Droomvakansies vir ’n appel en ’n ei

Reis

Foto: Pixabay.com

Met die rand wat so swak verhandel, is dit baie moeilik vir die deursnee-Suid-Afrikaner om te reis. Plekke soos Europa, Australasië en die Verenigde State ruk omtrent ʼn mens se sak en dit raak bykans onmoontlik om dié plekke te besoek.

Die webwerf Flywise het ʼn lys saamgestel van lande wat se geldeenheid swakker as ons eie is en steeds ʼn wonderlike vakansiebestemming bied.

Thailand

Baie Suid-Afrikaners bring hul wittebrood in dié pragtige land deur. Met helder blou water, heerlike weer en ongelooflike kos, is Thailand ʼn goeie bestemming om in gedagte te hou met die beplanning van jou volgende vakansie.

  • Wisselkoers:R1,00 = 2,2 baht (Thailand)
  • Visum:Jy het nie ʼn visum nodig as jy vir minder as 30 dae bly nie.
  • Uitgawes:ʼn Daaglikse begroting van R440 sal genoeg wees vir verblyf, kos en openbare vervoer.

Bali

Bali is ook bekend onder toeriste en die woord “Paradys” word gebruik om die besondere land te beskryf. Met die wêreld se mooiste strande sal jy nie ʼn fout maak om dié land te besoek nie.

  • Wisselkoers:R1,00 = 859 IDR
  • Visum:Gratis visum by aankoms (vir 30 dae).
  • Uitgawes:R870 per dag vir verblyf, kos en vervoer.

Maleisië

Die Maleisiese wisselkoers is ʼn bietjie sterker as die rand, maar lewenskoste is laer as in Suid-Afrika. Hierdie land  is bekend vir sy geurige kos en is ʼn moet-sien-land vir enigiemand wat dié tipe kos geniet. Met ʼn pragtige bergreeks en warmwaterbronne, moet hierdie lys land op jou lys kom.

  • Wisselkoers: R3,81 = 1 ringgit (Maleisië)
  • Visum: Jy kan vir 90 dae sonder ʼn visum bly.
  • Uitgawes: R470 per dag sal vir basiese verblyf, kos en toegang tot die nasionale park dek.

Laos

Hierdie land is bekend vir sy olifante en dolfyne. Die rustige leefstyl is ook ʼn groot trekpleister. Die beste manier om Laos se natuurskoon te geniet is om op ʼn fiets of motorfiets te spring. As jy avontuurlustig is, is hierdie land reg in jou kraal.

  • Wisselkoers:R1,00 = 528 kip (Laos)
  • Visum:Jy kan ʼn visum (vir 30 dae) by die lughawe koop.
  • Uitgawes:R320 per dag sal basiese verblyf, kos en vervoer.

Kambodja

Die antieke tempels in dié land sal jou asem wegslaan, maar as jy meer as net ʼn kulturele ondervinding soek, sal die naglewe en pragtige strande ook ʼn ongelooflike ervaring wees.

  • Wisselkoers:R1,00 = 255 Kambodjaanse rial
  • Visum:ʼn 30-dae-visum by aankoms van dié land sal jou ongeveer 30 Amerikaanse dollar kos. Maak seker by die Kambodjaanse ambassade oor die pryse van visums.
  • Uitgawes:R250 per dag sal vir basiese verblyf, kos en vervoer betaal.

Filippyne

Die Filippyne bestaan uit meer as 7 000 eilande en dit sal glo 20 jaar vat as jy elke eiland wil besoek. Dit is beslis die plek vir jou as jy die eiland-gevoel wil beleef.

  • Wisselkoers:R1,00 = 3 Filippynse peso
  • Visum:Jy kan vir 21 dae sonder ʼn visum bly – maak net seker jy het 3 oop bladsye in jou paspoort en dat jou visum nog geldig is vir 6 maande wanneer jy weer in Suid-Afrika land.
  • Uitgawes:’n Daaglikse begroting van R625 sal vir ʼn enkelkamer, kos, bier en ʼn fiets betaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

GypsyZ ·

Net jammer al die bestemmings is in die Ooste – wat wel pragtig is, maar nie vir elke keer wanneer jy jou spaargeldjies saamskraap vir vakansie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.