Wonderlike Wildernis

Wildernis (Foto: GardenRoute.com)

’n Skemerstrand, Wildernis. Seemeeue en swaeltjies swiep deur die sproeireën. ’n Dosyn dolfyne boogspring deur die branders. Ons kinders sit op die balkon en drink rooibostee terwyl ek en Gerrit aan ’n glas witwyn teug. Dis ons gesin se maandelikse tegno-vrye-wegbreek. Die tablet en skootrekenaars het by die huis gebly en die selfone is afgeskakel.

Vir 48 uur kuier ons net met mekaar en hierdie keer is ons plek van ontvlugting ’n ware sprokie

Vir 48 uur kuier ons net met mekaar en hierdie keer is ons plek van ontvlugting ’n ware sprokie. Dink aan bosse vars geel rose in blompotte, volstruisleermeubels in gesellige kuierkamers, ’n skinkbord met botteltjies parfuum om uit te probeer, broodbome in ’n tuin, bronsbeelde. En skilderye. ’n Horde skilderye. Want kleur en tekstuur is gróót woorde vir Tersia Hoffman – skilder en mede-eienaar van Xanadu-gastevilla. Sy is juis besig om haar kunstige vere reg te skud vir ’n uitstalling by die KKNK. Tersia is sprankel-oog, ’n pragtige vrou, terwyl haar man Albert (’n oud-prokureur) se warm radiostem ’n mens dadelik gerus en welkom laat voel. Saam het dié egpaar in 2004 die Vrystaatse platteland verruil vir ’n lewe langs die see. Hulle het ’n leeuetaak verrig deur dié lieflike villa met sy ses gastekamers letterlik van die grond af op te bou. Die naam Xanadu beteken ‘’plek van idilliese skoonheid en oorweldigende prag”. Een van die bewyse van dié idille is dat is dat hier in al die jare nog nooit enige vorm van misdaad was nie.

Xanadu-gastevilla.

Sommer met die intrapslag raak ’n mens smoorverlief op die fantasie wat die Hoffmans geskep het. Die hoë vloer-tot-plafon-vensters sorg vir asemrowende see-uitsigte. Of jy jou nou in die borrelbad lawe, soos ’n wafferse sultan op die koningsbed uitstrek of in die stort van egte marmer staan – Albert en Tersia het dit só ontwerp dat jy die wye oseaan altyd, altyd voor oë hou. Kan jy jou indink wat voorspel ’n sonsopkoms of sonsondergang oor die see? Reddelose romantiek, liewe lesers, reddelose romantiek.

’n Ander Afrikaanse egpaar wat die bykans ondenkbare vermag het in hierdie rustige kusdorpie van Wildernis, is sjef Lizelle en maître d’ Rudolf Stolze. As selferkende dromers én doeners, het die Stolze Serendipity in 2001 geopen: ’n fynproewers-restaurant aan die oewer van die Touwsrivier. Dit is veral deur haar unieke, gesofistikeerde gebruik van plaaslike en seisonale bestanddele dat Lizelle beroemdheid verwerf het. Die toekennings stroom in. In 2016 was Serendipity die nasionale wenner van die World Luxury Restaurant Awards.

Wildsbobotie met spekboomblatjang.

By Serendipity word tafels nie geruil nie, om te verseker dat die veertig gaste hulself ten volle kan geniet in ’n fees wat twee en ’n half uur of langer duur. Die bebaarde Rudolf is innemend en gasvry. Hy sal die spyskaart vir jou uitlê en, as jy wil, vertel hoe en waar hy die eland, koedoe, springbok of vlakvark vir die aand gejag het, of gaan visskiet het vir rooi roman of geelstert. Sien, lank terug was Rudolf in die vloot en hy het steeds vinne waar ander mense voete het.

