Dink mooi oor emigrasie

reis-lughawe-wag

Foto: StockSnap/Pixabay.com

In September 2017 het Kanadese media berig oor ’n Suid-Afrikaanse gesin wie se aansoek om vlugtelingstatus in Kanada misluk het. Die man, vrou, twee van hulle kinders en haar ouers het in 2016 op besoek aan familielede na Kanada gereis. Tien dae ná hulle aankoms het hulle om vlugtelingstatus aansoek gedoen op grond van die aantal misdaadinsidente waaronder hulle deurgeloop het. Dit was naamlik ’n voertuigkaping in 1995; plaasaanval in 2004; huisbraak in 2013; motordiefstal en poging om ’n selfoon te roof in 2014. Hulle het aangevoer die gebeure was haatmisdade en dat hulle geteiken is omdat hulle wit Afrikaners is.

Beide die Kanadese Immigrasie- en Vlugtelingraad en die Federale Hof het hulle aansoek van die hand gewys. Laasgenoemde se uitspraak was dat alle Suid-Afrikaners onder misdaad deurloop en dat ekonomiese oorwegings, eerder as ras, die gebeure veroorsaak het. Hoewel toegegee is dat Suid-Afrikaanse misdaadsyfers hoog is, het die hof herinner dat Kanada se vlugtelingwet nie voorsiening maak om aan almal skuiling te bied wat onder moeilike omstandighede in hulle lande van herkoms gebuk gaan nie, maar juis om mense wat onder spesifieke kategorieë vervolging deurloop, by te staan.

Die doel van dié artikel is nie om oor die meriete van die besluit debat te voer nie. Wat van meer belang is, is om mense te herinner om, indien hulle sou besluit om te emigreer, deeglik te besin en vir alle gebeurlikhede voorsiening te maak.

Vlugtelingstatus

Soms hoor ’n mens gerugte dat skares mense al vlugtelingstatus op grond van gebeure in Suid-Afrika verkry het. Kanada word dan as een van die bestemmingslande genoem. Die feit is dat daar van Januarie 2013 tot September 2017 slegs 32 Suid-Afrikaners was wat vlugtelingstatus verkry het. Dit is bitter min mense. Diegene wat onsuksesvol was, het derduisende rande verloor en sal moeilik in die toekoms na enige bestemming buite Suid-Afrika kan reis, omdat hulle paspoorte nou met die onsuksesvolle aansoek gemerk sal wees wat hulle as ’n risiko vir onwettige immigrasie etiketteer.

Selfs mense wie se aansoeke suksesvol is, het dit nie noodwendig maklik nie. Vlugtelingstatus of asiel is nie ’n kortpad-immigrasieproses nie. Dit is bloot ’n vergunning deur ’n ander regering om tydelik (en dit is belangrik) skuiling daar te vind op hierdie regering se voorwaardes tot die situasie waaroor jy gevlug het, verbeter. In sommige lande behels die voorwaardes dat jy in ’n kamp of ander voorgeskrewe behuising moet tuisgaan en nie veel vryheid van beweging het nie. In ander word jou reg om te werk beperk. Plaaslike inwoners is soms baie onvriendelik. Jy mag uiteraard nie veel reis nie en veral nie terug na die land van herkoms gaan nie – nie eens wanneer ’n ouer of kind daar te sterwe kom nie. Les bes, sou die plaaslike regering op enige gegewe oomblik besluit dat dit beter in jou land gaan, mag hulle jou daarheen terugstuur. Jy kry nie outomaties die reg om aan te bly nie, selfs al het jy geen kind, kraai of eiendom meer in die land van herkoms nie.

Dus, vlugtelingstatus is ’n opsie wat net in die mees desperate noodsituasies oorweeg moet word.

Pasop vir goeie nuus, goeie ervarings en goeie raad

Mense wat die groot stap wil neem om permanent na ’n ander land te verhuis, verlaat hulle dikwels op goeie nuus – met rampspoedige gevolge. Goeie nuus van vriende en familie wat reeds elders is, moet objektief beskou word. In die eerste plek is hulle dalk net positief omdat hulle almal tuis die hartseer wil spaar om te weet hulle sukkel. Nou stuur hulle net die mooi foto’s en vertel van die goeie tye. Kyk op die vele Facebookgroepe wat ander mense sê en weeg alle opinies mooi op voor die goeie nuus jou oortuig om te gaan. Onthou ook om hulle geaardhede en belangstellings met jou en jou gesin s’n te vergelyk. As een gesin sportiewe ekstroverte is en die ander leesgierige introverte, gaan hulle dieselfde bestemming uiteenlopend ervaar.

