Foto’s: Tafelberg-praatjies

Toeris maak gereed vir 'n kiekie op Tafelberg Foto: Marianne Styan

Toeris maak gereed vir ‘n kiekie op Tafelberg Foto: Marianne Styan

Een keer per jaar kan elke Suid-Afrikaner gratis opgaan met Tafelberg.

Op jou verjaardag met jou Suid-Afrikaanse identiteitsdokument in jou hand, is die berg joune.

Ek het hierdie jaar my verjaardag só op Tafelberg gaan vier. Sonder my geliefde, want dit was ʼn werksdag. Die gratiskaartjie is tot sewe dae na jou verjaardag geldig, maar kan net eenmalig gebruik word.

Om die lang toustanery te vermy, was ek vroegoggend al daar. Groot was my verbasing om toe reeds soveel mense van oor die wêreld saam met my in die tou te kry.

Tafelberg is een van die moderne Sewe Wonders van die Wêreld. Om daar te staan en wag om op te gaan, laat jou oneindig klein voel. Daar is darem net iets buitegewoons aan hierdie berg.

Ek het besluit om op hierdie spesiale verjaardag, my ore uit te leen aan my mede-besoekers se praatjies op Tafelberg.

Die draaiende kabelkarrit tot bo, word genotvol aangebied deur ʼn werknemer wat wyle oudpresident Mandela se stem goed namaak en die toeriste ʼn heerlike dag op die berg toewens.

Die tannies wat klaarblyklik hoogtevrees het, is nie beïndruk om naby die venster te staan waar hulle die hoogte gaan beleef nie. Min besef hulle dat die draaiende vloer hulle een of ander tyd in die oprit wel by daardie punt gaan bring. Almal waardeer met verwondering die veranderende uitsig tot bo.

Bo-op die berg is dit eers ʼn Babelse verwarring om te bepaal watter rigting ingeslaan moet word. Dan verdwyn die verwarring as almal begin “oe” en “aah” as hulle die eerste uitsig vanaf die berg op Kampsbaai en Clifton kry.

Ek staan en kyk hoe die meeste mense feitlik hulle kamera se hele geheuespasie op die eerste oomblik opneem, min wetend dat die berg ʼn 360 grade uitsig bied vir mooi foto’s.

Ek het al gelukkig my les geleer en hou aan loop. Op pad bied ek aan om twee vriendinne saam af te neem. Hulle kom van Kanada af en dis hulle laaste dag in die Kaap, voor hulle die volgende dag Krugerwildtuin toe sou vertrek vir ʼn safari. Hulle is gaande oor die land. “Kanada is groot, maar ons is so verbaas oor die verskeidenheid van landskappe wat mens hier in Suid-Afrika kry,” sê hulle.

Ek wens hulle ʼn lekker vakansie toe en loop al met die rand van die berg om tot by die suidelike uitsig oor die Twaalf Apostels-berge. Dis roerend mooi.

Ek hoor hoe ʼn jong man vir sy vriendin verduidelik hoe erg die brande was wat die afgelope ruk die Wes-Kaap so geteister het, terwyl hy vir haar die donkerder bergtoppe uitwys na Noordhoek en Houtbaai se kant toe.

Gelukkig is daar nie meer rook wat trek nie, want die vure is deur ons dapper brandslaners onder beheer gebring.

Ek gaan sit op ʼn bankie wat oor die see uitkyk en bewonder die uitsig terwyl ʼn paar hoopvolle spreeus my dophou.

Dassies is hier nogal ʼn pes, want hulle is ongelukkig al mak gemaak deur mense wat hulle voer… Hulle is egter regtig oulik. Een van hulle lê en bak in die oggendson op ʼn klip reg voor my. Ewe skielik besluit hy dit lyk of daar iets lekkers kan wees op die muurtjie en hy spring rats op en gaan sit hoopvol saam met die spreeus en kyk na die mense wat foto’s kom neem.

Ek hoor hoe ʼn seuntjie vir sy ma vra hoekom die dassie honger lyk. Die ma gee gelukkig die goeie raad dat hulle altyd so gaan lyk, want hy is lus vir iets lekkers, maar dat mens nie die diere moet voer nie. Dit maak hulle stout. Ek juig haar toe in my gedagtes.

ʼn Buitelandse paartjie en hulle toergids kom kyk ook na die dassie. Die toergids verduidelik vir hulle een van die interessantste feite oor die diertjie: dat die dassie die naaste afstammeling van die olifant is.

ʼn Meisie roep uit van verwondering toe haar oë op die uitsig onder ons val en sê in Engels: “Wat ʼn wonderlike plek om te kom mediteer oor die lewe!” Ek stem saam.

Vandag gaan ek nie die restaurant se geriewe gebruik nie en haal my eie water en appel uit my handsak terwyl ek die pad om die kroon van die berg stap.

ʼn Groepie mense drom saam om ʼn klip waarop ʼn bloukopkoggelmander sit. Hy geniet egter nie die aandag nie en spring rats na die volgende klip wat die klein skare, meestal buitelandse toeriste, dadelik die hasepad laat kies omdat hulle uit onkunde nie weet of hy giftig is of nie. Ek giggel en stap aan.

Aan die noordelike kant van die berg, met die pragtige uitsig oor die stad, Leeukop en die blou-blou Stellenbosch-berge in die verte, neem mense “ek-kiekies” dat dit klap.

ʼn Ouerige man met ʼn swaar Duitse aksent tuur in die verte en sê vir hulle groep se toergids: “Dit is ʼn besondere ‘wye’ land. In Europa sou hulle dit lankal toegebou het.”

Ek bereik die kabelkar se huisie en gaan staan weer in die tou om die volgende kabelkar na onder te neem.

Om my praat die mense onophoudelik. ʼn Groepie Amerikaners is in verwondering soos net Amerikaners kan wees, oor die pragtige natuurskoon. Hulle wil nie afgaan nie, sê hulle, “want niks gaan nou meer mooier wees as dié Sewende Wêreld Wonder nie.”

Ek kon dit nie beter gesê het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae