Foto’s: Waar woorde weer soos volstruisvygies blom

Namakwa_volstruisvygies.jpg

Die mooiste volstruisvygies (foto: Namakwa Toere)

Annami Simon

Ons sou Namibië toe gegaan het, want ons het ʼn vakansie dringend nodig gehad. En as ek terugdink, vermoed ek ons wou vir tien dae emigreer, al was dit net oor die naaste grens – en so ver moontlik van alles en almal wat ons herinner aan die spanning wat tans in ons land heers.

As taalversorger werk ek daagliks met woorde. Ek kies, weeg, oorweeg en skrap. Ek sorg dat ek polities korrek skryf en soek gepaste sinonieme vir “chaos”, “korrupsie” en “rommelstatus”. Ek probeer die groterwordende tsunami van negatiwiteit tussen ons mense só skryf dat dit minder bedreigend klink. En in berigte oor plaasmoorde probeer ek iets in die verhale van brutale grusaamheid voeg sodat daar iewers, iéwers nog ʼn sprankie geloof oorbly. En hoop. En liefde vir my land en sy mense.

Annami tussen die geelkatsterte (foto: Namakwaland Toere)

Maar snags kom lê al dié woorde met hul donker betekenis loodswaar op my gemoed. Algaande raak ek sielsmoeg en stokoud. Só moeg dat ek nie eens meer kans gesien het vir die lang pad Namibië toe nie. My fut was uit. Ek was bereid om vir tien dae te slaap.

Die week voor ons verlof sou aanbreek, google ek “Bus Tours in and around Cape Town” – dalk sal ʼn dagrit êrens in die Boland ons goed doen? Om geen spesifieke rede nie besluit ek en Helgard daarteen.

Teen einde Julie onthou ek van Maroela Media se Storiebustoer deur Namakwaland. Dis presies sewe dae voor die bus vertrek, maar ek doen nietemin navraag: Is daar nog plek?

Dieselfde dag antwoord Eugene van Maroela Media en Marné van Namakwa Toere. Hulle verduidelik kortliks: Namakwa Toere verskaf die wiele en toergidse en Maroela Media maak daarvan ʼn Afrikaanse storiebus. Ons vul gretig die vorms in, betaal en – soos my goeie vriendin altyd sê – dit was aand, en dit was môre, die derde dag.

Veld vol ridderspoor (foto Namakwa Toere)

Ek doen die Maandag en Dinsdag my laaste paar berigte en vertalings, gooi ʼn klompie warm kledingstukke in die wasmasjien, pak twee tasse (volgens ons toerlysie), en groet my mense en my bure se indrafkat.

Ons word Woensdagoggend wakker voor my wekker afgaan. Om 06:45 staan ons reeds voor ons woonkompleks se hek waar die Uber ons kom oplaai. Dis snerpend koud, maar ons voel soos skoolkinders voor ʼn lang en ver vakansie toe ons toerleiers, Mike Spies en Marné Lloyd van Namakwa Toere, ons by die eerste van vier oplaaipunte verwelkom en ons tasse in die bus se maag pak.

Annelize Brits en Eugene Lottering van Maroela Media is van die laastes wat by die lughawe by ons aansluit. Ons kry kleurryke sakke met allerhande bederfgoed daarin. Almal praat gelyk, Mike druk die bus se neus noordwaarts en Marné neem die mikrofoon.

Buite is dit nog donker, maar in my hart is daar reeds ʼn kers aangesteek.

‘n Tapyt van blomme (foto: Namakwaland Toere)

Ons toergidse was nie jou gewone jongmense wat sommer net die noodsaaklike geskiedenis of inligting aframmel of ʼn dun toerbrosjure uitdeel nie. Ons hoor nuwe dinge en doene en late van onse Jan van Riebeeck, Simon van der Stel, en hoe Swartland sy naam gekry het. Ons kyk hoe egte leerskoene in Clanwilliam gemaak word (en koop van die mooie stapgoed!), stop vir die lekkerste lamspasteie by Kardoesie in Piekenierskloof, verkyk ons aan die Olifantsrivier wat sterk loop, en loop proe en koop van Namaqua-wynkelder se wyn.

Om te verduidelik van die vyster-etes in Namaqua Lodge vanaf die aand toe ons aangekom het en die kreunende piekniektafels wat elke dag tussen die blomme opgeslaan is, sal my ten minste ʼn week besig hou. Om te vertel van die gasvryheid van die mense wat ver van die geraas van die stede lewe, sal ʼn onbegonne taak wees.

Die grondpad wat lei na Groenriviermond (foto: Annelize Brits)

In watter volgorde ek begin heelword het, weet ek nie. Heel moontlik was dit toe ek tussen die goudgeel katsterte by Willemsrivier gekniel en die aarde gesoen het vir my vriendin wat van daardie wêreld kom, en onthou het: Gee is om stil te raak. Só stil dat jy kan “hoor” wat die mense om jou nodig het.

Of miskien was dit toe ʼn paar van ons die grondpad na die see by die Namaqua-reservaat aangedurf het en ek weer bewus geword het van my skaduwee wat my rustig volg.

Dalk was dit die oggend langs die Maskamberg toe ek die vars lug as ʼn tasbare genade in my longe kon intrek. Of al die kere toe ons tussen die uitgestrekte dorheid ʼn lewende aarde moes raaksoek totdat my oë kon glo dat álles lewegewend is – selfs die wit kwartsklippies in die Knersvlakte. Dáár moes ek van voor af leer dat die natuur nie net deel vorm van ʼn perfekte, goddelike ritme nie, maar dat dit veel groter en blywender is as ons, die onverskillige en oneerbiedige mens.

As ek terugdink aan die dorpe waar kinders nog in die straat speel, die intieme samesyn in die aande toe Anna Davel ons betower het met haar sang, Annelize en Eugene die sitkamermat platgetrap het op die maat van die plaaslike boereorkes en storievertellers van formaat ons laat lag het tot die trane loop, het my hart se beker meer as een keer oorgeloop.

Hierdie storiereis sal ek nooit vergeet nie, al word ek honderd jaar oud. Dis asof ek my horlosie kon terugdraai na gister, toe mense nog tyd gehad het om mekaar in die oë te kyk en te gesels.

Dit was soos om met jou hart se behoeftes deur Namakwaland te reis …

Die hoogtepunt?

Om al hierdie oomblikke in my moedertaal te kon ervaar. Vir my was dit asof ek vir ʼn oomblik weer in my ouerhuis kon wees. En tussen die mense wat ek liefhet.

Wil jy graag volgende jaar saam met Maroela Media gaan?

As jy graag volgende jaar saam met ons wil gaan, vul die vorm in en ons hou jou op hoogte.

  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae