[Foto’s] Blomwonders van die Weskus

Weskus Nasionale Park (Foto: Carina Stander)

Dis Septembermaand. Ons kies koers verby die Boland se aronskelke. Die Swartlandse berge is verkreukeld en grys soos olifantvel. Koringvelde, spikkels skape en wit hartbeeshuisies. Wes lê die Weskus, oos waak die Winterhoekberge, Heuningberg en Olifantsrivierberge.

Vanaf Augustus versprei die blomkoors geleidelik vanaf die Noord-Kaap na die suide. Aanddou en winterreën verander die landskap in ‘n hemelse rotstuin. Maar 2017 was ‘n droogtejaar, ons hoor die blomme is skaars in Namakwaland en Boesmanland. Daarom is ons hier om die Weskus in haar lenteliefde te beleef.

As jy net één Weskusnaweek tot jou beskikking het – waarheen mik jy? Postberg! Postberg-reservaat is binne-in die Weskus Nasionale Park en slegs oop vir die publiek in die hoogblomtyd vanaf 1 Augustus tot 30 September. Ek en Gerrit was twaalf jaar laas hier en dis die eerste keer dat ons die blomtyd met ons seuns deel. Saam durf ons die daglange Steenbok-wandelpad aan. Die beste blomkyktyd is tussen 10:00 en 15:00 op warm, windlose dae met die son van agter. Gousblomme wapper in die wind. Skelpienk vygies vou oop. Ons sesjarige Ilantjie Plantjie hop soos ‘n hasie in die paadjie af. Hy verkyk hom aan blomme wat lyk soos dwerghuisies en bokhorings. Hy loer vir ‘n skilpad wat ‘n geel blom vreet. Hy help ‘n skilpad wat op sy rug lê, weer op sy voete. Vyf-en-twintig skilpaaie, tel hy.

Weskus Nasionale Park (Foto: Carina Stander)

Die middagblomme maak óóp – diep oranje. Blomme met wit randjies, stervorme met spikkels.  Ek doop die fyn blomme “deernisblommetjies”. Ons stap en huppel, sit en lê in die paadjies. Oral die soetreuk.

Die granietkoepels is bruin en rond. Hier ís iets oer aan die landskap. Middagetenstyd klouter die seuns die Vingerrotse uit. Eet piesangbrood en kersietamaties in die skaduwee van die rots.

Verby volstruise en bergkwaggas in ‘n rivier van ligpers blomme. Drie elande. Tarentale en bergpatryse. ‘n Valk windsweef bo ons koppe. Vier pelikane vlieg see se kant toe. Ysblou water. Spierwit duine. Bloedrooi malva. ‘n Biesie steek in Ilan se neusie en laat dit bloei – Gerrit dra hom ‘n entjie. My hart gloei toe ons tienjarige Aden-seunskind laat hoor: “Mamma laat my dink aan die pers lobelia. Sy is fyn, maar taai. Sy is donker, maar helder.”

Weskus Nasionale Park is ongeveer 120 km vanaf Kaapstad. Die park is 47 457 hektaar waarvan 32 000 hektaar die terrestriële gebied is en die res is marinegebied. Dit sluit die Langebaan-strandmeer in wat habitat is vir 250 voëlspesies – ‘n kwart van Suid-Afrika se voëlspesies! Hier sal jy somerbesoekers vind wat tot 15 000 km vanaf die Siberiese Tundra migreer en ruite, strandkiewietie, wulpe, griete, oestervangers, swarttobies, kormorante, ‘n kolonie pikkewyne en flaminke.

Weskus Nasionale Park (Foto: Carina Stander)

Diegene met ‘n Wildcard het gratis toegang tot die Weskus Nasionale Park. Die Postberg-gedeelte van die Park (waar die Steenbok-staproete en meeste blomme is) is slegs oop vanaf 1 Augustus tot 30 September. Slegs 20 mense per dag word toegelaat op die Steenbok-roete, daarom open besprekings reeds in Junie. Dis ‘n dagstaproete sonder ‘n gids en die afstand is 13,9 km. Die koste is R75 per persoon. Bespreek betyds by Weskus Nasionale Park: 022 772 2144 of besoek die webwerf.

Tuis by Thali-Thali

Laatmiddag toe ons Thali-Thali binne ry, wip ‘n steenbokkie oor die stofpad. ‘n Paar emoes pof hulle vere. Amalia van Niekerk kom groet ons met skitterblou oë en ‘n warm Weskus-verwelkoming. Thali-Thali is ‘n 1 460 hektaar wildreservaat, ongeveer twintig minute se ry vanaf die ingang van die Weskus Nationale Park. Terwyl ons iets koels in die opelug-lapa drink, strek die dag geelbeen oor die horison.

Tydens ‘n staproete of wildrit kan jy koedoe, eland, sebra, springbok, swartwildebees, rooihartbees, duiker, kameelperd, kameel, bontebok, steenbok, volstruis en emoe hier by Thali-Thali sien. Boogskutlesse word op ‘n skietbaan aangebied en is geskik vir beginners tot ervare skutte.

