskee Foto: Marianne Styan

Daar is ʼn mite oor ʼn Romeinse god met meer as een gesig, genaamd Janus. Hy is gesien as die god van ʼn nuwe begin en oorskakelings.

Net soos die mitiese god, het die stad Istanbul soveel gesigte om van te kies dat dit mens laat voel of jy elke keer in ʼn ander stad inloop. Soos Janus, het dit die mag gehad om werklik oorskakelings te deurstaan en elke keer ʼn nuwe begin te maak onder nuwe regeerders. Dit het nooit bly lê in die puin waarin die regeerders die stad dikwels gedompel het nie.

Interessant genoeg was die Romeine een van die vele regeerders van die Turkse stad, wat as die top bestemming van 2014 op TripAdvisor gelys is.

Maar wat maak ʼn stad wat al vanaf so vroeg soos 3 000 v.C. bewoon is só uitsonderlik dat dit mense van regoor die wêreld trek? Met ʼn bevolking van rondom 20 miljoen mense, met meer as 25 000 toeriste wat daagliks deur die bekende Topkapi-kasteel beweeg, moet daar tog iets aan hierdie stad wees wat mens trek?

Istanbul het een van die rykste geskiedenisse wat ʼn stad kan hê. In ʼn warrelwind van heen en weer oornames van die stad tussen Bizantynse, Griekse – wat die stad op die kaart gesit het in die 7de eeu v.C. – Romeinse en uiteindelik Ottoman Turkse regeerders, het die stad opgestaan, geval, en weer opgestaan tot die wêreldstad wat dit vandag is. Dit het selfs van naam verander: Byzantium, Konstantinopel (wat die Romeinse hoofstad was) en uiteindelik Istanbul (1453).

Istanbul is ook die enigste stad in die wêreld wat op twee kontinente gebou is. Dit is natuurlik hoekom dit so ʼn waardevolle aanwins was vir elke wêreldryk.

Dit is geleë op die Bosporus Straat en dit omvou die hele Golden Horn, ʼn natuurlike hawe wat lyk soos die horing van ʼn dier.

Uitsit oor Istanbul en die Bosphorus-rivier (gesien vanaf Asië) Foto: Marianne Styan

Uitsit oor Istanbul en die Bosphorus-rivier (gesien vanaf Asië) Foto: Marianne Styan

Veerbootritte op die Golden Horn en Bosphorus-rivier is beskikbaar en ongetwyfeld die moeite werd. Dit is juis die wete dat mens aan die een kant Europa sien en die ander Asië, wat dit ʼn onvergeetlike ervaring maak.

Omdat Istanbul deur soveel regeerders regeer is, het dit ook gedurig “van geloof verander”.  Alhoewel Istanbul vandag hoofsaaklik Moslem georiënteerd is, het die Ottoman Turkse Sultan Mehmed, snaaks genoeg, die waarde daarin gesien om soveel as moontlik verskillende gelowe terug te bring na die stad om ʼn gemengde bevolking te kon skep. Katoliek, Grieks Ortodoks, Moslem, Christen en Joods, is almal ingesluit.

Hy was ook die een wat die alombekende Grand Bazaar gestig het. Vandag is dit een van die wêreld se grootste binnehuise markte. Dit is verseker ʼn besoek werd, maar moenie oorweldig word deur die massas mense en die duisende gekloonde produkte nie.

Een van die wêreld se argitektoniese wonders is natuurlik ook in hierdie stad te vinde. Die pragtige Haga Sophia. Soos twee susters staan die Haga Sophia (in rooi bakstene getooi) en die selfs mooier Blou Moskee (ook bekend as die Sultan Ahmed Moskee, gebou in 1616) net ʼn paar honderd meter van mekaar, aan weerskante van die Sultan Ahmed Park.

Wat die Haga Sophia (wat as bloudruk vir menige ander moskees gedien het) so besonders maak, is hoe sy nie net deur geloofsdenominasies heen en weer gegee is nie, maar dat sy al ʼn hele paar aardbewings deurstaan het as gevolg van haar merkwaardige ontwerp wat die argitektuur jare vooruit was. Die massiewe koepel en die versterkende stutmure het hierdie moskee gered wanneer moederaarde haar skouers gerol het.

Die asemrowende interieur van die Blou Moskee Foto: Marianne Styan

Die asemrowende interieur van die Blou Moskee Foto: Marianne Styan

Dit is gebou, in Byzantynse styl, in 360 n.C. en het gedien as ʼn Christelike kerk vir meer as 1 000 jaar. Met die inval van die Ottomans en saam met die verandering van die naam van die stad is dit omskep in ʼn moskee. Vandag is dit egter ʼn museum waar Christelike en Moslem-kunswerke ironies na mekaar staar van oor die wydte van die kerk.

Die Blou Moskee het haar naam gekry van die asemrowende interieur wat hoofsaaklik saamgestel is uit blou mosaïekteëls en dit is werklik ʼn kunswerk.

Dit is gebou met ses minarette-torings wat grootskaalse veroordeling uitgelok het omdat dit durf dieselfde hoeveelheid ewenaar as die Moskee in Mecca. Sultan Ahmed het die probleem oorkom deur die aanbouing van ʼn sewende minarette by die Moskee in Mecca.