’n Goeie besoek as toeris is ook nie gelyk aan ’n goeie verblyf nie. Vergelyk die temperature, weersomstandighede, endemiese siektes, plaaslike gewoontes en selfs infrastruktuur soos elektrisiteitsvoorsiening en toegang tot die internet.

Goeie raad van diensverskaffers moet ook nie sondermeer aanvaar word nie. Kry verwysings voordat daar duur vir dienste van immigrasiespesialiste betaal word. Daar is baie skurke wat voornemende emigrante uitbuit, en omdat dié soort bedrog oor grense heen plaasvind, kan hulle selde gevang word.

Sorg vir Plan B

Mense sal nie sommer in die motor spring en van Pretoria af Kaap toe verhuis sonder werk, geld of blyplek in die pyplyn nie. Snaaks genoeg is daar sowaar mense wat so emigreer. Die soort stories het selde ’n gelukkige einde. Sorg vir voldoende geld, werksopsies, blyplek en kennis voor enige tasse gepak word. Mediese noodgevalle, aanpassingsprobleme, gesinskrisisse, egskeidings, veranderde immigrasiewetgewing, skielike werksverlies, natuurrampe of ’n broodwinner se dood kan ’n mens oornag in ’n vreemde land gestrand laat sonder die veiligheidsnetwerk van jare lange vriende en familie. Daar is geen repatriasiefondse of organisasies wat vir gestrandes betaal om na Suid-Afrika terug te keer nie – as jy self nie kan betaal om weer terug te gaan nie, sal geliefdes dalk moet opdok, of jy kan selfs in aanhouding beland. Maak voorsiening vir Plan B – as alles vlot verloop, het jy tog niks verloor nie?

Ten slotte, sorg vir ’n testament wat geldig is in terme van alle lande waar jy bates het of waar jou minderjarige kinders woon. Weer eens is dit min moeite wat baie hartseer kan voorkom.

Slotsom

Migrasie is eie aan ons tyd – die wêreld word kleiner en daar is Suid-Afrikaners in alle uithoeke van die aarde. Min van hulle kom erge teenspoed oor, maar selfs een gestrande Suid-Afrikaner is een te veel, veral as dit iemand na aan jou hart is. Vir mense wat emigrasie oorweeg, is hierdie riglyne hopelik van waarde om beter beplanning te doen en ingeligte besluite te neem.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers, Reis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

41 Kommentare

Israel ·

Luk 22:36  Toe sê Hy vir hulle: Maar nou, wie ‘n BEURS het, laat hom dit neem en so ook die REISSAK; en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en ‘n SWAARD koop. 

Hier se Christus duidelik aan sy dissipels wat om te doen in die swaar tye wat kom , as jy kan bekostig om te “reis” vlug dan eerder , maar as jy nie kan nie, koop vir jou n swaard ten alle koste , soos Hy se , al moet jy jou klere verkoop om jouself te bewapen

Theresa ·

Dankie, Alana
Goeie inligting. Laat mens ook besef dat die hoop op verbetering hier in Suid-Afrika moet aanhou. Maar met die misdaad en moord, is dit bitter moeilik om die liggie in die tonnel te sien.

Burger ·

Iemand het eendag gese , emigrasie werk net as jy na weg gaan met vrede in jou hart. As jy kwaad weggaan , sukkel jy, want jy bly kwaad . Die nuwe land vat nie die kwaad weg nie.

Kiepie ·

Ek sê altyd as jy hardloop, sorg dat jy NA iets toe hardloop, moet nooit weghardloop van iets af nie. As al die mense wat deur die jare ge-emigreer het al daardie energie en koste spandeer het aan oplossings vir die probleme in die land was ons almal (hulle ingesluit) nou baie beter af.

Jaco Weber ·

Kiepie, daardie is baie, baie ware woorde. Mens sou ‘n stelling kon maak dat baie (hopelik nie die meeste nie?) vd mense wat reeds weg is net weggehardloop het en in elk geval nie enige bydrae kon lewer tot verbetering nie. Die vraag is net of die wat nou nog hier is die regte kwaliteit het om die wa deur die drif te trek.

