Foto’s: Die Franse vulkaan-eiland

Foto: Carina Stander

Hierdie is deel 3 van ʼn gesinsreis deur Mauritius en Réunion deur Carina Stander.Lees deel 1 hier en deel 2 hier – Red

Negeuur die oggend klim ons uit die vliegtuig by Réunion en huur dadelik die goedkoopste tjor beskikbaar: ‘n wakker Franse nommertjie met slegs 13 km op die kerfstok. Réunion is deurdrenk van Franse invloed. Dit was immers ‘n onbewoonde eiland toe Frankryk dit in die middel van die sewentiende eeu geproklameer het. Vandag is dit steeds onder die Franse sambreel en een van die welvarendste eilande in die Indiese Oseaan.

Ekologies is die eiland baie beter bewaar as haar buurvrou, Mauritius. Ongeveer 40% van Réunion is Wêrelderfenisgebied. Die ware natuurwonders van die eiland is die cirques: drie aardtrogte gevul met valleie, woude en versteekte bergdorpies. Cirque de Salazie is die natste van die drie. Binne ‘n uur tel ons veertig silwer watervalle wat uit die berge tuimel, elk so hoog soos ‘n wolkekrabber. In ‘n stadium woerts ons onderdeur ‘n waterval – Gerrit skakel gou die reënveërs aan! Al ry die motoriste hier beskaafd, ís die pad verregaande steil, die draaie verduiwels skerp en daar is afgronde waar sypaadjies andersins sou wees. Omdat dit so baie reën, hou dié slote weerskante van die paaie dit in ‘n goeie toestand. Die berge lyk soos katedrale waarvan net die spitse bo die mistigheid uitsteek. Geheimsinnig. Betowerend. Skrikwekkend. Ons laerskoolseuns, wat op vakansie geen selfoonspeletjies speel nie, roep uit: “Die berge lyk soos Minecraft maxed!”

Hoog bo in die berge van Cirque de Salazie koop ons Franse fluitbrood en ‘n tros piesangs. Ons stap deur die strate van die Kreolese sprokiesdorpie, Hell-Bourgh. Byna elke houthuis het ‘n varantgue (stoep) vir koelte, balkonne van gegote yster, dakkamers en lambrequins (kantagtige houtversierings) bo die stoepe. En dis bont – oranje mure met groen hortjies of blou mure met wit hortjies. Selfs in die nederigste huisies se tuine tros dit van die aandblomme, purperwinde, bromelias en orgideë.

Foto: Carina Stander

Laatmiddag in die Sud Sauvage (Wilde Suide) hou ons stil by ‘n swart lawaveld van 6 km wyd. Le Grand Brûlé, noem hulle dié spokerige lawavlakte. Pioenierplante soos varings begin hulself tussen die swart klip inwriemel, want ná ‘n lawavloed is die grond besonder vrugbaar. Dis veral duidelik by Jardin des Parfums et des Epices: ‘n 30 hektaar-plaas met vanielje, gemmer, kaneel, vrugtebome en 3 hektaar botaniese tuin. In die namiddaggloed wandel ons deur dié reëntuin waar 1 500 plantspesies in die ou-ou vulkaanklip floreer. Bosreuse, rankers en blomme soos swerms geel vogeltjies aan ‘n tak.

Seweuur die volgende oggend draai ons by ‘n eg Franse boulangerie (bakery) vir oondwarm amandelcroissants, rosyntjiespirale en fluitbrood-gevul-met-hoender. Met dié ontbytkos gaan piekniek ons langs Rivière Langevin. Die rivier kerf deur die vallei en vorm donkerblou swempoele. Dis ‘n stil Maandagoggend – hierdie smal en steil pad sal histeries wees op besige naweke. Die waterval, Cascade de la Grande Ravine, sliert in elektriese blou strale uit die kranse, bo-oor ‘n muur van varings en verdwyn in ‘n blougroen poel. My dag is gemaak…

Weerskante van die N2 is palmbome en suikerrietvelde. In die verbyry sien ek ‘n kerkie met brandglasvensters wat gloei tussen die mure van swart lawaklip. Ongeveer 70% van Réunion is Katoliek. Die vulkaanmuseum, Cité de Volcan, is hipermodern en interaktief; ons leer allerlei interessante dinge oor vulkane, maar na my mening is dit ‘n aks te duur.

Foto: Carina Stander

Réunion verdien sy bynaam, Klein Hawaii. Voor die geboorte van ons kinders was ek en Gerrit vir twee maande in Hawaii vir werk en ja, daar is baie ooreenkomste tussen die eilande: magtige berge, lawavlaktes wat geboorte gegee het aan vrugbare woude, saffierblou vulkaanringe om in te snorkel en van die aktiefste vulkane op aarde. Plaine des Sables is die bergpas na die enigste aktiewe vulkaan op Réunion wat ongeveer elke tweede jaar uitbars. Ons huurtjor knor die slingerpad uit, deur sederwoude en fynbosagtige struike tot hoog bo in die berge. Die lawaplein hier bo is iets anderwêrelds. Dit was lank, lank gelede ‘n lawameer, nou is dit ‘n see van rooi sand. ‘n Maanlandskap. Die bergmistigheid vererger die gevoel van verlatenheid, asof ons die enigste oorlewendes op die planeet is.

