Dinge om te doen in SA op Erfenisdag

Foto: thecitycollection.org

Foto: thecitycollection.org

Suid-Afrika het nie ʼn tekort aan ʼn kulturele erfenis nie. Net die feit dat ons 11 amptelike landstale het, dui daarop dat ons heel moontlik ʼn verskeidenheid van maniere kan vind waarop ons hierdie dag kan vier!

Baie van ons gaan ʼn tjoppie op die kole braai en net rustig saam met vriende verkeer.

Daar is egter ʼn hele paar ryk, kulturele uitstappies waaraan jy kan deelneem om ons erfenis te gedenk.

KwaZulu Natal
– Durban

24 September was aanvanklik bekend as Shaka-dag en daarom is daar geen beter plek om dit te vier as by uShaka Akwarium en Waterpark nie. Hier kan jy jou verlustig in ʼn verskeidenheid van aktiwiteite wat die hele familie sal besig hou. Geniet die uitvoerings van die pragtige waterdiere, snuffel rond in die vlooimark met tipiese Afrika-produkte, of geniet optogte en ʼn verskeidenheid van opvoerings regdeur die dag.

Nelson Mandela se standbeeld by Howick in KwaZulu-Natal Foto: Marianne Styan

Nelson Mandela se standbeeld by Howick in KwaZulu-Natal Foto: Marianne Styan

– Howick, Midlands
Nelson Mandela se besonderse standbeeld naby Howick is iets wat elke Suid-Afrikaner een keer in hulle lewe moet gaan besoek. Nie net is dit ʼn herdenking aan een van ons land se mees besonderse mense nie, maar dit is ook een van die mees ongewone standbeelde. Van ver af lyk dit net soos net ʼn paar pale wat in die grond geplant is, maar sodra jy op die regte posisie plek inneem, verskyn Nelson Mandela se gesig!

Gauteng
– Johannesburg

As daar nou een plek is wat jou na die werklike oorsprong van ons erfenis sal terugvat, dan is dit die Wieg van die Mensdom (Cradle of Humankind) noord van Johannesburg. Besoek dié juweel wat van die wêreld se grootste opgrawings van vroeë menslike fossiele opgelewer het.

– Pretoria
Beleef werklike versoening in ons land se erfenis deur twee van ons land se bekendste museums te besoek. Die Voortrekkermonument herinner ons waar ons Afrikaanse voorvaders vandaan gekom het en die ongelooflike hindernisse wat hulle oorkom het. Maar terselfdertyd moet ons nie agterweë laat om te onthou wat ons as land saam oorkom het om ʼn sukses te maak van ʼn nuwe Suid-Afrika nie. Hierdie suksesstories, so wel as ons land en kontinent se wye geskiedenis, word mooi uiteengesit by die Vryheidpark.

Vrouemonument in Bloemfontein

Vrouemonument in Bloemfontein

Vrystaat
– Bloemfontein

Daar is niks wat jou só aan die hart gryp soos die Vrouemonument nie. Dít wat die boervrou gedoen het is ʼn erfenis wat ons nie maklik kan vergeet nie.

Wes-Kaap
– Clanwilliam

Op hierdie erfenisdag word die nuwe Knersvlakte Natuurreservaat, drie ure se ry van Kaapstad, geopen. Dit is ʼn tuiste vir 1 500 unieke plantspesies en ʼn verskeidenheid voëllewe in die Wes-Kaap.

– Kaapstad
Indien jy nog nooit by Robbeneiland was nie, is dit nou jou kans. En indien jy al daar was kan jy dit altyd weer besoek, nie net vir die geskiedenis daaraan verbonde nie, maar ook vir die pragtige natuurskoon.

Ritsgids:
Nog idees:

Duiwelspiek Foto: Suné van Heerden, Maroela Media

Duiwelspiek Foto: Suné van Heerden, Maroela Media

Gauteng:
– Paul Kruger Huis – Pretoria
– Nelson Mandela Huis – Soweto
– Apartheidsmuseum – Johannesburg

Wes-Kaap:
– Distrik Ses – Kaapstad
– Tafelberg – Kaapstad
– Bo-Kaap – Kaapstad
– Eet by Mzoli’s – Gugulethu

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.