Foto’s: Eendag op ʼn tropiese eiland

Foto: Carina Stander

Hierdie is deel 1 van ʼn gesinsreis deur Mauritius en Réunion deur Carina Stander – Red

Die veiligheidsvideo op die vlug van Air Mauritus is sommer ook ‘n lokprent vir ‘n eilandvakansie: In plaas van strak regulasies, wys die video suurstofmaskers wat op ‘n idilliese strand uit die lug val en mooi mense wat met reddingsbaadjies onder ‘n waterval baljaar. Dis ‘n interessante kykie in die psige van die eilandnasie – effektief, maar lig en lekker.

Die drie en ʼn half uur lange vlug gaan soos ‘n gedagte verby. Daar is ‘n tydsverskil van twee uur tussen Suid-Afrika en Mauritius en daarom, al is dit reeds donker, voel ons op en wakker. Ons huur ‘n klein tjor vir die vryheid om die eiland self te kan verken; dis boonop goedkoper en vinniger as om getaxi te word. Met oop vensters ry ons deur ‘n nag van suikerrietvelde en sterre. Lanings reusagtige vyebome. Piesangbome met waaiervormige blare. Soel, tropiese lug. Die soutige see.

Gerrit parkeer die kar onder ‘n flambojantboom wat bloedrooi blom by Tamassa, ons verblyfplek in Bel Ombre aan die suidwestelike kus. Ons word verwelkom met glimlagte, pynappel sorbet en sagte dodo-speelgoed op ons seuns se beddens.

Foto: Carina Stander

Die volgende oggend word ons wakker van die getjirp van kuifkopvogeltjies in die tuin. Buffetontbyt is ‘n fees! Ons vermy die ontbytpap en probeer alles wat ons nie ken nie: dadelsap, waatlemoensap, pynappelheuning, grenadellaheuning, groentepoffertjies. Ons verlustig ons aan die vars papaja en kokosneut. Plaatkoekies met dik sjokoladesous. Ná die croissant en moerkoffie is ons slaggereed om die eiland kaf te draf.

Tasamma beteken “partytjie” in Kreools. Hier is romantiese paartjies, maar ook talle Afrikaanse gesinne met jong kinders – mense soos ons – en ‘n swetterjoel gratis aktiwiteite soos kajak, waterski, snorkel en vaartes met die glasbodemboot, saffierblou swembaddens en natuurlik die strand. Jip, mens kan beslis lank rondom só ‘n oord rondhang, maar ons is nuuskierig en lus om die eiland te verken.

Sonskyn en reën wissel mekaar af en ons rits verby vervalle Hindoe tempels, brandmaer honde, bourommel en smal stegies wat ernstiglik verf benodig. Maar die woonbuurtes het tog ‘n eie sjarme met bougainvillia en frangipani tussen die stringe bont wasgoed en hoogswanger papajabome in die voortuintjies. ‘n Vriendin wat dekades gelede op wittebrood in Mauritus was, het gewaarsku dat dit armsalig is, maar sedert onafhanklikheid vyftig jaar gelede, is daar ‘n geleidelike dog enorme ommeswaai van suiker na teksiel en veral toerisme (verlede jaar was daar 112 129 Suid-Afrikaanse toeriste in Mauritius) en finansiële dienste (ons almal het al gehoor van iemand wat ‘n onderneming na Mauritius verskuif weens die belastingsvoordele.) Werkloosheid het getuimel van 24% in 1980 tot 6% vandag en volwasse geletterdheid is ongeveer 90%.

Foto: Carina Stander

Natuurlik kan mens nie ‘n populasie van 1,3 miljoen mense almal oor dieselfde luiskam skeer nie, maar die eilandbewoners voel in die algemeen gemoedelik, verdraagsaam en gemaklik in hul eie vel. Die politieke hormonie het veel met die geskiedenis te make: Voor die koms van Europeërs was die eiland onbewoond, daarom kan niemand aanspraak maak op eienaarskap nie. Dis ‘n eiland van inkommers, van die Portugese ontdekkers van 1507, die Nederlanders wat hul hier kom vestig het van 1598 tot 1710. (Hulle is skuldig aan die dood van die dodo, die invoer van Afrikaslawe en die aanplant van suikerriet wat soveel van die eiland se natuurskoon verwoes het.) Daarna was Mauritius onder die beheer van die Franse, gevolg deur die Britte en vandag is dit ‘n mengelmoes van volke.