Thali-Thali, Weskus (Foto: Carina Stander)

Vir verblyf kan jy kies tussen ‘n groot ou plaashuis, selfsorg-chalets of ruim huistente gebou bo-op klipmure. “Glamping”, word dit genoem: “glamorous camping”. Om te kampeer in ‘n huistent met ‘n kandelaar bo ‘n sagte dubbelbed; om warm te stort en soggens die ketel te kook vir oggendkoffie op die stoep en daarna ‘n stewige ontbyt in die lapa te geniet… Dis nou nie dat mens lui is vir gewone kampering nie, maar genugtig, dis darem baie gerieflik wanneer dit koud of reënerig is of as jou reistyd skraps is en jy die tyd wat dit gewoonlik neem om kamp op te slaan, eerder wil gebruik om die omgewing te verken. Hier is gelukkig geen televisie in die tente nie, dus kan jy steeds ‘n tegnovrye wegbreek geniet.

Elke tent het sy eie braaiplek van klip. Ons tienjarige seunskind pak die vuur en braai wors oor die kole. Die sonsondergang is vygiepienk. Ons rol die digterlike streeksname van die veldplante in die mond: kelkiewyn, spogfluweel, kalossie, tamarak, gifkool, ganskos. So gesels ons oor die onwerklike mooi.

Die volgende aand, nadat ons die Steenbokroete gestap het, is ons ‘n bietjie voetvoos en ‘n ysige wind waai – veels te koud vir braai. Ons verwarm onsselwers by die vuurhert in Thali-Thali se restaurant terwyl ons smul aan vrygewige porsies van eg-plaaslike kontreikos: beestong met soet mosterdsous, vars plaasbrood, sagte eland wat op die plaas gejag is. Die restaurant is oop vir publiek en Sondae se potjiekos-buffet is glo baie gewild. Bespreek betyds by Amalia: 082 372 8637 of vonkpos: [email protected] of besoek die webwerf.

Weskus Nasionale Park (Foto: Carina Stander)

Beplan jou blomtoer vir 2018!

* Weskus Nasionale Park en Thali-Thali buite Langebaan is uitstekend! (Kontakbesonderhede hier bo.)
* Wandel deur dié blomvelde buite Darling: Wayland, Contreberg, Oudepost, Slangkop, Tinieversveld. Die Veldblomskou word sedert 1917 in Darling gehou. Weskus-toerismekantoor: 022 433 8505.
* Duskant Yzerfontein pronk pienk bokbaaivygies.
* In Mamre blom aronskelke rondom witgekalkte huise en die Morawiese sendingkerk van 1808.
* Besoek Elandsbaai vir branders, blomme en Verlorenvlei – een van weinig varswatermere in die land waar pelikane, lepelaars, bleshoenders, flaminke en kiewiete broei.
* Die vissersdorpie, Lambertsbaai, se duisende stinkende malgasse het ‘n eiesoortige bekoring. Malgaseiland het een van slegs ses broeikolonies van dié spesie ter wêreld.
* In Namakwaland bied Goegap Natuurreservaat se Hester Malan Veldblomtuin ‘n skouspel van 580 plantspesies, 45 soogdierspesies en 95 voëlspesies. Namakwaland Nasionale park se Skilpad-natuurreservaat spog met madeliefievelde. Bekyk Springbok se Klipkerk van 1921 en Springbok Lodge se versameling van 900 minerale en edelgesteentes.
* In Boesmanland: Nieuwoudtville se rotskuns, sandsteengeboue en waterval. Die Veldblomreservaat of Oorlogskloof-natuurreservaat. Die kokerboomwoud is onvergeetlik.

Lees alle vorige rubrieke deur Carina Stander op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Heidi ·

Fernkloof Natuurreservaat te Hermanus vier vanaf 22 – 25 September 2017 hul 60-jarige bestaan! ‘n Heerlike, vol program is saamgestel vir jonk en oud…selfs ‘n slanghanteerder gaan jou leer oor slange; uitstappies; kompetisies, natuurkunswerkgeleentheid, blomme uitstalling en die tentoonstelling van 400 spesies is saamgestel! EN ‘n heerlike teetuin. Daar gaan blomme te koop wees en vele meer. ‘n Vol program van 9vm tot 5nm. Slegs R25 toegang vir volwassenes en kinders onder 12 gratis. Kom kuier vir ons! Jy wil dit verseker nie mis nie…regtig! Kom bietjie weg van die rekenaar en tablette en kom leer en waardeer die natuur saam met jou gesin, terwyl jy die varste, skoonste sjampanjelug inasem. EN boonop is dit ook walvistyd by ons.

Denise ·

Al die blomme laat my dink aan die gedig Oktobermaand hoeveel keer het ek die gedig moes opse en dit bly nog steeds vir my n baie mooi gedig!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.