Foto’s: In die wonderwaters van Îls des Deux Cocos

Îls des Deux Cocos (Foto: Carina Stander)

Hierdie is deel 2 van ʼn gesinsreis deur Mauritius en Réunion deur Carina Stander. Lees deel 1 hier – Red

Dis ‘n bewolkte, sonnige oggend toe ons met die glasbodemboot oor die waterwonders van Blue Bay Marine Park vaar. Onder ons wemel dit van tropiese vis en koraal. Ekstaties roep ons seuns vir mekaar: “Kyk daar! Kyk daar!”

Mauritius het 49 piepklein eilandjies rondom die moedereiland. Van die eilandjies, soos Îls des Deux Cocos, maak deel uit van die seebewaringsgebied van Blue Bay. Die enigste verblyf op die eilandjie is ‘n pragtige honderd jaar oue Marokkaanse huis, maar dagbesoekers soos ons het gesellige grasafdakke met sagte kussings en swemhanddoeke en by die opelugkroegie kan jy soveel kokosneutskommels en ander eksotiese drankies afsluk as wat jou hart begeer.

Maar die ware wonder van Îls des Deux Cocos is die snorkel. Die koraal is minder beskadig as elders in Mauritius en die eilandman neem ons met die glasbodemboot na ‘n plek in die see waar dit van koraalvisse krioel. Hier is meer as driehonderd visspesies in Mauritius – spoedig snorkel ons tussen multikleurige papegaaivisse, vlindervisse, harlekynvisse, pypvissies, keiservisse en klipkabeljou. Partykeer is daar so baie koraalvis, dat ons mekaar skaars kan sien! Al is die kinders uiters opgewonde oor hulle eerste diepsee-snorkel in die vreemde, is hulle ook maar gespanne omdat hulle honderd meter van die naaste land af is en glad nie kan staan nie. Toe onse graad eentjie-paddabeentjie boonop agterkom dat hy die verkeerde snorkel het en daarom water sluk, is sy ontsteltenis groot. Ons tienjarige, wat tipies oudste kind aan verantwoordelikheidsin ly, skaam hom vrek vir sy kleinboet se geskrou.

Îls des Deux Cocos (Foto: Carina Stander)

“Gesinslewe is ‘n les in genade, my kind,” seg ek doodluiters en gee hom ‘n drukkie toe ons weer terugklim in die boot. “Jy kan mos nie dat die vyf woorde wat jou boetie gegil het ons vyf fantastiese ure op die eko-eilandjie oorskadu nie.” En net om dié kort lewensles te benadruk, gaan lê ek en Gerrit in die hangmatte onder die palmbome, elk met ‘n glas tuisgebroude rum waarvoor Mauritius bekend is. Ek met steranys-en-koljander-rum; hy met vanielje-en-kaneel-rum. Saksefoonmusiek speel in die agtergrond. Die seuns speel op die voorgrond in die louwarm middagson. Voilà! Vrolikheid en vrede.

Dit vat ons net vyftien minute om reg rondom Îls des Deux Cocos te stap – deur woude al langs die see. Ons maak geselsies met die eilandbewoners. Alhoewel die grootste deel van die bevolking van Indiese afkoms is, is byna almal Engels magtig. Kreools is egter die huistaal van 75% van die eilandnasie en hulle is eg trots op hulle taal en Indies-Franse identiteit. Die mense van Mauritius is in die algemeen vriendelik, saggeaard en geduldig. ‘n Tevrede volk.

Buffet middagete word onder die bome bedien en bestaan uit rye plaaslike spesialiteite soos gebraaide dorado en garnale, risotto met roomkaas, wortel met komyn en ‘n klomp soorte tuisgemaakte roomys. Ons het weer en weer gaan inskep en besluit dat kokosneutroomys die koning is!

Ná ete gaan snorkel ek en Aden weer in die lieflike strandmeer van Îls des Deux Cocos. Selfs hier in die vlakwater, skaars skouerdiep, swem ons oor koraalstekels en wys vir mekaar die gloeiblou vissies, palings, boksvissies met kolle en strepies, vis met kontoerlyne op die gesig en slierte weerskante van die stertvinne. ‘n Silwer skool sirkel om ons en ek vertel vir hom hoe ek in die saffierblou vulkaanring van Hawaii gesnorkel het toe ek met hom swanger was – ‘n seuntjie wat swem onder my hart. Hoe spesiaal om tien jaar later sy eerste groot snorkelervaring met hom te deel!