Ons bottergeel huurtjor knor die bulte uit. “Julle lyk nie meer asof julle in julle veertigers is nie. Julle lyk sommer weer soos in julle dertigers, soos toe ek ‘n tjokkertjie was,” laat hoor ons tienjarige seunskind Aden vanaf die agtersitplek. Liewe ding! Op, op, op kronkel die pad na Black River Gorges National Park. Minder as 1% van Mauritius se oorspronklike woude bestaan nog, maar by dié park vind jy driehonderd blommende plantspesies wat uniek tot die eiland is.

Foto: Carina Stander

Ons is hier om die Macchabèe-woudstap aan te durf. By die inligtingskantoor word ons gewaarsku dat dit beslis gaan stormreën en ons het vergeet om reënjaste saam te bring, maar hier is ons nou – aan’t hoop en bid vir die beste. ‘n Makaak-aap trek vir ons gesigte toe ons ewe dapper stapper die 14 km-voetslaanpad vat. Ons dapperheid word beloon: ons sien ‘n hele klomp bedreigde voëlspesies, geveerdes wat nêrens anders voorkom nie soos die rooikop Mauritiuswewer (Foudia rubra). Hier is ook laksmanne en tiptolle met rooi snorbaarde. ‘n Voël met ‘n lang stertsliert swiep verby: paille-en-queue noem hulle hom, die witstert-tropiese-voël. ‘n Swerm eggo-parakiete (Psittacula eques) kwetter en skinder in die digter lower rondom ons. Al is die eggo-parakiete geselserig, is hulle uitstekend gekamoefleer. Dertig jaar gelede was hier omtrent tien wildlewende eggo-parakiete op die eiland, nou is hier 550 en Black River Gorges is die beste plek om hulle te sien. Ongelukkig sien ons nie een van die vierduisend vrugtevlermuise wat die park bewoon nie.

Die kersiekoejawels is ‘n pes wat die natuurbewaarders stuk-stuk probeer uitroei. Die inheemse woud is wel pragtig en die kinders huppel voorts deur die ebbenhouthout, verby dodobome, boomvarings en orgideë in hoë takke. Op die oorkantste berge sien ons lang, skraal watervalle. In ‘n stadium verander ons voetpad in ‘n glybaan. “Modderige Mammie” gee die kinders my ‘n tergnaam toe ek in orangoetangstyl teen die steiltes af slinger.

“Mamma moet net nie aan die grond raak nie, dan word mens nie vuil nie. Sien, mens moet net vlieg!” is sewejarige Ilan se raad.

Drie ure later is ons terug by die kar. Ietwat voetvoos, maar ons het nie ‘n druppel natgereën nie.

Die terugrit is deur mooie dorpies en suikerrietvelde. Vloedbosse teen die see. Senutergende draaie. By Tamassa gekom, duik ons oudste seun in die swembad, die jongste skoppelmaai onder ‘n bejaarde vyeboom en ek en Gerrit stap strandlangs. Skulpwit seesand. Poublou water. Palmbome. Poskaartperfek.

Permanente tatoeëring is nie vir my nie, maar vanaand kry ons gesin henna-tatoes. Dit hou net vir ‘n week en is lekker vir spanbou. Die Indiese vrou wat ons verf, vertel hoeveel sy en haar pastoor die kerkkonferensies in Suid-Afrika geniet. Sy verf ‘n blompatroon oor my hand, Aden kry ‘n cool haai en Ilan ‘n seeskilpad. Gerrit vra dat sy ‘n kompas op sy hand verf met ons gesin se voorletters as rigtingwysers.

Sielstevrede klim ons in die kooi, sodat ons uitgerus kan wees vir môre se snorkel by ‘n piepklein privaat eilandjie in die marinepark. Lees gerus volgende week verder.

REISRAAD
* Tropiese siklone is van Januarie tot Maart. April tot November is die see kalmer, dis steeds warm, maar nie drukkend nie. Wintertemperature is 18ºC – 24ºC. Die strande is stiller en verblyf is goedkoper (behalwe vir die Franse skoolvakansie vanaf vroeg Julie tot einde Augustus). Desember is dolbesig.
* Daar is oral kitsbanke op Mauritius. Dis maklik om met bankkaarte te reis (Visa, MasterCard).
* Suid-Afrikansers kan die eiland vir drie maande sonder ‘n visum besoek.
* Black River Gorges National Park is die grootste bewaringsgebied op die eiland met talle pragtige staproetes. Toegang is gratis.
* Tamassa verdien volpunte vir verblyf. Skakel Island Light Holidays: 011 770 7821. Vonkpos: [email protected] Webwerf: https://www.tamassaresort.com/ of www.luxresorts.com
* Air Mauritius is betroubaar. Direkte vlugte vanaf Johannesburg en Kaapstad. Vlugte in laagseisoen is aansienlik goedkoper. Skakel: 011 601 3900. Webwerf: www.airmauritius.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.