Foto’s: Kaapschehoop se rykdom

Die wilde perde met Kaapschehoop in die agtergrond Foto: Marianne Styan

Die wilde perde met Kaapschehoop in die agtergrond Foto: Marianne Styan

Ek hoor die perdepote klap op die plaveisel… maar ek sien niks. Die mis is te dig.

Agter die gastehuis, waar ek bly, steek net die dennebome se punte, effens spookagtig, hier en daar deur die digte mis.

Dan hoor ek weer die perdepote en soos ‘n skim sien ek ‘n perd, ruiterloos, die ligkring van die flou straatliggie binnegalop…

Ek staan ademloos en neerkyk, vanaf my balkon, op die majestueuse dier wat vir ‘n oomblik gaan stil staan, die lug snuif en dan ‘n skril runnik gee. Die mis laat die geluid eggo om ons.

Ek hoor die veraf gerunnik van ‘n perd wat antwoord. “Die skim” draai sy kop in daardie rigting en dan verdwyn hy weer op ‘n galop in die misgordyn… asof hy net ‘n skim van my verbeelding was…

Die volgende dag word ek darem gerus gestel dat ek nie dinge sien wat nie bestaan nie… Ek sien “die skim” en sy trop weer. Hulle kom drink water by die fontein voor die gastehuis ewe mak, asof hulle nie deel is van die trop wilde perde wat die piepklein dorpie, Kaapschehoop se valleie en berge bewoon nie.

As jy nie van beter weet nie, sou jy dink dis een van die plase in die omgewing se perde wat losgebreek het, want hierdie trop wilde perde is al só mak dat die dorp se mense hulle geboue moes perd-bestand maak, anders loop hulle sommer in.

Kaapschehoop is, nes sy wilde perde, amper so skimagtig dat jy dit kan mis as jy jou oë te lank knip op jou pad tussen Ngodwana en Nelspruit.

‘n Padteken by die ingang van die dorpie dui op wat vir hierdie dorpie se mense belangrik is. Dit lui: “Ons kinders, katte, honde en perde speel hier. Ry asseblief stadig.

Die dorp mag klein wees, maar moenie dit vlak kyk nie. Dis die moeite werd om jou rit te onderbreek om jou siel hier te herlaai.

Kaapschehoop het ontstaan toe hoopvolle gouddelwers hulle rykdom kom soek het in die omgewing in 1882. Die goud en delwers is lankal weg maar die rykdom het agtergebly: hulle perde wat agtergelaat is se nageslag het die dorp se grootste trekpleister geword. Nog iets besonders is die baie skaars Blou Swaeltjie wat van ‘n ou mynskag ‘n broeiplek gemaak het.

Kaapschehoop is geleë langs die Berlin-woud in Mpumalanga. ‘n Mens kan staproetes aanpak wat wissel van twee tot vyf nagte. Die pragtige natuurskoon is die hele pad jou metgesel en natuurlik die wilde perde en, as jy gelukkig is, die Blou Swaeltjies.

Een van Suid-Afrika se perde-fluisteraars, Christo, gee vir jou die geleentheid om die woude en wilde perde van nader te besigtig op jou eie perd se rug… moet net nie in ‘n Laeveld-reënbui, vasgevang word nie… Ek was nog nooit so in twee geskeur oor of ek onder ‘n boom moet gaan staan of in die ooptes moet gaan lê nie!

Die dorpie loop oor van genoeg blyplek, ‘n paar eet-en drinkplekkies en kunswinkels. Verbasend vir so klein plekkie. Verblyf is beskikbaar van selfhelp tot pragtige gastehuise. Jy kan ook die hele dorpie uithuur vir jou troue en ewige trou sweer in die pragtige klein kapel.

Toe dit tyd raak vir my om te vertrek, draai ek my kar se neus huis toe. Die mis het weer soos ‘n knuskombers oor die vallei toegesak. Ek kyk vir oulaas in my truspieëltjie… maar die mis het die dorpie ingesluk asof dit nie werklik ooit daar was nie…

Maar dan sien ek hulle. “Die skim” en twee van sy merries verskyn deur die mis, en steek vas. Hy ruik weer die lug en gee ‘n runnik.

Dan verdwyn hulle. En ek weet my voete verlaat hierdie plek, maar nie my hart nie…

Rits-gids
• Vir enige navrae, kontak Reinette van Niekerk by 082 333 2073 of stuur ‘n e-pos na [email protected]
• Daar is verskillende opsies vir perderitte en staproetes. Albei kan deur Reinette bespreek word.
• Die verskillende akkommodasie opsies is op hulle webwerf beskikbaar
• Indien jy in Kaapschehoop en sy omgewing gaan kuier, moet asseblief nie die perde voer nie, selfs al bedel hulle by jou. Hulle bly wilde diere en kan nog steeds ‘n skop en n byt uitdeel. As die perde ook weet hulle kan bedel, loop hulle meer dikwels op die pad waar hulle dan soms omgery word. Onthou dus om ook by die spoedgrens te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Naomi du Toit ·

Baie mooi beskrywing. Ek kannie glo dat Kaapschehoop so verander het nie. Wat het van die Backpackers geword. Nl. No 1 Kruger straat?

Henrietta Klaasing ·

Baie dankie vir ‘n besonderse beskrywing – my ouma het daar grootgeword en ons het soms daar ‘n draai gemaak, baie jare gelede in my kleintyd. Toe was daar nie perde nie, maar dieselfde rustigheid en natuurskoon.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.