Gelukkige Griekeland

Santorini-kerkie met uitsig Foto: Marianne Styan

Santorini-kerkie met uitsig Foto: Marianne Styan

ʼn Mens kan nie anders as om gelukkig te voel op enige van die Griekse eilande nie.

Die gelukkige gevoel en die sprokiesmooi eilande is pasmaats soos die bekende wit gekalkte huisies met die gekleurde deure en vensterrame. Jy weet nie hoekom nie, maar dit werk net.

Griekeland is bekend vir sy eilande en het ook nie ‘n tekort aan die dobberende stukkies aarde in die Aegean en Ioniese oseane nie. Daar is maklik 6 000 Griekse eilande om van te kies. Menige van hulle is net ‘n klip in die see, maar dit kwalifiseer nog steeds as ‘n eiland. Altesaam 227 van die eilande word bewoon.

Die eilande word opgedeel in groepe: die Cyclades, Dodecanese, Sporades, Aegean, Ioniese en Saronic eilande.

Elke eiland het sy eie atmosfeer en sjarme. Kom ons gaan kuier op ‘n paar.

Mykonos

Wit gekalkte huisies met gekleurde deure en vensterrame, leisteenplaveisels, outydse grasdakwindmeule. Ja, hierdie hele prentjie kry mens op dié eiland.

Saam met natuurlik wind… baie wind. Dit is seker dan die rede vir al die windmeule. Blykbaar is die eiland nooit sonder ten minste ‘n ligte briesie nie, maar dit pla nie. Om die eiland se klein stegies en draaitjies met sy klein pikante restuarantjies te ontdek, is ongelooflik – wind of geen wind.

Mykonos is bekend vir sy lewendige en gesellige atmosfeer. Ook bekend vir die Ibiza van Griekeland. Alhoewel die toeriste hierdie klein eiland in hulle massas besoek voel dit nie regtig so oorvol nie, behalwe wanneer mens in die erg gekommersialiseerde areas rondsnuffel na juweliersware of Griekse uitrustings.

Vind jou weg deur die besonderse dorpie met ‘n gehuurde ATV (kwadfiets) of bromponie. Besoek die murasie van die ou fort, die windmeule, Little Venice (die prentjiemooi deel van Chora), of van die mooi kerkies.

Maar moenie sleg voel as jy net die atmosfeer wil indrink en jouself tuismaak by een van die menige kafeetjies of jouself oorgee aan die naglewe van lewendige eiland nie.

Die eilandbewoners is vriendelik en hulpvaardig in ‘n sterk geaksentueerde Engels. Hulle laat jou voel soos een van hulle en groet jou, na ‘n eg tradisionele ete van moussaka, soos ‘n goeie en ou bekende vriend.

Dis miskien hoekom menige toeris altyd wil terugkeer na die eiland en die bekende, Peter the Pelican, nooit wou wegvlieg nie…

Santorini

Prentjiemooi asof ‘n foto gestalte gekry het. Met witgekalkte mure, potblou geboogde dakkies met die bekende wit kruis daarop gemonteer, staar dié eiland se dorpies oor die oseaan. Nog meer gewild gemaak deur die Mama Mia-fliek wat hier verfilm is.

Moet egter nie geflous word nie. Santorini is die eiland, nie ‘n dorp nie. Op die eiland is daar ‘n paar klein dorpies, met Firo en Oia die bekendstes.

Die bekende kilometerlange trappe wat mens of te voet of met ‘n donkie of muil kan aandurf, word gevind vanuit die hawe by Fira. Moet egter nie skrik as hierdie manier van vervoer nie jou koppie tee is nie, daar is ook ‘n seskajuitkabelkar wat mens kan gebruik om binne twee minute bo te kom as die uitgetrapte, skewe kliptrappe jou nie aanstaan nie. Dit kos egter ‘n stewige €5 (byna R70) vir die twee minuut lange rit…

As mens eers bo is, kan jy die eiland na hartelus verken. Snuffel rond in die klein winkeltjies in die pragtig geplaveide stegies in Fira of vat die pad na die Noorde.