Marike ·

Burger, ek ken bittermin emigrante wat geemigreer het omdat hulle kwaad was. Daar is ongelukkig heelwat wat die land moes verlaat omdat hulle misdaadslagoffers was. So die emosies agter hul besluit was grotendeels trauma, verlies, pyn en hartseer. En nog ‘n interessante punt is dat emigrasie grotendeels gaan oor ‘push’ en ‘pull’ faktore. Suid-Afrikaners wat emigreer verlaat die land agv faktore (i.e. misdaad, korrupsie, ens) wat hulle stoot om te emigreer, en nie omdat daar ‘pull’ faktore in die ander land is wat hul aantrek nie.

Ian ·

Wel Alana Bailey, op hierdie stadium lyk Afghanistan na n beter land as SA. Die dinge wat hier aangaan is nie aanvaarbaar in enige ander land op aarde nie. Wit volk, trek!

Francie ·

Jy weet hoegenaamd nie wat die omstandighede in Afghanistan is nie.

Eish ·

Te oud en te arm vir die avontuur. Dit is steeds vir goedgekwalifiseerde jongmense, asook diegene wat vermoënd is, n alternatief. Die oorgrote meerderheid van ons, is ek bevrees, is gestrand en moet maar die misdaad, diskriminasie, verarming en agteruitgang van die land, aanvaar as n gegewe. Saamleef daarmee en saamstaan op mikrovlak behoort oorlewing grootliks te verseker.

Ou Hoofrede Vlakvark ·

Dokumenteer en dateer die hoofrede waarom jy in Suid-Afrika wil of moet bly of die hoofrede waarom jy na daardie spesifieke land emigreer. En maak vrede met die besluit. En moet nooit ander se besluite kritiseer nie. Niemand het al die kennis in pag nie. En weet alle lande word toenemend multi-kultureel. Sela, amen en oor en uit.

Eensaam ·

My enigste kind, my skoonseun en my hart se punt my kleinseun het 10 jaar terug geemigreer! My lyf het hier in SA gebly maar my hart is by my kinders. Hoogs gekwalifiseerd en tog in die 10 jaar al twee keer “retrenche”. Baie onsekerheid en spanning! Gras is nie altyd groener in die vreemde nie, daar is ook maar probleme en werkloosheid. Maak seker dit is ‘n groot stap en baie hartseer ouers wat agterbly in SA. Vra my ek weet!! Baie trane!!

Johanna ·

Ja die leemte in mens se ouerhart word nooit weer gesond nie. dit is baie hartseer. ek is self in daardie bootjie en so ook baie ander ouers en families.

Chris ·

Ook intensief “na alle opsies” gekyk en tot die slotsom gekom, dat die gras altyd groener aan die ander kant van die draad is. Van misdaad, lewensverlies, werkloosheid en wat se redes ookal, kan niemand my vertel nie. By oop grafte gestaan van geliefdes wat almal op plase doodgeskiet is. CV’s aan 147 ondernemings gestuur. Ek kritiseer nie mense wat groener weivelde soek en vind nie, ek is bly vir julle en hoop dit gaan goed. Ek praat hier met die wat hier agter gebly het. My vraag is meneer, mevrou wat doen jy om dinge vir jouself “maklker” te maak. Wat se verwagtinge het jy en wat wil jy hê? Jy staan elke dag hopelik op jou knieë en jy woon kerkdienste in jou gemeente by. Wat en tot wie bid jy? Nadat jy God bedank vir al die seen en ganade, vra jy hopelik tweedens vir vergifnis en kwytskelding van God se toorn oor jou as sondige mens. Derdens smeek jy vir Sy genade, barmhartigheid, vrede en liefde. Jy staan op of stap uit die kerk of huis uit en jy en jou kennisse skel en spreek verdoemenis oor jouself uit oor die situasie in die land. Jy maw stel ‘n mosie van wantroue in teen God, in wie se ore jy skree en kerm vir hulp. My beskeie mening is, maak vrede met God. Smeek vir Sy genade en leef om Hom te behaag. Dit raak dan meer draaglik en makliker. Glo my, ek was daar.

koos ·

pas jou cv aan. ek het 2 universiteitsgrade. dit het teen my begin tel met werk soek. toe haal ek een af. ek het ook opsommings oor werksondervinding aangepas. As ek dit nie gedoen het nie, was ek vandag nog werkloos.
met n wit vel in SA moet jy NOOIT kieskeurig wees oor werk nie. al is dit nie gebaseer op jou opleiding of ondervinding nie. wees net BLY jy het werk wat die pot aan die kook hou

