Drome van ʼn wit Kersfees

Eg "Heidi"-huisies is oral te sien in Europa Foto: Marianne Styan

Eg “Heidi”-huisies is oral te sien in Europa Foto: Marianne Styan

Desembervakansies met bloukolle is nie algemeen vir Suid-Afrikaners wat van seevakansies hou nie.

Maar vir mense wat al in die sneeu geski het, is bloukolle maar een van die klein opofferings om te maak vir een van die lekkerste vakansies wat ʼn mens kan hê.

My hart trek elke Kerstyd met ʼn punt na die sneeubedekte berge van Europa. Ek trek maar swaar deur die jaar, want ek eet minder, koop minder klere en bly in die kleinste woonstel denkbaar, sodat ek kan spaar om elke jaar te gaan ski. Sien, ski word maklik ʼn “verslawende” ervaring.

Terwyl ski duurder is as om Durban of Kaap toe te gaan vir twee weke oor Kersfees, is daar maniere om dit goedkoper aan te pak.

Daar is deesdae heelwat verskillende opsies van plekke, pakkette en tye wanneer jy kan gaan ski – dit het alles ʼn invloed op die prys van die vakansie.

Die Amerikaanse, Kanadese en Australiese vakansies se prys sal hoër wees as gevolg van die vliegkaartjie daarheen en die spesifieke plek wat jy daar gaan besoek, soos byvoorbeeld Aspen in Colorado of Whistler in British Columbia.
Die Amerikaners, met hulle houthuisies en al, kry egter nog steeds nie die perfekte Europese “Heidi”- gevoel vasgevang nie.

Die slopes (hellings) is meestal meer uitdagend in Europa as in die VSA.

Europa is my gunsteling ski-plek, miskien omdat dit voel of jy regtig in ʼn ander land is, ʼn mens kan nie altyd die taal verstaan nie en moet dikwels maar met handgebare kommunikeer.

Die gevolg is dus dat jy nege-uur in die oggend warm sjokolade met “rum” in, drink omdat jy gevra het vir “Heise Schokola mit rum”, wat toe nie die Duitse woord vir room was nie… Die regte vertaling vir room, is “sahne“.

Europa se pryse is meer in die middel en jy kan altyd die Ooste of selfs Ethiopië oorweeg vir rêrig goedkoop opsies. Deesdae ook in Indië. Die slopes kan net bietjie meer uitdagend wees, aangesien dit nie so goed beplan of uitgelê of versorg word, soos in Europa nie.

Die tyd van goeie sneeu het effens verander. Kundiges meen dit is te wyte aan aardverwarming en jy is ongelukkig nie meer altyd gewaarborg van goeie sneeu in Desember nie, maar eerder in Januarie en Februarie. Dit maak gelukkig die pakkette wat aangebied word soms meer bekostigbaar, omdat dit nie meer hoogseisoen is nie.

Wanneer jy jou ski-vakansie beplan, soek vir beginner-vriendelike plekke indien jy ʼn beginner is. Dit wil sê daar is meer groen of blou slopes – dit is die maklikste.

Die oord of dorp moet ʼn goeie ski-skool hê, met lekker baby-slopes wat spesifiek vir klasse bedoel is. Hier beteken “baby” beginner.

Na ʼn lang dag se ski is dit tyd vir Après-ski – dit is natuurlik die mooi, Franse woord vir lekker kuier, dans en drankies drink om van die moegheid ontslae te raak. Baie mense gaan ski-oorde toe net vir dié ervaring.

Die lekkerste is as jy sommer met ski-skoene en al daar in die koue staan met ʼn glühwein in die hand en die dag se ski-sessie bespreek.

Die dae is baie kort en daarom is dit goed om so vroeg as wat die ski-stoeltjies oopmaak al aan die gang te kom, sodat jy die grootste deel van die dag ten beste kan benut. Dis ook die tyd vir die beste “Corduroy” op die slopes – dis wanneer die slopes se sneeu in sommige ski-oorde in mooi lyntjies plat geskraap is regdeur die nag, sodat die skiërs elke oggend op sneeu, so goed as nuut, die dag kan begin ski.

Gewoonlik sluit die stoeltjies al teen 16:00 (afhangende in watter deel van die wêreld jy jou bevind) omdat die son dan sak.
ʼn Paar oorde het spreiligte op een van hulle slopes en die nag-ski-ervaring is ook iets om nie mis te loop nie.

Miskien moet jy dalk net vanjaar jou eie ervaring gaan soek, sodat jy later in die sonnige, somer Suid-Afrikaanse maande kan terugverlang na ʼn wit Kersfees.

Lees nou Marianne se ritsgids oor ski-oorde en ski-vakansies.
Marianne Styan beleef al hierdie ervarings en bring jou reisartikel op haar eie onkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.