[Foto’s] Ongewone besigtigings in die Krugerwildtuin

Brullende leeumannetjie Foto: Marianne Styan

Brullende leeumannetjie Foto: Marianne Styan

Daar is niks soos die opwinding wat mens ervaar as jy om die draai gery kom in die Wildtuin en daar staan ‘n klomp motors opgehoop nie.

Dit beteken gewoonlik net een ding: iets ongewoons lê daar in die bosse!

Alhoewel dit meestal waar is, kan dit ook baie keer ʼn heerlike bloutjie wees. Soos die ander dag wat daar seker maklik 30 motors naby ʼn boom stilgehou het waarin ʼn ou rooibokkarkas gehang het. Ons het die oggend al daar verby gery en gehoor daar was die oggend vroeg ʼn luiperd. Dat hy ses ure later sou terugkeer na ʼn ou vangs, is bitter ongewoon, maar elke motor wag met afwagting.

Ons mense hou van daardie opwinding.

Ek het so bietjie gaan dink oor ongewone besigtigings wat ek al in my lewe in die Wildtuin beleef het waarvoor jy kan uitkyk volgende keer wat jy in die bosveld is.

  • Natuurlik ʼn vangs. Dit is seker een van die mees “liefde-haat”-besigtigings wat ek al beleef het. Dit is wreed, maar dis die sirkel van die lewe. Om te sien hoe presies en eintlik “pynloos” meeste vangste gebeur is dit werklik ʼn wonderwerk om te beleef.
    Hoe ʼn luiperd of jagluiperd alleen hulle prooi uitoorlê; hoe elkeen in ʼn trop leeus of wildehonde presies weet wat om te doen om daardie vangs aandete te maak, verwonder my telkens.
  • Jare gelede was dit ʼn ongelooflike seldsame ervaring om wildehonde te sien. Maar dit is tog asof hulle dalk aangeteel het en ook meer suid in die Wildtuin getrek het wat dalk maak dat mens hulle deesdae meer gereeld opmerk in die veld. Dit is egter nog steeds nie ʼn alledaagse verskynsel nie en rêrig ʼn voorreg om hierdie dierespesie, wat lyk soos jou troeteldier, te siene te kry. Hulle rangorde onder mekaar is ʼn studie werd.
  • Ek was twee jaar oud toe ek my eerste en ook laaste ietermago in die Wildtuin gesien het. Ja, ek het duidelik toe al aan my goeie “diere-uitkyk-vermoë” begin werk. Die hele familie was besig om na iets anders te kyk, toe ek met minimum woorde en gebaretaal vir hulle verduidelik hier is iets baie meer besonders aan die anderkant van die motor. Ek het nooit weer een gesien nie.
  • ʼn Ratel (Honey Badger) is ook ʼn klein diertjie wat maklik misgekyk kan word as mens nie oplet na klein diertjies in die veld nie. Die klein tawwe buksie, wat enige bysteek kan weerstaan, het nog net drie keer sy gesiggie vir my gewys tydens my jare in die Kruger. Dis egter ʼn groot bederf om hom in aksie te sien, besig om amok te maak in ʼn byenes.
  • Die aardwolf. Ook bekend as die bruin hiëna. Een van die seldsaamste diere in die veld. Ten spyte van sy vreemde naamgenoot, is dit egter ʼn vreeslike skaam dier wat net miere eet. Ek het ook nog net een keer die voorreg gehad om dié skugter dier te sien. Dit was ook net vir ʼn oomblik en toe het hy verdwyn. Hy is eintlik ʼn nagdier.

Indien jy ʼn voëlkyker is, is daar selfs nog meer seldsame besigtigings wat mens kan van vertel. Of miskien het jy al twee bokke of kameelperde sien baklei.

Vertel my gerus in die kommentaarblokkie hier onder watter ongewone besigtigings jy al beleef het in die Krugerwildtuin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

simone ·

Ek het nie ‘n storie om te vertel nie, maar my afwagting is groot, want ons het vir 8 dae bespreek in die Kruger wildtuin in September! Elke keer wat ek daar is, is die ervaring uniek en anders as die vorige keer. Hopelik bring ek ‘n storie saam as ek terugkom……

Liza Opperman ·

Ons was nou in Julie maand weer in die Wildtuin en ELKE keer is dit ‘n besonderse ervaring. Al die Groot 5 gesien. ‘n muskeljaat kat , ‘n klomp welpies by ‘n dooie kudu wat ma en sussie platgetrek het. ons het op een dag 27 verskillende leeus gekry op die pad van Skuzuza na Onder Sabie toe! Wilde honde, vis arende teenaan die grondpad in hulle neste by die rivier af. Aasvoels wat iets jag op die gras vlaktes. 3 Jagluiperd boeties….die mooiste maanhare! ‘n Leeu wat rooibokke jag, alles in ‘n radius van 5 km uitmekaar uit. Die mees besonderste was seker een jaar by Satara – waar ‘n klomp leeus ‘n buffel teen die kamp draad afgejaag het! Die Wildtuin bly TOPS!!!

Lourens ·

Aardwolf en Bruin Hiëna 2 verskillende diere. Aardwolf vreet meestal termiete waar Bruin Hiëna se dieet meer ooreenstem met gevlekte hiëna s’n.

Pieter Struwig ·

Dankie vir n lekker lees, ons is ook baie lief vir die wildtuin.

Net gou n reg help, die aardwolf en die bruin hiena is twee verskillende diere. Die aardwolf se ander naam is die maanhaarjakkals en die bruin hiena se ander naam is die strandjut.

Groetnis

Belinda de Witt ·

Ja Nee, Die Kruger Wildtuin bly maar die plek om te wees! Gaan elke jaar! Het al gesien hoe ‘n olifant deur die wildbewaarders platgetrek word met behulp van die helikopter en die grondspan. Let ook op na die baie kleiner diertjies, soos skilpaadjies, eekhorinkies, muishondjies, ens. Het ook al die muskeljaatkat, die Afrika civetkat en die ratel as kuiergaste by ons tent gehad. Ook die voels veral die berghaan wat regvoor ons kar kom land het. Dan is daar my onderonsie met die bobbejaan wat my brood gesteel het by Nkhule piekniekterrein – het letterlik met hom ‘n geselsie aangeknoop omdat hy by my kom sit het en ons letterlik tougetrek het met die sakkie. Hy het natuurlik gewen – besef nou eers dat hy my lekker kon seermaak. Ai hoe verlang ek nou ……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.