John ·

Dis ‘n moeilike kwessie soos destyds aan die Kaap toe die Trekboere begin oppak het om nuwe weide te soek en selfs die predikante die Trekkers verdoem het omdat die gemeentes sou leegloop en die inkomste/salaris van die dominee sou krimp. Diegene wat kan of wil agterbly sal altyd diegene met vergesigte bang- en afpraat. Miskien moet AfriForum tog begin voelers uitsteek na lande wat in noodgevalle ons sal kan huisves. Stedelinge sonder werk wat boonop bedreig word, het niemand op aarde wat vir hul omgee in tyd van nood nie. Selfsug vier hoogty in tye van hoogdrama en dan is dit elke man vir homself… tensy ons Afrikaners ons harte jeens mekaar versag.

Eish ·

Dit, John, is nou in my boek, praktiese raad en n nugtere gevolgtrekking. Ek sou self graag instansies van ” Laaste hoop” wou sien opskiet sodat ons met waardigheid kan verarm. Die selfsuggogga loop en vet word juis vanweë ingesteldheid op oorlewing.

Afrikaanse Knaap ·

Ek het ‘n mooi youtube video gesien van die “Boer van Migdol”, waarin hy uitwys dat die Bybel se dat jy versprei gaan word reg oor die aarde, en dat God se swaard jou sal volg.
Ek het vrede gemaak met my verdelg deur ander volke.

Johan ·

Vergelyk temperatuur en weeromstandighede? Werklik? Sjoe. As die weer die ergste ding van i nuwe land is dan het jy baie goed gekies. Wat van ‘n land wat jou nie haat omdat jy wit is nie? Wat van ‘n land wat nie teen jou diskrimineer omdat jy wit is nie? Wat van ‘n land wat nie die nr 1 vir geweld en verkragting ter wêreld is nie? Wat van ‘n land waar die burgers nie alles afbreek bemors en jou blameer nie?

Ons is oppad en kan nie wag om in ‘n veilige skoon wit land te bly nie.

Henry ·

Veels geluk en alle voorspoed word jou en jou mense toegewens.
Julle neem die regte besluit.

Kiwicoza ·

Ai Johan.
Ek is bly jy het ‘n besluit geneem.
Van iemand wat 16 jaar terug getrek het; los asseblief die “ras bril” in SA.
Ek is seker jy is nie een van daai wat ons oud Suid Afrikaners hier kom “embarrass” in ons nuwe tuiste nie.
Sterkte, onthou emigrasie is nie vir sussies nie!

RJW ·

Glo my dit is nie net blankes wat so voel oor SA nie. Ek is ‘n kleurling en ek het al gewonder of ek nie dalk aansoek kan doen vir immigrasie by ons buurland Botswana nie. Dit is darem nog een van min lande in Afrika waar wetsgehoorsamigheid heers.

Stan ·

RJW kom Sydney, NSW toe! Sou jy belangstel, join een van die expatriates OZ websites en kry resente inligting en advies van hulle af ?

Rln ·

Ek is nou 10 jaar in NZ… Hierdie is baie goeie raad vir enige een wat wil emigreer. Jy kan nie net op n vliegtuig klim en hoop alles is reg aan die ander kant nie… doen deeglike ondersoek en maak seker jou inligting is korrek. Ek het eers kom kyk, toe besluit, werk gesoek en seker gemaak ek val in n kategorie om Permanente Verblyf te kry. Baie kom oor met n visa en dan moet hulle terug gaan na die verval van die visa omdat hulle nie kwalifiseer vir permanente verblyf nie, ek sien en hoor hartseer stories gereeld.

Nooit eendag spyt ·

Ons bly nou 13 jaar in NZ. Het in 2003 kom vakansie hou en terug gegaan SA toe, opgepak en nog nooit een dag terug gekyk nie. Ons het onlangs Burgerskap gekry en is gelukkig in ons aangenome land. Ons enigste berou is dat ons nie vroeëer oorgekom het toe ons jonger was nie.