Teen vieruur die middag is ons terug by ons huurtjor. Dit was ‘n lang en lekker dag, maar watwou! die son het nog lank nie gesak nie en daarom rits ons verder. Die hoofpaaie van Mauritius is in ‘n uitstekende toestand en die padaanwysings is goed. In die ongeveer 500 km van kronkelpaadjies en hoofpaaie wat ons die week gery het terwyl ons die eiland verken, het ons net een slaggat in die pad gekry – en g’n boemelaar of bedelaar op straat gewaar nie.

Îls des Deux Cocos (Foto: Carina Stander)

By die ongerepte Valley de Ferney is dit Sondagmiddagstil. Die staproetes van die vallei is reeds gesluit vir die dag, maar ons wandel deur die tuine en verkyk ons aan die palms en tropiese blomme.

Terug by ons blyplek in Bel Ombre is ons steeds te versadig ná die enorme middagete-buffet van Îls des Deux Cocos om ‘n kriesel te kan eet. Dit voel eilandrig en eksoties om aan die einde van ‘n sondeurdrenkte dag jou tam lyf te pamperlang met Tamassa se papaja-en-mango-lyfseep, ylang-ylang-en-lemmetjie-sjampoo en sitronella-en-gemmer-lyfroom. Ons sewejarige rakker speel wegkruipertjie met die sagte dodo speelgoed wat Tamassa vir hom present gegee het – keer op keer red hy hulle van uitwissing.

Die volgende oggend is ons vyfuur op en wakker. Ná moerkoffie, veselryke lemoensap en croissants by Tamassa, kies ons koers na die lughawe. Hier is net sewentig passasiers op die vlug na l’île de La Réunion. Ek en Aden sit by venster en kyk na die reënboog bo die see en na die 2 040 km² van Mauritius wat al hoe verder wegkrimp en krimp in die verte. Oor veertig minute sal ons die vulkaniese eiland van Réunion bereik. Daar sal ek ook indrukke versamel wat gaan uitgekristaliseer in dié reeks reisartikels én in my volgende romans. Skrywers op vakansie is immers ‘n mite, ons absorbeer veels te veel op nuwe plekke om dit “verlof” te kan noem. Ek het ook nie ‘n behoefte aan verlof nie – ek soek avontuur, vreemde ervarings, nuwe inligting. Suurstof vir die storievuur. En ek weet voor my siel dat ek vars storiestof by Réunion gaan optel.

In die vliegtuig (Foto: Carina Stander)

REISRAAD
* Hoe wonderlik die vakansieoorde ook al is, sprei jou vlerke en verken die eiland! Publieke vervoer is tydsaam en om getaxi te word is duur: Huur ‘n kar vir die vryheid. Jy benodig ‘n internasionale rybewys. Suid-Afrikaners kan Mauritius vir drie maande sonder ‘n visum besoek.
* Tropiese siklone is van Januarie tot Maart. April tot November is die see kalmer, dis steeds warm, maar nie drukkend nie. Wintertemperature is 18ºC – 24ºC. Die strande is stiller en verblyf is goedkoper (behalwe vir die Franse skoolvakansie vanaf vroeg Julie tot einde Augustus). Desember is dolbesig.
*Die besoek aan Îls des Deux Cocos was my gunstelingdag op Mauritius! Spandeer ‘n idilliese dag op die pragtige privaat eilandjie wat bestuur word deur die LUX*-groep. Vonkpos: [email protected] Webwerf: https://www.iledesdeuxcocos.com/
* Tamassa in Bel Ombre is ‘n uitstekende vakansieoord vir gesinne en verliefdes. Skakel Island Light Holidays: 011 770 7821. Vonkpos: [email protected] Webwerf: https://www.tamassaresort.com/ of www.luxresorts.com
* Air Mauritius is betroubaar. Direkte vlugte vanaf Johannesburg en Kaapstad. Vlugte in laagseisoen is aansienlik goedkoper. Skakel: 011 601 3900. Webwerf: www.airmauritius.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.