Local is wragtig lekker. Dit besef jy sommer al met die eerste slukkie aperitif, gebrou uit 35 soorte plante! Voorgereg is garnale en vinkel risotto, geroosterde soetmielie met salsa en kerrie crème. Daarna volg murgpampoentjiesop-met-sade. Die boegoe-blits-slurpy is opwindend! Die springbok-lendeskyf is gejag in die Groot Karoo en word bedien met snippertjies Blaawkranz-mieliepad en gekarameliseerde babawortels, terwyl die smaaklike geelstert (wat Rudolf natuurlik self geskiet het) voorgesit word met blomkool, lensies en tamatiegegeurde Beurre Blanc (bottersous). Die poeding van plaaslike makadamianeut-panna cotta is ’n treffer, maar selfs meer vreemd-wonderlik is die kombinasie van vanilla-sagopoeding met malvapoeding-krummels, vye-pureé en (wag daarvoor …) shiraz-roomys! Wat ’n mens ná die tyd bybly, is nie net die elegante haute cuisine nie, maar veral die besef dat die filosofie van Serendipity uitgelééf word: “Die kombuis is ’n taal van harmonie, kreatiwiteit, geluk, skoonheid, poësie, kompleksiteit, towerkuns, humor en kultuur.”

’n Aangename buitelug-belewenis in Wildernis is die ekovriendelike riviersafari van bootman Mike Raubenheimer. Mike se gerieflike agt-sitplek-boot is toegerus met reddingsbaadjies, ’n noodhulpkis, komberse en versnaperings. Hy praat ’n soft spoken Afrikaans. Vir ’n uur en ’n half wys hy die waterwonders vir ’n mens uit: ’n bleshoender op ’n drywende rietnes. ’n Kormorant wat vlerkdroog. ’n Bloureier op ’n rots. ’n Swerm bont kiewiete. Kolganse, duikers, slanghalse, dikkoppe en ’n witreier. ’n Koningvisvanger duik na ’n vissie hier reg voor ons! Rooi naaldekokers woer-woer soos helikopters om die boot. Toegewikkel in komberse, vaar ons op in die Touwsrivier waarlangs ons die vorige dag die Half Collared Kingfisher-roete van 7,2 km gestap het, met die pont oorgevaar het na die oostelike oewer en toe gaan baljaar het by die waterval. Vanuit die boot kan ons sien die oewerbos is kraakvars ná die reën. ’n Loerie se valmrooi ondervlerk flits deur die boomtonnels. Raksampioene maak trappies teen ’n stam.

En daar op die rivier in Wildernis leer ek vir my kind ’n nuwe woord: nostalgie

’n Visarend se geroep weergalm deur die kranse en my negejarige seunskind sê sag: “As ek hierna kyk, dink ek aan al die woude en riviere waar ons al was en dan, Mamma, kan ek dit nie help nie, maar ek voel so ’n snaakse soort hartseer.” En daar op die rivier in Wildernis leer ek vir my kind ’n nuwe woord: nostalgie. Elke spesiale klank, reuk, smaak, mens of plek, weerkaats iewers in die toekoms, vertel ek vir hom. Daardie weerkaatsing noem ons nostalgie. Dit vat ’n besonderse siel om nostalgies te kan raak, een wat innig lief kan kry. Ons kan net terugverlang na dit wat ons liefkry. Só sal dit ook eendag vir ons wees met Wildernis.

REISRAAD
Xanadu is veel meer as ’n gastevilla, dis ’n fantasie! Skakel Albert en Tersia Hoffman: 044 877 0022 of 083 357 8000. www.xanaduvilla.co.za

Beleef die feestelike koskuns van Serendipity in eg-Suid-Afrikaanse vyfgang-d’hôte. Vanaf 18:30 Maandag tot Saterdag. Skakel Rudolf en Lizelle Stolze: 082 709 1922 of 044 8770433. www.serendipitywilderness.com

Neem die wonderlike waterpad saam met Mike Raubenheimer van Wilderness River Safaris: 082 440 9807 of 044 882 1207. www.wildriversafaris.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.