In Nederland waar daar meer fietse as mense is, is Utrecht deesdae ʼn sterk aanspraakmaker om die wêreld se mees fietsvriendelike stad te word.
Amsterdam en Kopenhagen in Denemarke loop tans nog voor, maar meer as ʼn derde van Utrecht se 330 000 inwoners trap reeds daagliks die pedale werk en skool toe, dikwels selfs met ʼn kleuter in ʼn sitstoeltjie agter ma of pa in die saal.
Gespesialiseerde paaie en parkeergeriewe gee fietsryers voorkeur oor motors, wat tans minder as 15% van die ritte in Utrecht se middestad uitmaak. Sowat 60% daarvan word per fiets afgelê.
Volgens ʼn onlangse kortfilm wat oor dié utopie vir fietsryers gemaak is, besit 98% van die stad se huishoudings minstens een fiets en die helfte het drie of meer.
Elke dag beweeg 125 000 fietsryers deur die middestad en baie maak gebruik van die sentrale treinstasie se drieverdieping-parkeergarage wat plek het vir 12 500 fietse. Dis onlangs vergroot nadat die aanvanklike 6 000 parkeerplekke binne twee jaar opgeneem is.
Die parkeerterrein is allermins ʼn tradisionele fietsloods waar ʼn tweewiel-ryding in wind en weer staan. Dis ʼn moderne ruimte van beton, staal en glas met blink dubbeldekker-rakke vir van vragfietse, wat ʼn gesin besit, tot openbare fietse om te huur. Fietsryers kan van die straat af met ʼn oprit na hul parkeerplekke ry en van daar af na ʼn platform in die stasie stap.
Parkering is die eerste 24 uur gratis en as die tyd oorskry word, word die eienaar se openbare vervoerkaart wat toegang tot die parkeerterrein gegee het, outomaties gedebiteer. Een plastiekkaart word dus vir alle openbare vervoer en geriewe soos die fietsgarage gebruik.
Elders in die stad is strate wat voorheen vir motors bedoel was, herontwerp om voorrang aan fietsryers te gee. ʼn Kanaal wat in die sewentigerjare deur ʼn snelweg begrawe is, het nou sy oorspronklike vorm herwin met voetpaadjies en fietsspore wat Utrecht se vervoerprioriteite duidelik maak.
Die stad se onderburgemeester, Lott van Hooijdonk, sê in die kortfilm dat dit nou weer lyk asof mense die stad regeer en nie masjiene nie. Die besparing weens verlaagde lugbesoedeling en gesondheidsorg is na raming sowat R4,5 miljard per jaar.
Fietsvriendelike stede is ʼn prioriteit vir die Nederlandse regering en deel van ʼn strategie waarvolgens honderde miljoene euro’s bestee word aan die verbetering van die fiets-infrastruktuur oor die hele Nederland.
“Ons streef daarna om dit ʼn paradys vir fietsryers te maak en daar moet nog baie gedoen word,” het Nederland se minister van infrastruktuur, Stientje van Veldhoven, onlangs in die media gesê. “En boonop is dit ook goed vir u gesondheid en u beursie.”
Van Veldhoven sê fietsry is ook Nederland se geheime wapen teen verkeersopeenhopings, swak luggehalte in stede en klimaatsverandering.
Dit was nie altyd so nie. In die jare 1950–’60 was Nederland se stede byna net so motorvriendelik as in enige ander ryk Europese land. Maar veral kindersterftes op die land se paaie in die sewentigerjare het ʼn vloedgolf van aktivisme en betogings aan die gang gesit wat die inwoners bewus gemaak het dat dit eintlik dwaas is om strate vir motors te ontwerp.
Stygende brandstofpryse en omgewingsbewuswording het verder gehelp om stap en fietsry terug te bring na die land se stede. Meer as 100 jaar ná die eerste fietsbaan in 1885 in Utrecht gebou is, is dit nou ʼn algemene gesig om honderde fietsryers in spitstyd te sien wat uit alle rigtings op ʼn oorgang afpyl terwyl ʼn paar motors geduldig hul beurt afwag.
En anders as in Amsterdam, waar daar sonder meer teen informele fietsparkeerders opgetree word, kan fietsryers in Utrecht steeds hulle fietse iewers staanmaak sonder dat iemand in die saal sit.
Die honderde fietse wat langs die stad se kanale geparkeer staan, gee ʼn unieke karakter aan die lewendige studentestad in die hartjie van Nederland. Utrecht het die grootste en mees gesogte universiteit in Nederland en vir die sowat 70 000 studente is fietsry die natuurlikste vervoermiddel.
Fantasties
Dit is nie altyd lekker om te fiets nie. ys en sneeu maak dinge baie moeilik.
Hier is wel iets interessant om dop te hou
n File in Nederlands is n verkeers-opeenhoping
https://www.nu.nl/verkeer
Mal oor fiets te ry wow nice om so lewe glo minder lugverspoeling. Almal mooi maer en gesond en minder verkeer en geraas en ongelukkig ens Wens in SA maar misdaad nope