Foto’s: Op reis saam met Horse Chestnut

Horse Chestnut Foto: Tracy Robertson (Drakenstein)

Horse Chestnut Foto: Tracy Robertson (Drakenstein)

Lees ook Marianne se artikel “Kentucky – Perdestaat van die wêreld

Hierdie reisartikel verskil ietwat van my gewone stories. Hierdie keer vertel ek van ʼn besonderse reis agter iets aan. Dis die storie van my obsessie met ʼn legendariese perd.

Sy naam was Horse Chestnut.

Horse Chestnut was heel moontlik die beste resiesperd wat Suid-Afrika nog opgelewer het.

Sedert ek kan onthou is ek perd-mal. En dit was nie net ʼn fase nie, dit het nie verbygegaan soos met meeste dinge dikwels die geval is soos mens ouer word nie. Nee, hierdie liefde het gebly.

Ek het Horse Chestnut die eerste keer gesien toe ek nog op skool was. Dit was die dag toe hy as driejarige die bekende perdewedren, die J&B Met, met ʼn fenomenale agt lengtes gewen het. Mense wat nie weet nie, een lengte is gelyk aan amper twee en half meter.

Om teen die bestes in die land te hardloop en so ver te wen… dit het gewys watter uitstaande perd Horse Chestnut was.

Later die jaar wen hy die Suid-Afrikaanse Derby met ʼn nog meer indrukwekkende 9.5 lengtes. Sy besonderse prestasies maak hom toe die eerste Suid-Afrikaanse perd om die Suid-Afrika Triple Crown wen en op driejarige ouderdom word hy as Perd van die Jaar aangewys.

Wat my egter die meeste van hom getref het, was sy rustige geaardheid wat baie vreemd is vir ʼn resiesperd.

Ek was “verlief”.

Horse Chestnut was in ʼn ander liga as ander Suid-Afrikaanse resiesperde. Hy was die Secretariat van Suid-Afrika. Die Usain Bolt van Suid-Afrikaans perde.

Sy eienaars, wyle Harry en Bridget Oppenheimer, het besluit hy moet sy “Pegasus-vlerke” sprei en teen die bestes van die wêreld gaan deelneem. Só word Horse Chestnut Amerika toe gestuur en dis waar ons paaie weer kruis.

Teen die einde van my skoolloopbaan is ons gesin Florida toe en net so voordat ons vertrek, lees ek ʼn koerantberig raak waar hulle berig dat dit goed gaan met Horse Chestnut in Ocala, Florida. Ek het die Atlas gaan uithaal en gesien sy nuwe huis is presies twee ure se ry van waar ons in Orlando sou wees.

Ek het ʼn brief aan mev. Oppenheimer geskryf (wat ek nie regtig gedink het sou beantwoord word nie) waarin ek vir haar verduidelik het hoe graag ek hierdie wonderperd van hulle wil “ontmoet”. Ek het eintlik al hoop verloor totdat ek een oggend twee weke voor ons vertrek na Amerika, ʼn oproep kry van mev. Oppenheimer waar sy my inlig dat sy sal reël dat ek ʼn dag by Horse Chestnut kan deurbring in Florida!

Só begin my reis agter Horse Chestnut aan. Soos ʼn droom wat elke nou en dan weer sy verskyning kom maak.

Ons het die huurmotor toe die een oggend gepak en vertrek na die onbekende Ocala.

Ocala, Florida is bekend vir sy perdeteel en -opleidingsplase, byna soos die KwaZulu-Natalse middellande. Ocala is nie net bedoel vir volbloedperde nie, maar ook die Amerikaanse quarter horses. Dis die mooiste plase net waar mens kyk.

En dan kom die groot ontmoeting. Hy is nog steeds so rustig. Niks ontstel dié perd nie en ons verhouding is weer opgekikker.

Ons spandeer die hele dag daar terwyl hulle hom oefen en deur sy daaglikse passies sit.

Te gou is die dag verby, maar ons het darem ook ʼn deel van Florida beleef wat min besoekers ontdek.

Terug by die huis, hoor ons ʼn paar maande later hoe Horse Chestnut sy eerste resies in Amerika met nie minder nie as vyf lengtes wen! ʼn Suid-Afrikaans perd wys die Amerikaners hoe om dit te doen…

Maar net ʼn kort rukkie daarna kom die eerste tragedie met die nuus dat sy glansryke resiesloopbaan finaal verby is. ʼn Ou beenbesering, wat hom jare tevore sy enigste wen gekos het in Suid-Afrika, het weer sy kop uitgesteek en die Oppenheimers het besluit om hom finaal te laat aftree.

Hulle verkoop ʼn groot gedeelte van hulle aandele in Horse Chestnut (dit is hoe dit werk met bekende perde – mens kan aandele koop) aan ʼn stoetplaas, Claiborne Farms, in Kentucky. Ook in die VSA.

