[Foto’s] Tsitsikamma: Plek van sprankelende water

Foto: Carina Stander

Op die snelweg na die Tsitsikamma blom die fonteintjiebos dié tyd van die jaar al langs die pad in pers trosse teen die donkergroen inheemse woud. Broccoli-bome, noem ons seuns dié woude. Gepraat van kinders: hoe op aarde gebeur dit dat daar ‘n volle dertien maande verloop sonder dat ek en my geliefde ‘n enkele aandjie alleen uitslaap? Basta! Ouma kuier ‘n paar weke by ons en sy wil juis kinders oppas. November is hoeka my verjaardagmaand en daarom vat ek en Gerrit die pad vir ‘n romantiese 24 uur!

Wanneer mens midde-in ‘n skoolkwartaal wegbreek, is jy poegaai gery agter al die kinderdoenighede aan, daarom is plaaslike pret jou voorland. Local ís lekker en ons kies ‘n plek wat net ‘n driekwartier se ry van ons huis af is. Skaars het ons van die snelweg afgedraai, of ons is in ‘n eg landelike omgewing met vol plaasdamme en melkkoeie op grasgroen weivelde. In die parkeerarea van Misty Mountain Reserve word ons verwelkom deur drie pronkende mannetjiespoue. Wanneer laas het ek dié pragtige dierasies in lewende lywe gesien? Jermina, die vriendelike ontvangsdame, praat so ‘n suiwer Afrikaans, dat ek hardop wonder of dit haar huistaal is. Nee, sy is eintlik Sotho, maar ook vlot in Xhosa, Engels en ons ander landstale.

Foto: Carina Stander

Misty Mountain is op ‘n platorand 230 m bo die see met ‘n 180-grade uitsig oor die Indiese Oseaan. Ons monde hang oop: digby flap drie walvisse hulle sterte. Die plankpad na ons slaapplek kronkel deur ‘n stuk kuswoud waar sampioene trappies maak teen ‘n boom. ‘n Swerm glasogies kwetter verby. Die tenthuis is suiwer kaalvoet-luuksheid met ‘n tapyt en kandelare, ‘n pootjiesbad met koperkrane, houtvloere en sagte wit beddegoed. Ons val op die bed neer en raak in ‘n ommesientjie aan die slaap – heel onbepland. Ek kan nie onthou watter eeu ek laas ‘n middagslapie gevat het nie! Mens besef nie hoe moeg jy regtig is totdat jy die kans kry om te ontspan nie.

Ná die kragslapie is ons vuur en vlam om bergfiets te ry. Hier is vier bergfietsroetes wat duidelik gemerk is en wissel van 8,7 km tot 65 km. Gerrit-die-resiesperd kyk of hy my kan wegdraf terwyl ek fietstrap – en met die opdraandes kry hy dit wraggies reg!

Afdraande op ‘n fiets voel soos vlieg. Wind in die hare, vryheid in die are ry ek met die grondpad af, die Tsitsikammabergreeks in die verte. Aronskelke en agapante gloei in die namiddaglig, albei is inheems tot die streek. Skemertyd ruik die vleie vleierig. Die waterlelies vou toe. Langbeen kiewiete trippel in swart-en-wit snyerspakkies. Eendjies skater oor die water. Die son sypel soos heuning waar ons deur die denneplantasie ry.

Foto: Carina Stander

Toe my fiets in ‘n modderpoel vassit, dink Gerrit dis ‘n hengse grap. Sewentien jaar gelede, lank voordat ons kinders gehad het, het ons vir twee jaar saam oorsee gewoon en gewerk en amper elke naweek die agterpaaie van Europa met fietse verken. Noudat ons jongste spruit ses jaar oud is en homself op ‘n fiets kan handhaaf, is daar weer hoop vir ons gesin saam ruwe fietspaaie te verken.

Op die groot grasperk van Misty Mountain verkyk ons ons aan die wye seeuitsig. Mens kan tot doer ver sien – Plettenbergbaai, Robberg. Die son ‘n oop, rooi blom bo die branders.

Ná ‘n lekker stort is ons lus vir aandete. Voorgereg is die mees perfekte springbok carpaccio wat ons nog ooit gesmaak het. Ek probeer iets nuuts vir hoofgereg: Madagaskarse groenrissie-biefstuk met romerige brandewynsous! Gerrit smul aan sy kruisbiefstuk met bloukaas-en-camembert en ingelegde vye, bedien met ‘n stewige porsie groente.

Aan tafel gesels ons soos die goeie ou vriende wat ons is en moet onsself die heeltyd inhou om nie nét oor ons oulike, reislustige seunskinders te klets nie! Ek vertel vir Gerrit toe ek elf jaar oud was, het ek Blou is ‘n bokkie van Elsabe Steenberg gelees en myselwers beloof dat ek eendag aan die Tuinroete gaan woon – al was ek as Bosveldkind nog nooit in die Kaap nie. Op veertien het ek ‘n gedig geskryf oor die lewe wat ek opdroom, van hoe ek eendag wil kuns maak en skryf vir ‘n beroep op ‘n plek met bosbokke, loeries, mosbegroeide bome en varings en ‘n houterige huis wil deel met ‘n man met sagte hart en donker krulhare. (Jip, ek was nogal spesifiek!)

Foto: Carina Stander

In 2005 het ek en Gerrit vir sy dertigste verjaardag ‘n week deur die Tsitsikamma gereis. Ons het vir mekaar vertel hoe graag ons eendag hier wil woon en ek het ‘n verjaardagvers vir hom gegee wat bietjie lees soos ‘n voorspelling, ‘n soort selfprofesie. Dié vers, “die warm bergwind van jou naam”, is opgeneem in my bundel, die vloedbos sal weer vlieg (Tafelberg, 2006) en later deur André P Brink by die Groot Verseboek ingesluit. Dis een van die gedigte wat my laat moed skep en dink: As mens iets vir soveel jare in jou binneste aanvoel, so sterk aanvoel dat dit amper grens aan weet, dan is dit groter as jyself. It has been written – lank voordat jy jou eerste asemteug gegee het en lank, lank voordat jy die eerste keer die pen opgeneem het om die beeld in jou gedagtes te probeer verwoord. It has been written. Of ten minste, gedeeltelik geskryf: die ruimte en karakters is opgestel, maar met watter karakters jy gaan vleg, hoe jy op gebeure buite jou beheer gaan reageer en of jy met jou ruimte gaan woeker – daardie besluit berus by jou alleen. Net jy kan jou eie slotsin skryf.

DIE WARM BERGWIND VAN JOU NAAM
(Tsitsikamma)

die warm bergwind van jou naam
weergalm deur die kuswoud
van die suide

terwyl die hartseer plantasie
in die vallei
oumansbaarde snoei,
waai jy deur ʼn knoesterige
witmelkhout se boskasie

jy laat die vrugte oor my reën
in persswart spatsels;
jy streel die kalander se skilferbas
en voer die vlermuis geel vrugte
uit die hoogste takke

soms is jy oral en hier
deurwarrel jy my soos ʼn man;
jy leun teen ʼn bostaaibos
se vrattestam, jy kyk my aan;
die are op jou arms
beur soos wortels uit die grond;
jou skelet beweeg in die wind
soos die wit vlegstam van ʼn vlier;
my wange word die kleur
van kletterklippe
langs ʼn onbekende kus,
lila of vuilpienk
soos die oë van ʼn grotvis

nogtans pluk jy vir my
fyn room blomme in die winter
en die vlerksade van ʼn kamassie;
ons bed is die geheime blare
van ʼn berkeboom

kom ons loop barvoets
deur die natwoud,
kom ons gaan kyk smôrens vroeg
hoe die branders sproeireën
teen die horison
waar walvisse byna hoorbaar paar
in die vliesblou uitspansel
van die see

dáár sal ek my liefde vir jou gee

Foto: Carina Stander

Ná ete stap ons onder helder sterre met die plankpaadjie terug tot by ons slaapplek. Seegedruis. Naguiltjie. Paddas tjirpsing vanuit die woud. Só kapoet is ons, dat ons sommer negeuur al soos klippe slaap. (Dit, terwyl ons by die huis byna elke weeksaand tot tienuur op ons rekenaars werk.) Maar dié is ons tegnovrye 24 uur sonder skootrekenaars, tablette, selfone, internet, televisie of kinders. Ons het nét mekaar en ‘n avontuur in die natuur – soos in die heel begin.

Die volgende oggend is daar ‘n nuuskierige blouapie op ons stoep. Die seemistigheid lig haar sluier: nogmaals ‘n verstommende uitsig oor die oseaan. Ek geniet ‘n smoothie met die naam Mountain Climber – kan die stukkies heel heuningkoek en neute daarin proe.

Ons stap ‘n gedeelte van die David Lane-wandelpad. Die woud hier is opgeruim van uitheemse spesies; moeite is gemaak om inheemse bome soos septemberbossie, keurbome en vuurvarings te vestig. Die kalanders (geelhoute) kan tot 1 200 jaar oud word. Vóél die skilferbas. Vóél die bostaaibos se vrattestam en die knoesterige melkhout. Sién die bosbokspore in die modder, die hangende mos soos groen hekelwerk aan die takke. Hóór die reën in die Strandloperwoord, Tsitsikamma: die plek van sprankelende water.

As jy net 24 uur in die Tsitsikamma kan deurbring
By Misty Mountain kry jy ‘n ware Tsitsikamma-ervaring met inheemse woude aan die een kant en ‘n see met walvisse aan die ander kant. Hier is ook 65 km bergfietspaaie, staproetes en lieflike seeuitsigte. Indien jy nie kan oorslaap nie, kan jy ‘n tafel bespreek vir ‘n heerlike ete – die spyskaart is baie billik geprys! Ontbyt is Maandag tot Sondag vanaf 08:00 tot 10:00. Die driegang a la carte-spyskaart vir aandete is Maandag tot Sondag vanaf 19:00 – 21:00. Skakel: 042 280 3699 of 082 921 3055. [email protected]. Besoek die webwerf.

As jy stapstewels in die Tsitsikamma wil aantrek
Van die mees legendariese staproetes in ons land is in die Tsitsikamma: die sesdag Tsitsikamma-staproete, die vyfdag Otterstaproete en die luukse driedag Dolfynroete waar mens ‘n aand oorslaap by Misty Mountain. As jy nie stapfiks is nie, is daar darem genade: Stormsriviermond is ‘n allerpragtige marinepark in die hart van die Tsitsikamma met maklike staproetes oor die hangbrug en geriewe vir braai, snorkel en ‘n bootrit na ‘n seegrot.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Janine Leyong ·

Baie dankie vir so uitstekende lees stuk oor Mist Mountain Reserve .Ek is tans een van Misty Mountain Reserve se werk gewers.En geniet dit vreeslik om op soo mooi plek te werk,om ander rasse en kulture te ontmoet is verskriklik lekker en geniet elke oomblik dit.Baie dankie Mev vir alles ons sal dit beslis verder aanstuur sodat meer mense dit kan lees en geniet.hoop ons gaan die Uwe weer sien op Misty Mountain Reserve .WEEREENS BAIE DANKIE .Liefste groete .Janine

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.