[Foto’s] ʼn Groen Afrika-oerwoud in die Ooste  

afrika-oerwoud-06

Ek bly in die Groen Afrika-oerwoud. Die naam van die woonstelkompleks kan letterlik vertaal word as die Groen Afrika-oerwoud. Foto: Verskaf.

Ek bly in die “Groen Afrika-oerwoud”.

En dit was ook maar net madame Fortuna wie se kaarte reggeval het, anders het ek nooit die stukkie groen paradays in die hartjie van die stad ontdek nie.

Ná vyf dae in ʼn hotel moes ek blyplek vind en my werkgewer het vir Henry Zong opdrag gegee om namens my ʼn blyplek te soek en met die huiseienaar (dit is dalk ʼn oordrywing, want niemand het huise hier nie – dus die woonsteleienaar) te onderhandel.

Dit is moeiliker om blyplek in China te kry as wat dit is om goeie diens in Suid-Afrika te kry.

Henry Zong is gay, maar sy ouers weet dit nie. Henry Zong moes die afgelope drie maande tien toe-oë-afsprake met oulike “aanvaarbare” Chinese meisietjies deurstaan.

Henry Zong praat Amerikaans met ʼn regte Amerikaanse aksent. Nie soos Charlize Theron dié taal praat nie. Eerder soos ʼn Amerikaner uit Kentucky. Met ʼn twang

Daardie Donderdag, ʼn week nadat ek Tsjengdoe met ʼn luide trompettergeskal binnegeval het, het ek begin woonstel soek.

In China moet ʼn huurder drie maande huur, deposito en dan ʼn “finder’s fee” aan ʼn agent opdok. Ek sou sowat 15 000 joean (R30 500) moes neersit.

I2 Education gee ʼn verblyftoelaag van sowat 2 000 joean (dit is sowat R4 200), maar die verblyf wat ʼn mens vir daardie bedrag kan kry, is erger as Pretoria-middestad se krotte.

Ek het dit nie geweet nie. Henry bel die agent, wat blypleke vir daardie prys het. Ons eerste stop was Tongzelin, ʼn middelklaswoonbuurt. Die agent kan nie Engels praat nie. Ons loop in doodse stilte na die eerste woonstelplek.

Ek ruik urien. Suur-bitter. ʼn Mens ruik altyd urien in Tsjengdoe, want die rioolstelsel spuit alles boontoe en nie ondertoe nie. Dan praat ek nie eens van die openbare toilette nie. Dit is gate in die grond. Jy moet hurkend oor die gat sit, maar dit is ʼn storie vir ʼn ander dag. Ek ruik ontlasting. Ek sien graffiti teen die mure. Ek hoor ʼn geskel. Woonstel een is vuil. Ontlasting teen die mure. Die meubels is stukkend. Die bed kliphard, maar dit het my nie verbaas nie, want Sjinese matrasse word van hout en katoen gemaak. Ek skud my kop en trek my neus op ʼn plooi.

Volgende woonstel. Volgende woonstel. Niks is volgens my smaak nie.

Daardie Vrydagnag, in my sagte hotelbed, bid ek kliphard: “Liewe Jesus, help asseblief dat ek ʼn dakkie oor my kop kry.”

Sesuur lui my foon. Henry aan die ander kant. “Yolanda, (die a uitgespreek as ʼn lang klank), ek het ʼn nommer van ʼn woonsteleienaar by ʼn vriend se vriend se vriend se vriend se suster se kennis gekry. Maar ongelukkig sal jy 600 joean (sowat R1 200) aan die vriend se vriend se vriend se suster se kennis moet betaal. Hy het iemand 200 joean (sowat R400) betaal vir die nommer en hy moet ook iets kry.” Die Sjinese weet hoe om geld te maak …

ʼn Halfuur later laai ek drie swaar tasse in ʼn taxi en stop eers by my kantoor om dit af te laai. Seweuur ontmoet ek vir Henry by  die Nidjaquo-metrostasie. Ons stap sowat 500 meter en dáár in die hartjie van die stad vind ek toe die Afrika-oerwoud.

Die naam van die kompleks beteken groen Afrika-oerwoud. Daar is groen plante en bome, watervalletjies, standbeelde in silwer gegiet van koplose naakte vroue. Die borste perfek gevorm. Ek weet nie hoekom die kunstenaar besluit het om koplose vroue uit te beeld nie … Daar is bankies en beskutte wegkruiphoekies, daar is ʼn tennisbaan, ʼn swembad, ʼn gimnasium (nie dat ek ʼn tekkie in die gimnasium gaan sit nie) en ʼn negosiewinkeltjie wat alles en wat verkoop – van babadoeke tot by sterk drank. Die winkeleienaars het nie ʼn dranklisensie nodig om drank te verkoop nie.

Die woonbuurt is ook perfek – ek bly ʼn klipgooi van die metrostasie af. Die Amerikaanse ambassade is net skuins oorkant die pad en daar is ʼn spul Westerse kuierplekke oorkant my woonstelkompleks ingeprop.

“And,” vra Henry, “what do you think?” (Die i uitgespreek as ʼn a.) Ons ry boontoe. Na verdieping 22. En binne-in die snoeshoek wag die landheer (oftewel -dame). ʼn Sjinese musiekonderwyseres wat nie Engels kan praat nie. Henry begin onderhandel.

Die plekkie is perfek. ʼn Werkstasie, ʼn piepklein kombuisie, ʼn slimtelevisiestel (in China kan jy gratis na die jongste rolprentuitreikings kyk), ʼn piepklein kombuisie (sonder breekware) en ʼn badkamer waar die stort en toilet in een hokkie is.

Henry onderhandel. Ek tel die note af en binne tien minute is die plekkie myne … vir 3 200 joean (sowat R6 400 per maand).

Ná ʼn uur lange gesukkel, wat ʼn paar warm Afrikaanse vloekwoorde ingesluit het, is ek en my drie swaar tasse in nommer 2204.

Die matras is kliphard. Daar is nie glase nie. Walmart (wat amper soos ons Game is), hier kom ek. En daar tussen kwakende paddas (die Sjinese eet die paddas sommer so rou), swemmende visse en vreemde blikkieskos het my paaie met dié van nog ʼn Alex en Lilly gekruis …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Kobus 4e ·

Yolanda, ek het ook in china gewerk, praat jy dalk van Chengdu, die stad? as ek jou Tsjengdoe google kry ek n hollandse iets, en die geld eenheid is Yuan ?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.