Foto’s: Ontdek Europa per trein

Foto: RailEurope

Foto: RailEurope

ʼn Land se mooiste areas is dikwels versteek in die platteland of selfs partykeer net buite die bekende middestad waarna soveel mense getrek word as hulle reis.

Reis gerus per trein deur ʼn land of ʼn vasteland om die pragtige bekende stede met hulle ongelooflike besienswaardighede te sien. Moenie die minder bekende plekkies mis in die proses om van een land na ʼn volgende te hardloop net om te sê jy was daar nie.

Dikwels het die platteland of kleiner stede en dorpies vir my meer sjarme as die bekende stede. Miskien omdat daar min buitelanders hier te vinde is en die kultuur nog eg is.

Ons het vroeër die jaar juis op dié manier, twee nuwe lande, wat nie noodwendig eerste op almal se “emmer-lysie” is nie, ontdek.

In plaas daarvan om van die plek waar ons in Oostenryk geski het, te vlieg, het ons per trein bykans die hele Oostenryk deurkruis.

Ek het ʼn vaste reël dat indien mens hierdie hoeveelheid geld betaal om Europa toe te vlieg vanaf Suid-Afrika moet mens probeer om ten minste twee of meer lande op ʼn slag te sien.

Ons eindbestemming was die pragtige Boedapest. Boedapest is egter nie altyd vreeslik toeristevriendelik oor naweke nie en “sluit” so te sê vir die hele naweek. Aangesien ons die Saterdagoggend ons woonstel in die ski-oord moes verlaat sou ons die Saterdagaand al in Boedapest wees. Die hele Sondag sou ons dan heel moontlik nie veel van die besienswaardighede kon besoek nie, wat beteken dat ons ʼn hele dag in Europa sou ‘mors’. Vir my is tyd in Europa, geld… in Euro’s…

Dus het ek my atlas uitgehaal om te kyk watter lande of stede is naby genoeg aan Oostenryk en Hongarye om te besoek. My oog het geval op Slowakye – die afgestigte land van Tsjeggo-Slowakye. Ons het juis verlede jaar Praag besoek wat aan die Tsjeggiese kant lê. Ek het ook al baie gehoor dat die hoofstad van Slowakye, Bratislawa, ʼn stad is wat onderskat word.

En dít is hoe ons in dié pragtige stad beland het. Met die trein was dit regtig bekostigbaar en baie maklik. Ons het die Saterdagoggend ʼn trein gehaal in Zell-am-Zee, Oostenryk. Vir net bietjie meer as vier ure het ons deur die spesiale dorpies al langs die treinspoor gery. Ons het treine verwissel in Wene en omtrent ʼn uur later was ons in die middestad van Bratislawa.

Hier het ons presies ʼn dag lank vertoef, wat genoeg was vir die pragtige maar kompakte ou stad van Bratislawa. Te danke aan AirBnB kon ons bekostigbaar oornag in ʼn baie gemaklike woonstel in ʼn perfek geleë area.

Die volgende dag, presies 24 uur later, het ons weer die trein gehaal en vertrek na Boedapest wat net minder as drie ure per trein weg is van Bratislawa. In die proses het ons nie net twee nuwe stede gesien nie, maar ook drie verskillende lande.

Danksy RailEurope is ʼn dag- of nagtrein baie toeganklik en die bestemmingsopsies is legio.

Redes hoekom ek dink die trein is ʼn goeie opsie:

  • Dis gerieflik en gemeensaam. Die uitleg van treintrokke is baie meer gemaklik as ʼn vliegtuig en dus maak dit kuier en rondbeweeg baie makliker. Ek geniet dit ook om op dié manier nuwe mense te ontmoet wat óf langs mens kom sit óf in dieselfde kompartement plek bespreek het.
  • Dit is dikwels goedkoop. Afhangende van die bestemming en hoeveel lande mens besoek, kan dit nogal ʼn groot verskil maak aan mens se beursie. Om op ʼn nagtrein te oornag kan ook die koste van verblyf verminder.
  • Dit is omgewingsvriendelik. Goed ontwikkelde hoëspoedtreine is ontwerp om ʼn kleiner impak op die omgewing te maak.
  • Indien mens die maklik veranderbare treinkaartjie-opsie kies, is dit ideaal vir ontspanne reisigers. Treine vertrek gereeld daagliks en mens se kaartjie kan maklik na ʼn vroeër of later vertrektyd geskuif word.
  • Die spoed van die treine (party kan tot 320 km/h haal) en die feit dat die treine van middestad tot middestad ry, maak dit ongelooflik toeganklik. Baie van die treine het aansluitings met die stad se lughawe en dus is dit werklik een van die mees stresvrye vervoeropsies.

Besoek RailEurope vir al die verskillende trein-en roeteopsies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.