Die uitsigpunt Pas de Bellecombe (2 354 m) vorm die poort na die vulkaan. Van hier klim ons 527 trappies tot onder op die verharde lawarotse wat soos die gedraaide toue van reuse lyk. Ons verbeel ons die vorms van diere in die lawa. Die buitekrater wat ons uitklouter lyk soos ‘n okerkleurige sandhoop. Van hier af kronkel die voetpad na Piton de la Fournaise – een van die mees bereikbare vulkane op aarde. Dit word goed gemonitor en heel verstaanbaar is hier geen vestings teen die helling nie. Om die 14 km na Piton te stap, neem vyf ure, want dis ruwe terrein met skeure so groot dat ‘n volwasse man die ewigheid kan in val. Die weer is ook uiters onvoorspelbaar, reën en sonskyn wissel mekaar af. Ons sewejarige klonkie kry yskoud en sien nie kans om die rowwe staproete aan te durf nie, daarom bly ek by hom terwyl sy pa en tienjarige boetie vulkaan toe draf.

‘n Paar uur later is hulle terug by die kar – kletsnat gereën en ritteltand. Hulle vertel dat hulle ongeveer 20 minute vanaf die vulkaan voorgekeer is deur ‘n groep ervare Switserse bergstappers. Dié het aan hulle vertel dat die mistigheid bo Piton op die oomblik só dig is, dat mens glad nie die krater kan sien nie en beslis ook nie die warm lawa wanneer jy oor die kraterrant in die ewigheid in afkyk nie. Ietwat teleurgesteld draai Gerrit en ons seunskind maar in hulle spore om, oorval deur ‘n hewige reënbui. Daar langs die voetslaanpad vind hulle skuiling in ‘n vreemdwonderlike lawagrot met die naam Chapelle de Rosemont. Bo die lawavelde was die dubbelreënboog soos iets uit ‘n surrealsitiese droom.

Foto: Carina Stander

REISRAAD

  • Réunion is ‘n stappersparadys! Toegang na die fantastiese nasionale parke is gratis. Tropiese siklone is van Januarie tot Maart. Mei tot Junie en September tot Oktober is die beste maande vir stap. Begin vroeg: die dae raak hoe later, hoe kwater.
  • Suid-Afrikaners kan Réunion vir drie maande sonder ‘n visum besoek.
  • Wat om in te pak vir Réunion: Klere wat vinnig droogword (die eiland is immergroen met rede), ‘n sonhoed, stapskoene, swemklere, reënjas, warm klere vir die koue pieke, kopflits, basiese mediese sakkie, insekweerder en sonbrandroom. Verpak vliegkaartjies, paspoorte, internasionale rybewys en die kinders se geboortesertifikate waterdig. Jy kan snorkels hier huur, maar ek verkies my eie snorkel. Beskerm jou voete teen skerp koraalriwwe: koop voor die tyd waterskoene vir R200 by Mr Price Sports. ‘n Kamera is ‘n moet. Réunion is meer bergagtig en minder toeristerig as Mauritius – gevolglik werk GPS nie so lekker nie, maar dis steeds nuttig.
  • Die geldeenheid in Réunion is die euro.
  • Die eilandbewoners van Réunion praat Frans en Kreools. Hulle Engels is skraps, behalwe in die hooftoerisme gebiede. Met ‘n paar Franse woorde, handgebare en ‘n wye glimlag kan jy egter vêr kom. Ons het soms Google Translate via die selfoon gebruik wanneer ons met mense gesels – heel prettig!
  • Publieke vervoer in Réunion is tydsaam en om getaxi te word is duur, huur daarom ‘n kar vir vryheid. Daar word aan die linkerkant bestuur. Die bergpasse is ‘n beeldskone nagmerrie!
  • LUX* Saint Gilles se karaktervolle Kreoolse villa-styl huise is ‘n uitstekende keuse vir verblyf. Bestuurder Stéphane Baras en haar span sal jou verwelkom met die gemaklike sjarme waarvoor die Franse bekend is. Die slaapkamers is baie gerieflik en hier is tennisbane, swembaddens, groot buitelug-skaakstelle en lekker eetplekke. Maar wat dié verblyf werklik spesiaal maak, is dat dit by die grootste en beste strandmeer van die eiland is. Hier kan jy na hartelus in die kristalhelder Indiese Oseaan snorkel en jou verkyk aan seeskilpaaie en koraalvisse. Skakel: 011 770 7821. Webwerf: https://www.luxresorts.com/en/hotel-reunion/luxsaintgilles
  • By Orangine vind jy eilandgeinspireerde disse met Franse flair. Palmhart, gerookte marlyn, eetbare blomme, geroosterde kreef en grenadella-sjokolade is van die interessante geregte waarna jy kan uitsien. Skakel: 011 770 7821.
  • Vonkpos: [email protected] Webwerf: luxresorts.com
  • Jardin des Parfums et des Epices naby Saint-Philippe in die suid-ooste is ‘n hoogtepunt. Dis daagliks oop van 09:00 tot 17:00 Webwerf: jardin-parfums-epices.com
  • Direkte vlugte vanaf Suid-Afrika na Réunion kos byna ewe veel as om eers na Mauritius te vlieg en vandaar na Réunion. Vlugte in laagseisoen is aansienlik goedkoper. Skakel: 011 601 3900. Air Mauritius se webwerf: airmauritius.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eish ·

Verruklike flora!
Nou wil die aanhangers van evolusie vir my kom te vertelle al die prag het willekeurig uit n pot kokende biotiese sop ontstaan! Eish!
Alles is geskep na sy aard.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.