Dit was ʼn hartseer dag.

Maar nou het daar nuwe moontlikhede voorgelê vir hom. Hy kan dalk nou ook sy wonderlike geaardheid so wel as sy uitsonderlike vermoë om enige afstand kaf te draf voortplant in sy nageslag.

Een dag, aan die einde van my eerstejaar op Universiteit, ontvang ek ʼn brief uit Londen. Dis van mev. Oppenheimer wat sommer uit haar eie vir my laat weet dat sy onlangs in Kentucky was en my wil inlig dat Horse Chestnut nie net goed aangepas het by sy nuwe huis nie, maar ook al ʼn hele paar toekomstige nasate het om na uit te sien in die volgende jaar!

Presies vyf jaar nadat ek hom vir die eerste keer ontmoet het, besluit ek om vir ʼn paar maande in Amerika te gaan werk sodra ek my graad klaargemaak het. Aan die einde van my tyd daar wou ek vir ʼn maand lank deur Amerika toer: natuurlik is een van die plekke waaraan ek toe dadelik dink, Kentucky.

Ek het nog altyd gehoor dit is dié plek om heen te gaan as jy lief is vir perde.

Ek kontak weer vir mev. Oppenheimer om te vra of ek dalk Horse Chestnut kan besoek terwyl ek daar is. Net soos die vorige keer was sy baie inskiklik en het reëlings getref met die nodige mense.

Dit was ʼn effens bewolkte dag wat ek my huurmotor gepak en uit Lexington gery het in die rigting van Claiborne Farms. Hierdie keer het ek regtig gedink ek is in “perdehemel”.  Ek het nooit besef daar kan ʼn plek wees wat só baie om perde draai nie. Alles in die dorpe en stede het een of ander verbinding met perde. Daar is ʼn hele park wat net aan perde opgedra is.

Perdeplaas op perdeplaas swiep verby die motor met perde wat oral die idilliese witheiningkampe bewei. Die luukse stalle is groter en meer indrukwekkend as die eienaars se huise.

Claiborne Farms is ʼn ongelooflike besigheid met van die wêreld se beste stoethingste.

Dit was die plaas waar die wêreldbekende Seabiscuit gebore is en Secretariat het hier gestaan as stoethings en is ook hier begrawe.

Horse Chestnut is verseker op die regte plek.

Na nog ʼn besonderse dag waar ek opnuut nuwe dinge geleer het van hoe so ʼn perdestoetery werk, keer ek terug na my gewone lewe.

En vier jaar later hoor ek Horse Chestnut kom huis toe. Terug Suid-Afrika toe.

Die bekende Drakenstein-stoetplaas naby Franschhoek word sy nuwe huis. In hierdie stadium het ek in Pretoria gebly. Natuurlik vra ek wéér toestemming om hom te gaan groet tydens ʼn vinnige toer na die Wes-Kaap.

Drakenstein-stoetplaas kan enige dag kers vashou by die Kentucky-plase. ʼn Pragplaas waar mens ook kan wynproe en na ou motors kyk. Ja, daar is ʼn museum. Dis ʼn besoek werd.

Weereens weet ek: Horse Chestnut het die regte plek gekry.

ʼn Jaar later trek ek self Kaap toe en nou is die kans om vir Horse Chestnut te gaan kuier baie makliker!

My laaste kuiertjie by hom was verlede jaar. Hy was gelukkig, spekvet en gesond. Met die pragtige Franschhoekberge wat oor hom troon sien ek selfs op 18-jarige ouderdom nog die kampioengees in hom wat net nog meer merkwaardig geword het as gevolg van sy pragtige, rustige, liefdevolle siel.

Nooit byterig of skopperig soos sy stalmaats nie.

So asof hy net geweet het hy hoef nie te bewys dat hy beter is as enige ander perd nie… Hy was net gebore met bloubloed in sy are.

Horse Chestnut is twee weke gelede oorlede. Hy was 19. Suid-Afrika het ʼn kampioen verloor.

Hy het my plekke laat sien wat ek nooit sou gesien het as dit nie vir hom was nie. Dit is altyd die moeite werd om iets wat vir jou belangrik is, na te streef. Jy sal verbaas wees waar die paaie jou heen mag lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marietjie ·

Wat n pragtige reis baie dankie vir die artikel.
Was ook my gunsteling deur al die jare.

Delia ·

Ek weet waarvan jy praat…..my groot liefde was An Easy Buck….

Rupert Ashford ·

Wat ‘n mooi artikel. Jammer om te hoor Horse Chestnut is dood…’n ware legende.

anet ·

Marianne, dit is een van die mooiste artikels wat eknog ooit gelees het. Dankie dat jy jou kosbaarste passie vir Horse Chestnut met ons gedeel het. Pragtig mooi !!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.