Alana Bailey ·

Dankie Rln, dis presies waaroor die artikel gaan: nie of jy moet emigreer of nie, want dis elke mens se persoonlike keuse. Dit gaan oor hoe jy moet emigreer indien jy besluit om te gaan. Na 27 jaar se werk met emigrante en immigrante het ek al vele hartseer stories beleef. Duisende verhuis met sukses, maar ‘n paar kry teenspoed en dan is daar gewoonlik geen hulp nie. As ‘n paar wenke soos bo mense slimmer kan laat beplan, kan die hartseer dalk voorkom word. Johan, weer is geen geringe saak nie – ek het al verskeie mense se selfmoord beleef omdat hulle in SA nooit enige gesondheidsprobleme gehad het nie, maar in die Noordelike halfrond se lang en donker winters SAD gekry het, ‘n seisoenale depressie. As hulle gesinne vooraf hiervan kennis geneem het, sou hulle dalk die simptome herken het en betyds hulp gekry het. Ook het ek beleef hoe Nederlandse immigrante met groot opoffering na Nederland moes terug omdat een van hulle kinders ‘n veltoestand gehad het wat nooit ‘n probleem in Nederland was nie, maar opgevlam het in SA se sonskyn en hitte. So weer is nie net ‘n kwessie van gerief nie. Dit geld vir baie kwessies en is waarom ‘n mens vooraf huiswerk moet doen en aanvanklik ‘n neseier moet hou om te kan terugkeer as dit moet. En ‘n testament om jou geliefdes te beskerm. Kry jy dit nie nodig nie, het jy mos niks verloor nie?

Koos ·

Ek sit in Kanada en die poilitieks werk so. Hulle sal muslims wat nie engels kan praat nie en baie van hulle is ongeletterd help. Nie vir ons nie. Dis wereld politiek. Die meeste muslims in europa het nie werk nie en lewe op government grants maar hulle sal jou nie help nie. Daar is n beweging in die wereld aan die gang om van protestante wat blank is minder te maak.In Amerika sal hulle muslim vlugtelinge van die midde ooste help maar nie christene vlugtelinge nie.

Thomas ·

Klink my daar waar jy in Kanada “sit” voel jy nog steeds verontreg? Miskien moet jy ophou kla en iets positief begin doen…

Boeseun ·

Werk net as jy nie n westerling is nie. Nuwe apartheid, no westerners alowd in western counties, het ek dit reg? Of moet ons met n skuit daar as land?

Therese van Schalkwyk ·

Ja Boerseun,
Westerse lande het hierdie onverklaarbare drang om ten alle koste en so vinnig as moontlik te diversifiseer en multikultureel te raak. Dis regtig verstommend om dop te hou en enigeen wat dit waag om daarteen kapsie te maak, word behoorlik verdoem tot by Hitler in sy ‘bunker’.

Wie weet, eendag in die verre toekoms sal daar moontlik ‘n verklaring vir hierdie vreemde verskynsel wees?

Wat emigrasie betref, slaan Alana Bailey egter die spyker op die kop.

Nouja ·

Emigrasie is ‘n persoonlike saak. Diegene wat kan of wil of moet, go for it. The world has become too small to remain at one place your whole life. Wees sommer ook bereid om so gou moontlik te assimileer ten opsigte van taal, kultuur en politiek en sport. Indien jy dit nie kan of wil doen nie, gaan dit sukkel gaan. Emigrasie gaan oor meer as net n fisieke skuif na elders, dit gaan ook oor die vermoë om psigies te emigreer van die verlede. Indien jou familiebande en historiese begasie swaarder weeg as die redes hoekom jy kwansuis wil emigreer, is jy gedoem om stert tussen

Hannah ·

Sjoe…ek het nou al die kommentaar hierbo deurgelees – nerens kom ek iemand tee (met uitsondering van Israel ) wat enigsins melding maak daarvan dat GOD bepaal waar elke nasie sal woon en hoe lank hulle sal bestaan. HANDELINGE 17 : 16 “Uit een mens het HY al die nasies gemaak. HY het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. HY het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon.” HY het tog vir ons met ‘n doel hier op die Suidpunt van Afrika geplaas. Ek het soveel vrede in my hart daaroor. In 2007 het ek die voorreg gehad op Europa te besoek. Ek wil nie daar bly nie. PSALM 91 is my wapenrusting! Voorspoed, seen, goedheid & guns vir almal van julle!

