Dobe se grenspos

Argieffoto (Foto: Pixabay)

By ʼn Afrika-grenspos moet jy tog nie jou humeur verloor nie. Nee, vat dit rustig en bly kalm. Dit het ek op die harde manier geleer. Een Oktober ry ek weer safari in Botswana. Iewers teen die moerasse verloor ek my goedkoop leesbrilletjie. En Clicks lê ver vorentoe. Só sukkel ek vir vyf dae aan.

Toe kom ons een middag weer daar by Dobe-grenspos aan. Die Botswana mense waai ons ewe vriendelik hulle land uit en op die warmste deel van die dag stop ons aan die Namibië kant. Oudergewoonte is my papierwerk mooi in plek en ons draf die werksaamhede in die kantoortjie gou-gou kaf. Nou vir die laaste stuk grondpad tot by Roy’s Camp daar neffens Grootfontein.

Toe ek in die Ford klim, kom stap so ʼn groot konstabel-antie na my kant toe. Sy vra ewe vriendelik vir die papiere van die bakkie en ek oorhandig sommer die hele kaboedel vir haar. Sorgvuldig gaan sy alles na en beloer toe die lisensieskyfie op die voorruit ook. Alles is skynbaar reg. Maar, kondig sy aan, sy wil graag die enjinnommer nagaan. Ewe gedienstig maak ek die masjienkap oop en beduie in die rigting van die metaalplaatjie wat daar vasgekap sit. Natuurlik kan ek geen woord raaklees op die lamlendige ding nie en net daar vat die antie vlam. Nou wil sy oplaas die nommer op die enjin self bevestig. En ek het geen idee waar om eers te begin soek vir daai nommer nie.

Ek wil eers omstaan met haar, maar sy gooi my plat met die beskuldiging dat ek moontlik ʼn enjin in Francistown gesteel het en dit in Maun laat inbou het in die bakkie. Ek staar haar stom aan. Maar toe lui die klokkie in my kop. Sy soek ʼn omkoopgeldjie en hierdie boer glo daaraan om iets te kry as hy betaal.

Ewe rustig vertel ek haar dat ek bietjie swaksiende is en dat my bril gebreek het. Verder dat ek byna sterf van die hongerte en boonop dors ook is. So, as sy my sal verskoon, sal ek haar vertrou om die nommer te soek. Ek bied ewe vroom aan dat ek die ghrênd pen wat ek in my hempsak het, sal uitloon vir die ou wat eerste die enjinnommer kry.

Daar neffens staat ʼn pragtige groot boom en ek haal vir kampstoeltjies en opvoutafeltjie uit en pak die koue vleise, brood en nattighede uit. Toe maak ons drie ons tuis en begin rustig eet. Die antie is nou in ʼn hoek vas, so sy tree ʼn klomp tjomme aan en hulle soek daai nommer. Party is later onder daai Ford en beloer die enjin van alle kante. En dis stilwarm.

Ons was skaars klaar met ons tweede broodjie toe kondig sy aan sy het die nommer gekry en sy bevestig dis die oorspronklike enjin. Toe ek verneem waar die nommer nou eintlik sit, beweer sy dis doer diep aan die onderkant amper teen die ratkas. Ons los die soekery toe maar daar. Met groot omhaal het ek die prys oorhandig en toe is ons vort weswaarts.

Ek glo nie daai antie sal maklik weer vra vir die enjinnommer nie. Maar hoe dit ook al sy; gee die arme siele net genoeg riem en hulle bou hulle eie galg. En moet tog nie jou geduld laat opraak nie, dan kom jy ver in Afrika.

Soos die keer toe ek ons paspoorte misplaas het. Ek en die Duitser het twee stelle paspoorte. Seker onwettig, ek weet nie, maar van die goed het ons visums vir besoeke aan die magtige Koninkryk van eens en ook vir die matige State. Maar die goed is al vol maar die visums sit daar. So storm ons weer van Jan Smuts-lughawe vir die Botswana-grens maar in my oorhaas het ek die ou paspoorte ingepak. Gekom by Martin-se-Drif en daar sit ons turf. Praat mooi en die mense daar reik vir ons tydelike paspoorte uit. Ons is deur die grens, maar toe ons vir Botswana vat, vra die antie daar hoe die Duitser dan vir twee weke in Botswana wil bly maar haar tydelike paspoort is net vir een dag geldig. Ek bekyk myne en sien dis ook vir een dag geldig en het betaal vir drie maande. Wat nou?

Ek los die Duitser en die toeriste net daar en ry terug na die Suid-Afrikaanse kant, maar toe ek die brug nader, begewe my moed my want dis weer lank staan en mooipraat en geldjies uithaal en die kinders kreun juis daar van die universiteit se kant. So ek trap die bakkie dood daar en verander sommer self die paspoort en teken met omhaal langsaan. Nou nie “Koos” nie maar “Musi” of “Jacob” of so iets. Sit om en ons is mak-mak Botswana in. Ek swyg natuurlik dood oor my onwettigheid.

Doer by Kasane se pos beloer die Duitser haar tydelike paspoort en herken die handskrif. Toe is die skrif aan die muur en sy belowe my ʼn egskeiding as hulle haar iewers vasvat. Maar ons is Zim in en uit en toe Nam in en uit so met vervalste paspoort en al. “’n Boer maak ʼn plan”. So maak mens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jordaan ·

By daardie einste Dobe grenspos moes ons ons lekker vleis gou seël in ‘n pan oor die gasstoof voor hulle ons laat gaan het, anders was die volgende paar nagte net broodjies of so

Henko ·

Speel altyd dom en vriendelik wanneer jy met geregsdienaars te doene kry. Dit streel hul brose ego’s.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.