Florence – die blom van Italië

Uitsig oor die Ponte Vecchio-brug oor die Arno-rivier Foto: Marianne Styan

Uitsig oor die Ponte Vecchio-brug oor die Arno-rivier Foto: Marianne Styan

Florence is spesiaal.

En nie net omdat Michelangelo en die hertogin van Cambridge, Kate Middleton, hier studeer het nie. Albei dié bekendes het vir hulself op verskillende maniere, in Florence ’n toekoms uitgekerf wat hulle name in die geskiedenis verewig het.

Dié plek doen dit aan jou. Dit inspireer ‘n mens.

Florence het ‘n misterieuse gevoel. Dit is ‘n prutpotmengelmoes van geskiedenis, kuns en kultuur wat soveel het om aan te bied dat jy ten minste ‘n week nodig het om dit behoorlik te “proe”. En dan wil jy langer bly om dit te waardeer.

Die stad is ryk aan asemrowende oomblikke danksy meesterlike argitektuur en kunswerke oral op uitstalling. Die Santa Croce Gotiese-kerk is dus paslik die laaste rusplek van ‘n groot aantal van die wêreld se bekendste kunstenaars, digters, argitekte en filosowe, insluitend Michelangelo, Leonardo da Vinci, Dante en Galileo Galilei.

Die hoofplein of Piazza – in die hart van die stad – is die beste plek om jou ontdekkingsreis te begin. Dit is waar die marmer-geklede “dame” staan – die katedraal wat duisende toeriste na die stad lok: die Santa Maria del Fiore Duomo. ‘n Argitektoniese wonder van haar tyd met haar dubbele koepel, vergelykbaar met die St. Peter’s-katedraal in Rome.

Net verder af in die pad is die Piazza Singoria geleë – ʼn opeluggalery wat besoek kan word sonder enige koste. Hier kan jy pragtige beeldhouwerke aanskou, wat Neptunus se Fontein en ‘n replika van die Dawid-beeld insluit.

Asof dit nie genoeg is nie, is die wêreldbekende Uffizi-galery die piazza se buurman en dit roep jou na binne om ook sy skatkis van kunswerke te sien. Wees gewaarsku, jy het amper ‘n hele dag nodig om jou pad deur die hele museum te loop. Moenie iemand wat nie ’n kunsingesteldheid het hierheen neem nie… dit kan die einde van ‘n verhouding beteken!

Langs die Uffizi lê die Arno-rivier, geliefkoos deur ‘n reeks brûe waarvan die bekendste heel moontlik die Ponte Vecchio is. Dié brug se pikante winkels is deesdae uitstal-areas vir juwelierswinkels, maar in vorige eeue het dit aan die slagters van Florence behoort. Hierdie brug is ook die beste plek om ‘n Florence-sonsondergang vas te vang.

As jy fiks voel, lei die brug jou oor die rivier in die rigting van die Piazza Michelangelo waar jy ‘n pragtige uitsig oor die hele stad kry. As jy nie lus is vir ‘n stewige stap nie, kan jy net daar omdraai in die rigting van waar jy gekom het en jouself gaan oorgee aan ‘n soet, stroperige warm sjokolade in die wintersmaande, of die bekende Gelato (Italiaanse roomys) in die somersmaande. Beide is beskikbaar by meeste straatkafees.

Vir ‘n laaste moet-sien, stap jy terug in die rigting van die Duomo, deur die piazza na die anderkant, op met die Via Riscasoli. Aan jou regterkant vind jy die weggesteekte ingang (ek is altyd verbaas hoe moeilik dit is om te kry) van die Galleria dell’Academia wat die regte Dawid-beeld huisves. Die galery is gevul met pragtige werke, meestal geskep deur Michelangelo, maar niks kan egter vergelyk word met dié hoof aantrekkingspleister nie.

“Hy” staan in die ere-plek, aan die einde van ‘n lang gang – die Dawid, perfek. Dit is op só ʼn manier geplaas dat jy elke spier en toonnael in die fynste detail kan inspekteer. Jy voel nederig om te weet Michelangelo het ‘n hele paar jaar van sy lewe toegewy om die perfekte replika van ‘n jongman uit die marmer “vry te laat”. Volgens hom was Dawid reeds in die marmer, hy moes hom net vrymaak.

Aan die einde van my tyd in die stad, snuffel ek rond in ‘n vlooimark by die bekende Il Porcellino of Arno-varkie, vir unieke aandenkings. ‘n Ou gedig kom in my kop op, wat die gevoel wat ek oor die stad koester bewoord…

Italy is the garden of Europe,
Tuscany is the garden of Italy,
Florence is the flower of Tuscany

Voor ek die mark verlaat gaan gooi ek vol verwagting ʼn muntstuk in die fontein langs die Arno-varkie en vryf sy neus. ‘n Ritueel wat sal verseker dat jy eendag na Florence sal terugkeer.

Doen dit. Dit werk vir my… elke keer.

Ritsgids:
– Dit is baie moeilik om alles te sien as jy min tyd het, en daarom moet die stad aangepak word met goeie beplanning en ‘n goeie kaart. Minderbekende plekke soos Michelangelo se huis, sy pragtige Florence Pietà in Museo dell’Opera del Duomo en ‘n verskeidenheid onbekende kerke (bv. San Lorenzo en Santa Maria Novella) moet ook ingereken word in die beplanning.
– Een ding hoef jy egter nie oor te bekommer in die stad nie en dit is kos… Die Italianers hou van eet en om elke hoek en draai is daar ‘n heerlike restaurant of klein kafee wat jou nooi om in te kom. Twee restaurante wat ek verseker sal aanbeveel is i’Toscana (hulle tuisgemaakte spaghetti en ravioli is heerlik) en Buca Poldo, wat geleë is in ‘n kelder naby aan Piazza Singoria (probeer hulle Penne alla Casa).
– Die Galleria dell’ Academia (Dawid-beeld) is gesluit op Maandae. Ek moes dit al op die harde manier uitvind…
– Ek glo die lekkerste warm sjokolade word verkoop by Caffe delle Carrozze. Ek sal aanbeveel dat jy dit saam met iemand deel, want dis stroopsoet!
– Jy kan nie Florence verlaat sonder om een keer Gelato te eet nie. Ek sal Vivoli’s, Gelateria della Passera en Gelateria La Carraia aanbeveel maar eintlik dink ek gaan jy ver moet soek as jy slegte roomys in Florence wil kry…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.