Jurie Kotze ·

Alana en Hanna
Julle is altwee reg, ek is agv my werk in die buiteland werksaam alhoewel ek in SA bly en nie heeltyd daar hoef te wees nie. Ons doen geologiese navorsing op die seevloer van die aarde en as gevolg daarvan kom ek in al die lande en eilande inkluis, ek was nognie in Rusland nie en beplan ook nie so nie.
Op hierdie aarde is daar maar geen plek soos SA nie, ek glo dit kan bitter moeilik wees ook in SA en deesdae amper dodelik gevaarlik,Ek baklei en sterf eerder in my eie land met my rug teen die muur , die finansiele oorweging is seker vir meeste mense te moeilik maar die belangrikste is in die kop, Ons doen net dinge anders, ‘n Sondag is anders , dit reen anders, dit donderweer anders en nog duisende dinge !
Ek ondervind die buiteland of uiters koud of uiters warm al het ons ook slegte weer in SA gesien maar dis gewoonlik van korte duur.
Ek was nog nooit in my lewe ‘n reisiger nie en het geen begeerte gehad om ooit daaraan te moes deelneem nie, die mens en natuur op ‘n dokumenter “elders” is op my eie rusbank en kussing duisend maal beter en my eie kooi is naby. As ek moet weggaan is ek depressief soos ‘n koshuiskind , (ek was een ) op ‘n Sondag aand wat moet terug koshuis toe.

Riena ·

Ja, kom ons bly hier en maak van “hier” `n beter plek. Tussen familie en vriende waarvan ons hou en sommer baie kinders! Dit skep `n visie en ambisie om ons eie omgewing te verander na iets goeds. As ons buitengewoon vermeerder kan ons die juk van die onderdrukker afgooi soos in Egipte van ouds. Uit die monde van kinders en suigelinge kan Hy sy sterkte grondves.

Louis ·

Ons woon nou al 15+ jaar hier in Kanada – en ons woon lekker hier, desnieteenstaande klagtes oor die weer, ens. Die besluit om te emigreer was nie ligtelik geneem nie, want dit is ‘n baie duur proses. Ons is bevoorreg om my volle familie hier te kon kry, insluitende my ouers. Ons familie het intussen gegroei met ons kinders wat hier getroud is met Kanadese en so het kleinkinders ook bygekom. Ons het wel ons swaarkrydae ook gehad, maar as ek terugkyk besef ek weereens hoe geseënd ons was met die skuif na Kanada.

Chris ·

Ons woon al 14 jaar in Australië. Gevind dit is die mense wat ‘n land maak. Australiërs het hulle harte en huise vir ons oopgemaak. Ons gesin is geseënd en bevoorreg om hier te kan wees. Ons kinders floreer op universiteit en hulle het soveel geloof (en sien so uit) na hulle toekoms in hierdie wonderlike land.

Yolanda ·

Ek is een van daai persone wat net op die vliegtuig geklim het met my tasse. Ek het baie teespoed gehad en gelukkig het ons n hele paar rand gehad wat gehelp het met elke nuwe struikelblok, want dit kos baie. Ek is nou n burger van my nuwe land en die verlede het ons sterk gemaak.

Gerhard ·

Ek dink daar moet ‘n onderskeiding getref word tussen vlugteling en emigrant. Ek weet meeste Afrikaners wat emigreer voel soos vlugtelinge, maar die meeste lande het wette wat verouderd is en nie werklik vandag se vlugtelinge noodwendig reg defineer nie. Verder is dit ook so dat politiek ‘n rol speel en dit moeilik sal wees om jouself as deel van ‘n verdukte groep kan bewys. Moet nie staatmaak om as vlugteling te probeer emigreer nie. Dit sal amper verseker sleg uitdraai. Verder is dit ook so dat jy beter af is om jou emirasie baie goed te beplan. So wees voorbereid en doen dit reg. Sommige mense maak die fout om nie goed genoeg te beplan nie a.g.v. goeie ervarings van ander. Dit is ook so dat ander weer te maklik afgeskrik word deur slegte ervarings waarvan hulle hoor. Aan die einde van die dag het jy een van drie keuses. 1. Assimileer in die groter Afrika kultuur van Suid-Afrika. 2. Emigreer. 3. Begin aan ‘n Volkstaat bou. Persoonlik dink ek no. 3 sou die beste resultaat he as dit sou werk, maar soos tyd verby gaan vir dit om te gebeur is dit no. 2 wat oorbly en as jy regtig ongelukkig is keuse no. 1 al wat oorbly vir jou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.