Let gerus op na die hoeveelheid minarette wat langs ʼn moskee aangetref word. Dit dui op die persoon wat dit laat bou het. Een dui op ʼn ryk familie, twee dui daarop dat dit laat bou is deur die Sultana (Sultan se ma) en meer as twee dui aan dat dit deur ʼn Sultan self laat bou is. Elke moskee het in sy omtrek ʼn bazaar, hamam (Turkse bad) en ʼn biblioteek.

Die Topkapi-kasteel is net om die hoek van die twee moskees geleë. Nie net het dit een van die mooiste uitsigte oor die stad waar dit op die kranse van die Golden Horn staan nie, dit het ook ʼn verskeidenheid van versamelings juwele, oorlogwapens en horlosies.

Aan die anderkant van die Bosphorus lê die somerkasteel, ­­Beylerbeyi-paleis. Vir baie lank was dit die enigste gebou aan die Asië-kant van die stad. Dit is gebou om Europa in Asië in te bring en daarmee te spog. Dit het ʼn baie sterk ooreenkoms met Versailles in Frankryk – pragtig maar oordadig versier.

Oorkant die Golden Horn-hawe lê my gunsteling buurt – Beyoglu. Dis waar mens werklik die kultuur en plaaslike lewe in volle swang gaan ervaar. Gaan sit gerus by een van die kafeetjies met hulle minitafeltjies en stoeltjies vir ʼn eg Turkse koffie.

Een van die oudste trems in die wêreld

Een van die oudste trems in die wêreld

Om jou bene die stap te spaar, kan jy een van die oudste trem-kabelspoor in die wêreld neem tot bo-op die bult. (Istanbul is regtig ʼn verbasend heuwelagtige stad). Van daar kan mens maklik al die besienswaardighede bereik. Taksim-plaza en -park, die bekende inkopiestraat, Istikalstraat, en die 1 500 jaar oue Galata-toring. Die toring bied een van die mooiste 360 grade-uitsigte op Istanbul vir daardie perfekte foto.

So onvoorspelbaar soos mense geglo het die mitiese gode van ouds was, net so is hierdie stad met sy vele gesigte en fasette onvoorspelbaar. Dit verras jou elke keer en wys om elke hoek en draai ʼn ander gesig van homself.

Wie weet, dalk is Istanbul ook maar net ʼn mite… Kom en kyk self…

Ritsgids:

  • ʼn Wye verskeidenheid veerbote wat toere van verskillende afstande bied op die Bosphorus, vertrek gereeld vanaf die hawe. Blykbaar is die een wat deur die regering georganiseer word, die goedkoopste opsie.
  • Die rye kan ongelooflik lank raak by Haga Sophia en die Blou Moskee. Ons het ʼn dagtoer geneem wat die ingang na albei die moskees ingesluit het. Ons het dit as eerste besienswaardighede van die toer besoek, in die oggend, toe die rye nog nie so lank was nie.
  • Topkapi-kasteel was ook deel van die toerpakket. Indien mens die harem wil besoek kos dit ekstra. Besluit self of dit die geld werd is, maar persoonlik dink ek nie so nie. Mens kry ʼn mooi oorsig van die harem by die somerpaleis en dis ingesluit.
  • Indien jy genoeg tyd het, besoek gerus die Beylerbeyi (somer)-paleis en ʼn uitkykpunt aan Asië se kant van die stad. Omdat die lewenskoste aan die Asië-kant so goedkoop is, bly baie mense daar en werk aan die Europa-kant. Die deel aan die Asië-kant is ongelooflik groot en dit is nog meer merkwaardig indien mens besef dat al die geboue daar net residensieel is en geen kommersiële geboue insluit nie.
  • Grand en Spice Bazaar – Die verkoopsmense kan hard probeer om iets aan jou te smous, maar gelukkig hou meeste van hulle gou op as jy eers nee gesê het en nie aanhou om na die produkte kyk nie. Die produkte by die Grand Bazaar is meestal duurder as by ander markte. Probeer by enige van die markte om nie by die ingang naaste aan die moskee te koop nie. Hulle betaal gewoonlik meer huur en dan vra hulle meer vir hulle produkte.
  • Bederf jouself met ʼn afskilfering, massering en stoombad by een van die Hamam’s (Turkse baddens). Dis nie buitensporig duur vir ʼn uur en half of langer se bederf nie.
  • Respekteer die Moslemgeloof – indien jy nie self ʼn Moslem is nie, moet mens nog steeds respek toon vir wat vir hulle belangrik is. Omdat meeste moskees nog aktief is, word vrouens versoek om ʼn serp saam te neem om hulle koppe mee te dek. Indien jy nie ʼn lang rok aanhet nie, gee hulle vir jou ʼn doek om om jou middellyf te bind. Jou skoene moet uitgetrek word wanneer jy die moskee binnegaan. Oor die algemeen hoef mans nie rêrig veel te doen nie, behalwe om ook hulle skoene uit te trek.
  • Istanbul het ʼn wonderlike en bekostigbare openbarevervoer-sisteem waarvan mens gebruik kan maak.

 * Marianne onderneem al hierdie ervarings en bring jou reisartikel op haar eie onkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.