Oia is die dorpie waar mens die meeste bekende blou gekoepelde dakkies, waarvoor die eiland bekend is, kan sien. Die beste manier om die eiland te verken is per ATV of bromponie. Die onbeskryflike vry gevoel wat jy kry terwyl die wind deur jou hare waai op die “snelweg” vanaf Fira na Oia word gekomplimenteer deur die pragtige uitsig oor die see en die laslappielande van die plase in die verte. ‘n Ervaring wat mens nie moet misloop nie.

Oia kan egter ongelukkig ‘n vertrapping van toeriste wees net soos wat mens in die bul-nael kry in Spanje. Dit is die plek waar mens die perfekte Griekse-eilandfoto kan neem en dis hoekom daar om elke hoek amper ‘n georkestreede “Kodak-moment” geskep word met perfek geplaasde voorwerpe. Aangesien toerisme hierdie klein eilande aan die lewe hou kan mens dit seker verstaan en moet jy dit maar aanvaar.

Die beste manier om dit vry te spring is om weg te bly van die bekende straatjies en eerder die onbekende stegies te bewandel. Daar is nie ʼn enkele lelike uitsig van hierdie eiland af nie, dus sal jy niks mis as jy die agterstraatjies verken nie. Hierdie metode sal ook heel moontlik voorkom dat jy te veel betaal vir ‘n drankie wat in die meer bekende dele dubbel die prys sou wees.

Gelukkig is hier baie om te besigtig op en rondom die eiland, en word die massas effens versprei. Besoek ook gerus die vulkaan of die historiese dorpie Akrotiri.

Ten spyte van die toeriste-opeenhoping, is die eiland ‘n juweel en kan jy nie nader aan ‘n Griekse ervaring kom as hier nie.

Kefalonia

So besig en oorweldigend as wat die toeriste-massa op die ander twee eilande kan wees, so totaal rustig, vreedsaam en stil is hierdie eiland.

So asof in heilige ontsag vir die pragtige natuurverskynsels en strande wat mens hier kry. Mens kan jou so maklik verbeel dat jy een van die eilandbewoners is wanneer jy in die stil, rustige strate van die dorpies wandel of ontspan op ‘n strand.

Weereens bestaan die eiland uit verskeie dorpies waarvan Argostoli, Fiskardo en Sami die grootstes is. Die eiland is bekend gemaak deur die film, Captain Corelli’s Mandolin.

Nie net kan jy die “stadig lewe” atmosfeer hier geniet nie, mens kan ook die pragtige grotmere by Melissani gaan besigtig (die beste gaan wees om dit saam met ‘n groep te doen), die ruïnes van St George’s Castle besigtig of op een van die perfekte eilandstrande te gaan uitspan met ‘n mengeldrankie in die hand.

‘n Griekse eilandvakansie op sy beste.

Daar is nog baie bekende en minder bekende eilande om te verken in die Griekse glorie van eilande.

Al wat ek weet is, maak nie saak op watter eiland jy jou bevind nie, geluk sal jou altyd hier agtervolg. Want wat anders as om jou oor te gee aan niksdoen in so ‘n mooi plek, kan mens so gelukkig laat voel?

Ritsgids:

  • Om ‘n ATV of bromponie op Santorini of Mykonos te huur kan enige iets tussen €20 – €35 per dag kos. Soek maar rond vir die goedkoopste opsies. Hulle gee dit gewoonlik vir jou met ‘n leё tenk en stel dan voor om dit te gaan volmaak met €10 petrol. Hang af hoe ver en baie jy kan ry maar jy kan maklik van Firo na Oia en terug met €5.
  • Op Santorini kan mens te voet op loop met die bekende trappe, ‘n muil of donkie neem of met die kabelkar opry. Dit neem omtrent ‘n halfuur se vinnige stap om af te loop met die trappe. Die kabelkar is effens duur vir die duur van die rit maar dit is verseker die maklikste opsie.
  • Indien jy saam met ‘n groep na die Melissani-grotmere gaan, op Kafelonia, en jou toer in Argestoli begin, neem dit gemiddeld drie ure.

*Marianne onderneem al hierdie ervarings en bring jou reisartikel op haar eie onkoste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eliza-beth ·

Ai hoe onthou ek nou… met my ou witte donkietjie al op met die trappe in Santorini en ek wou die “donkie-drywer” aanrand as net met ‘n lat naby my donkie kom! Die mooie see, die son, die bloue en witte, Mykonos, Kreta (baie interessant as jy van geskiedenis en opgrawings hou)Patmos…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.