Foto’s: Afrika op sy beste – ʼn pasgemaakte vyfster-safari

Die gasheer Peter Hayward. Foto: Hayward’s Grand Safari Company.

Peter Hayward, eienaar van Hayward’s Grand Safari Company en avonturier in eie reg, se eerste vraag aan sy kliënte is gewoonlik: “Ons het ʼn vyfster- safari lodge wat net uit tente bestaan, waar wil jy hê moet ons dit vir jou opslaan?”

Daarna sal Hayward, Celia du Preez, produksieregisseur, en hul span byna geen moeite ontsien om aan hul gaste die beste ervaring te gee van ʼn ware eertydse Afrika-safari nie; al beteken dit ook hulle moet die laaste 50 bottels Gray Goose-vodka in Suid-Afrika bymekaarmaak en dit vir hul 200 gaste se drie dae van pure kampgenot invlieg.

Maroela Media het self ʼn voorsmakie gehad van wat hierdie bekroonde mobiele kampoperateur vir sy gaste kan bied.

Ons word uitgenooi om self Hayward’s Safaris se hoofkwartier – wat 40 minute buite Pretoria en net ʼn uur se ry van Sandton of OR Tambo Internasionale Lughawe is – te kom besoek.

Die mobiele kampterrein lê in die Boekenhoutskloof naby Cullinan, net anderkant die Krokodilspruit, in die hartjie van die Dinokeng-natuurreservaat van Gauteng. Die wolke dreig om weer uit te sak en alles is grasgroen want die provinsie het pas sy eerste goeie donderbui gehad.

Volg jy die sinkplaatpad na Hayward’s word jy vinnig bewus van hoe die natuur jou vinnig omvou net so ’n hanetree van die stad se besige gevoel.

Onder ʼn boom begroet Du Preez jou vriendelik (sy het self gedurende jou rit seker gemaak of jy nog op koers is), ʼn heerlike koel mengeldrankie met kruisementblare en heuning, en ʼn gids in tradisionele drag wat jou vir ʼn staptog deur die lang grasse neem.

Later verduidelik Hayward om die kampvuur hoekom hy sy gaste laat stap na die terrein en nie sommer by die “voordeur” aflaai nie.

“Ons gaste is gewoonlik die mense wat nie sal skroom ʼn 60 tot 70 uur in ʼn week te werk nie. Hul koppe is maar altyd aan die gang en by die werk. Hierdie staptog – van ongeveer 5 km – verseker dat almal in liggaam en siel in die hier en nou teenwoordig is.”

Hayward wil hê sy gaste moet elke oomblik van hul vyfster-ervaring geniet. Hy en sy span neem vyf dae om ʼn 200 bed-kamphotel enige plek in Suider- of Oos-Afrika op te stel en dit is dikwels ʼn een-keer-in-ʼn-leeftyd-ervaring in ʼn stuk natuur waar geen ander besoeker al ʼn voet neergesit het nie.

Om jou hande te was word ‘n volwaardige seremonie op ‘n Hayward’s safari ervaring. Foto: Hayward’s Grand Safari Company.

Die operateur glo daaraan om ʼn tradisie met sy gaste te deel wat dateer uit die dae toe die eerste Portugese verkenningsekspedisies voet aan wal in die Afrika-vasteland gesit het.

Elke pasgemaakte safari bestaan uit 400 ton-toerusting wat gebruik word om die kampe mee op te slaan en wat sowat 36 000 ander goed (van silwer soutlepels tot wit konferensieborde) insluit. Dit alles word na die kliënte se gekose kampterrein vervoer.

Hierdie unieke ervarings word in plekke soos die Wieg van die Mensdom, of enige plek langs Suid-Afrika se 3 000 km-lange kuslyn aangebied.

Wil jy in die Okavango-delta wees of iewers in die Namib? Hayward’s sal dit vir jou reël in totale luuksheid, toeganklikheid en styl.

Hulle is ook een van die enigste safari-operateurs wat toestemming het om private safari-kampe in ekologiese sensitiewe gebiede soos die Nasionale Krugerwildtuin en iSimangaliso-wêrelderfenisgebied in KwaZulu-Natal op te slaan waar jy nie ʼn ander toeris met ʼn oog sal sien nie.

Van Hayward’s se gaste sluit in die televisiepersoonlikheid Oprah Winfrey, wat saam met hulle gekamp het om beleggings in onderwys in die jeug van Afrika te ondersoek. Die koning en koningin van Nederland tel ook onder hul gaste en die span het Dire Straits op die verhoog in die middel van die woestyn gehad as deel van ʼn spesiale 60ste verjaardagpartytjie.

Peter Hayward wil ook vir sy gaste die geleentheid bied om meer te leer oor Afrika. Hier hoor hulle meer oor die skatkis van speserye van die vasteland. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Dié operateur het al erkenning ontvang vir bekendstellingsgeleenthede van nuwe motors – onder meer die bekendstelling van ʼn nuwe Ferrari saam met ʼn trop leeus en bekende viertrekvoertuie se gewildste handelsmerke. Hulle al saam met maatskappye soos Investec, Standard Bank, Toyota en Anglo American gewerk om besonderse dinkskrums, unieke sake-omgewings vir aanbiedings, voorsittertoekennings- of aftreegeleenthede aan te bied.

Hayward het in die vroeër negentigs sy bedrywighede begin waar hy filmspanne uitgeneem het om ikoniese advertensies soos dié van Camel-sigarette en Audi te verfilm.

Hayward vertel tong-in-die-kies hy het vinnig besluit geen gas kan meer veeleisend wees as ʼn regisseur nie. Dit is sekerlik waarom hy nie skroom om sy safari-diens aan staatsmanne, koninklikes, beroemdes en sakelui te lewer nie.

“By Hayward’s is ons almal daarop ingestel om ongeëwenaarde herinneringe en ervaringe aan mense voor te sit, terwyl die span agter die skerms besig is om 16 000 oester voor te berei, of die toevoer van 30 000 liter water te koördineer, of ʼn nuuskierige trop olifante deur die tentkamp te begelei,” sê Hayward.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.