“En toe was daar Niel”

niel-kleuterskool

Niel by die kleuterskool. Sy leerlinge praat net so ‘n krom Engels soos hy. Foto: Verskaf.

Die Chinese werk hard. Hul vingers fluit oor die sleutelbord. Vinnige Mandaryns word oor-en-weer gegooi.

I2 International Education se kantoor is ʼn miernes van bedrywigheid. Die kantoor is volgepak. Die ywerige miere sit ingeprop voor klein werkstasies. Op mekaar. Oor mekaar. Ons “vreemdelinge” sit in ʼn hoekie. Die stoele is eintlik bedoel vir kliënte, maar ons, hier by die belangrike “Customer Service Department”, het nie ʼn werkstasie nie. Dit is ek, Blanca (ʼn Meksikaan wat verlief is op die lank gestorwe Frida Kahlo), Ryan (ʼn rooi-Amerikaner wat verlief geraak het op ʼn Chinese vrou) en Brian (ʼn Amerikaner wat net met ʼn Chinese vrou getroud is om ʼn landsburger te word, maar nou sit hy opgeskeep met sy hele uitgebreide skoonfamilie). Hy stoom. Sy bleskop is skoon blou soos wat hy in Kalifornië-Engels uitvaar oor sy skoonma. Daar is Kevin, ʼn swart gay  Nederlander, wat kliphard in Nederlands oor sy selfoon praat. En dan is daar Niel …

Ons uitlandse spulletjie van verskillende kontinente, wat niks anders as maatskappyprostitute is nie, sug Ryan en vryf-vryf oor sy twee dae oue baard. Ons gee Engels en doen opleiding waar die nood druk, of dit nou by kleuterskole, middelskole,  universiteite of groot maatskappye is. Net Ryan, Brian, ek en Kevin praat Engels grammatikaal korrek.

“Julle sal volgende week elkeen ʼn werkstasie kry,” piep ons Britse baas, Graham, van oor die stapels boeke wat hom verdwerg. Hy is ʼn klein mannetjie met min hare en ʼn sagte stemmetjie.

En toe is Niel skielik daar. Lenig, donker. ʼn Oekraïner met ʼn aksent swaarder as die vodka waarvoor die Russe so lief is. “I were forst out of my own county. In 2014 when the Russians came to kick us in the nuts,” sê hy.

“Sorry, I do not understand you,” sê Ryan, wat nie kop of stert van die vodka-aksent kan uitmaak nie.

Niel verstaan ook nie lekker nie en hy begin praat oor sy meestersgraad (nogal in pedagogie). Al die “vreemdelinge” het meestersgrade, maar nugter alleen weet waar hulle dit in die hande gekry het. Blanca het byvoorbeeld haar meestersgraad aan ʼn obskure universiteit in Mexiko voltooi. In Mexikaanse kuns, spog sy.  “Yes,” vodka Niel al agter Blanca aan, wat nog erger as hy klink. Sy klink soos ʼn brandende rissie wat in water gedoop is. Dit is nog moeiliker om haar te verstaan as vir Niel.  “But I love dee arts too. I want to be opera.”

“Regtig, Niel,” vra ek, dik van die lag. “Were you a singer back home?”

“Yes, I am single. Very much single,” sê hy en gooi so ʼn leepoog na my kant toe. “No, Niel,” begin ek verduidelik. “Can you sing? Are you a singer?”

“Single, very much,” sê hy en skuif al hoe nader.

Teen dié tyd is Ryan al bloedrooi soos wat hy probeer om nie hardop te lag nie. Ná tien minute van “single”, “single”, staan ek op en begin opera sing.

“O, yes,” verstaan Niel uiteindelik. “Was a single back home. You want to see.”

En vir die volgende tien minute word ek en Ryan op arias uit Russiese operas getrakteer. Ons kan onsself nie meer inhou nie en bars hardop uit van die lag.

“I am glad you enjoy. This is from Russian comedy,” sê Niel heel ingenome met homself.

“I have to go now. To the kindergarten,” sê Niel en net so vinnig soos wat hy verskyn het, verdwyn hy weer.

“Aren’t you suppose to speak, write and read a decent English to teach?” vra ek vir Ryan wat steeds lag. “Nee, dit maak nie saak nie. As jy wit is, kan jy Engels in China gee, maar dit is waarom nóg Niel nóg Blanca vir tieners of volwassenes sal Engels gee. Hulle kry die kleintjies.”

Ek lig ʼn wenkbrou.

Niel hoef net green, yellow en one and two te ken. Daar word niks meer van hom verwag nie.

Twee dae later stap Niel weer die kantoor binne.  Dié keer het hy ʼn klein Chinese dogtertjie aan die hand. “I want to brag,” spog Niel. “She could not speak dee English when she first joined my class. But now she speak English better then I.”

Die dogtertjie, seker so vyf, klap haar handjies en uit haar mondjie kom ʼn vodka-aksent.  “Me speak English just as teacher,” sê sy.

Ryan laat sy kop in sy hande sak. “ʼn Nuwe Chinese generasie wat met vodka-aksente gaan praat, gaan die wêreld binnevaar.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann Marx ·

Jy’s reg, Jan. En Nammawan se trawante het vir hulle Malls gebou….waar hulle sommer in hulle winkeltjies slaap, vir NIEMAND ‘n btw faktuur gee as jy daar koop nie, geen belasting betaal nie, en elke sent van ons reeds verswakte geldeenheid wat die Mammies so graag daar spandeer, gaan reguit terug China toe…in een dik stroom. Die kwaliteit van hulle produkte is swak, GEEN waarborg op enige aankope nie, geen omruilings of terugbetalings nie, en geen bewys van transaksie nie…en hulle skep GEEN werk nie…behalwe vir hulle families. Hoe bevoordeel hierdie situasie die land?

Chris ·

Afrika se nuwe base, oor 15 jaar is ons n chinese staat. Hulle 50milj plus..

Bosbok ·

het ek nou lekker gelag vir die lekker-lees artikel ! Single……singer ha ha ha ah ah

Theresa ·

Ek het nou gelê soos ek lag omdat van ons vriende in China engels gee en boonop het ek ‘n russies skoondogter!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.