Engele in Istanbul

Istanbul

Foto: Adéle Changuion

Daar is twee soorte reisigers. Aan die een kant is daar die soort wat alles haarfyn beplan: Kaarte word bestudeer, basiese frases word in die landstaal aangeleer en daar word bereken watter kos om te eet en hoeveel jy daarvoor moet betaal. Dis altyd lekker om saam sulke mense te reis want alles verloop seepglad en jou vakansie is sorgvry.

En dan is daar aan die ander kant mý soort reisigers: Die vliegkaartjie en verblyf word betaal, en dis dit. Wanneer ʼn mens op hierdie manier reis, verloop dinge nie altyd so glad nie…

Toe ek byvoorbeeld in Istanbul land, was ek baie opgewonde, nie net omdat ek in ʼn nuwe land was nie, maar omdat ek weer die grond kon sien. Wanneer ʼn mens ʼn vrees vir vlieg het, is jy altyd dankbaar as die vliegdeel verby is.

Die taxibestuurders by die lughawe weet presies waar al die hotelle in Istanbul is, wat wonderlik is, maar ek het nie in ʼn hotel gebly nie, en dit is hoekom my taxibestuurder verdwaal het. Ek het elke ekstra minuut in die taxi geniet want Istanbul in die aand is iets besonders om te aanskou. Die duisende stadsligte en moskees wat saans gloei was die beste verwelkoming. Die bestuurder het naderhand opgegee en my uit sy taxi geskop. Dit klink dalk erg as ek dit só stel. Hy het stilgehou, my bagasie uit sy kattebak gehaal en beduie dat ek moet uitklim.

Dit was donker en koud – dit was my eerste gedagte. En toe sien ek twee seuns wat ʼn baie goeie vertolking van mafia-handlangers sal kan lewer. Ek wys toe vir hulle die papier met die adres op (want Engels het hulle nie verstaan nie). Hulle vat toe my tas en daar gaan hulle. As hulle besig was om my te beroof, het dit eintlik maar stadig gegaan. Ek volg hulle toe in ʼn donker gebou in en loop agt stelle trappe boontoe. En daar maak ʼn jong seun die deur oop – ek het die heeltyd met ʼn vrou gekorrespondeer, so dit was ook ʼn verrassing gewees. Ek het ingegaan en hy het die huis vir my gewys. My kamer was ruim, mooi en skoon.

Ons is toe ʼn mengsel van mense wat in die huis bly. ʼn Student van Irak, ʼn ingenieur van Turkye, ʼn sakeman van Frankryk en ʼn bejaarde vrou van Australië.

Dit was amper weer soos in my koshuisdae.

Die volgende dag is ek 06:00 uit die vere. Nie uit vrye wil nie, maar omdat ek langs ʼn moskee gewoon het. En 06:00 word daar gebid, baie hard, oor luidsprekers. Maar ná die vyfde dag het ek dit nie eers meer gehoor nie en salig elke oggend tot 08:00 geslaap.

Istanbul het ʼn ongelooflike vervoerstelsel wat baie goedkoop is en wat jou oral vat. Moenie die taxi’s gebruik nie: Hulle is duur en party van die taxibestuurders buit ʼn mens uit. Of so hoor ek by my huismaats toe hulle hoor hoeveel ek betaal het.

Dis ʼn groot lekkerte om in Istanbul te verdwaal. Ek het op verskeie moskees en die mooiste kerke afgekom. My gunsteling-area is Sisli. As jy lief is vir musiek, boeke, kuns en lekker kos, is hierdie die plek vir jou. Ek het in ʼn musiekwinkel gestap en vir die man gevra of ek op een van sy kitare mag speel. Hy het sy kop geknik en vir my ʼn kitaar aangegee. Nadat ek so ʼn bietjie gespeel het, gaan haal hy een van sy eie instrumente en begin speel. Hy speel en sing te pragtig, maar toe hy klaar is, wys hy dat dit weer my beurt is. Ek het sommer vir hom “Dancing in the Dark” gesing. ʼn Mens kan nooit verkeerd gaan met ou Bruce nie.

As ek nou terugkyk op die twee weke in Istanbul, is daar baie stories om te vertel oor die argitektuur, die kos en die markte, maar een ding is gewis: Daar was engele saam met my in Istanbul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Coral Gerber ·

‘n Ongelooflike ondervinding vir jou Adele Jy is ‘n baie dapper dame. Gee ons asseblief nog stories van jou belewenisse

Pieter ·

Vir my die interesantse was die totale gebrek aan grafitti, die netheid, vriendelikheid en die trotsheid op hul nasionale vlag

Donovan Theron ·

Die is sekker die derde brig wat ek in my lewe lees so ek het geen agtergrond om goeie kommentaar te lewe oor ‘n berig alhoewel ek kan sê wat ek dink.

Vir my raak die berig aan vaktor wat dalk nie sigbaar is nie.

‘Die Engele’ in my opinie is dit Adéle se leweslis, vriendelikhied en bereidheid om nuwe dine te sien. Dit trek sekker mens aan. Adéle sou nie met die vrou wat gekorrespondeer, student van Irak, ingenieur van Turkye, sakeman van Frankryk of die vrou van Australië gesels het indien sy nie die eienskappe uitgebeëld het nie. Die man wat wys nou moet jy weer gitaar tokkel en sing dit sou nie gebeur het indien Adéle nie gevrae het om met een van die man se gitaar te speël.
Dit laat my dink aan ‘n gedagte wat my fader my geleër het “beauty is in the eye of the beholder”(dit is wat jy sien van lewe wat vir jou as person mooi is). Dink net indien almal die selfde was werêld sou so verveelig gewees het. (bv. ek sou daai twee seuns gerol het wat my bagasie gryp)

Musiek, boeke, kuns en lekker kos is wat mense by mekaar brig plaas dan of ‘n glimlag by en in my opinien is daar meer kaanse dat jy beskerem(die engele) word.

‘n Opregte glimlag het geen taal of kultuur nie…

Sarina ·

So mooi geskryf Adellie! Ons is dankbaar dat jy veilig was en veilig terug is.

Akram ·

Genugtig. Die berig is goed geskryf. My dogter studeer tans in Instabul. Dinge is net anders, sy geniet dit en as jong mens is daar nie n tekort aan vermaak nie. Haar onderhandling tegnieke het baie verbeter as toe sy by ons in Dares Salaam was. sy geniet dit en se ook dat die besienswaardighede baie besonders is. Die vervoer stelsels is in plek en dit werk reg. As student beweeg sy ron, maar het nog nie die hele plek gesien nie. Ons beplan om die jaar daar te gaan “kuier”. Sien uit na dit.

Alma ·

Sjoe, dit klink heerlik!
Maar is dit NOU veilig om daarheen te gaan?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.