Gerrie Pretorius vertel oor die reise wat hom vrede gebring het

Gerrie Pretorius (Foto: Facebook)

As ʼn donkerkop-woelwater van Mosselbaai wat net wou surf – soos Gerrie Pretorius tergend na homself verwys – sou hy nooit kon raai dat die lewe hom na hoë hoogtes én na donker laagtes sou neem nie.

Ook nie dat hy as volwassene meer as een keer in die loop van ʼn geweer sou vaskyk nie en dat hy bykans twee dekades ná die aanvang van sy musiekloopbaan met die loop van die lewe vrede sou hê nie.

Dis ʼn wandelpaadjie van langer as 20 jaar sedert dié televisieaanbieder, een wat sy r’e bry nés die Mosselbaaiers kan, ná 48 ure as kommunikasiestudent op Potchefstroom besluit het: basta met die normale verloop van die lewe; hy soek avontuur – en nie sommer ʼn doodgewone wegbreeknaweek met ʼn kampvuur en ʼn kakie-tent nie. Die adrenalien moet soos ʼn sportmotor op die hoofweg teen die spoed van lig deur sy are pomp; hy moet wéét hy leef.

Toe doen het presies net dit: Hy wuif sy studies totsiens en gaan werk oorsee saam met ʼn pel met verblyf vir net ʼn enkele week en altesaam £50-sakgeld om hom aan die lewe te hou. Sommer op die eerste aand al gee hulle dié hele bedrag uit op ʼn jolige partytjie – die klere het gewaai, sê hy – en leef vir die res van die tyd sommer van brood en ham.

Hy en die pel het konstruksiewerk gedoen en hulself oor ʼn mik gewerk, vertel die sanger, maar hy kon homself nie een keer vang wens dat hy maar liewer in die gemak van sy Potchefstroomse koshuiskamer gebly het nie.

Later is hy tog terug na Suid-Afrika om bemarking te studeer. Dié studies het hy voltooi en selfs vir ʼn paar maande as bemarker gewerk, maar toe hy op ʼn dag die George-skou bywoon en op die verhoog moes klim nadat ʼn kunstenaar nie opgedaag het nie, het hy geweet hy sou maar eenmaal nie die kunstenaarsdrange binne hom kan blus nie – hy was eenvoudig nié vir ʼn kantoor geskape nie.

Gerrie in Portugal (Foto: Facebook)

Sommer op die einste verhoog het ʼn talentsoeker van Universal Musiek hom op die verhoog gesien en net daar en dan is hy ʼn platekontrak aangebied. Kort hierna is Met Liefde, sy eerste album, uitgereik. En dit was selfs nog voor die faam wat ander kunstenaars met treffers soos “Rooi Rok Bokkie”, “Skarumba” en “Meisie Meisie” behaal het.

Die laaste paar jaar is hy rustiger, vertel Gerrie by sy agent en bestuurder se huis in Pretoria. Konserwatief geklee in ʼn groen truitjie en sy hare na een kant gekam, lyk hy ver van die beeld van die man wat op televisie aktiewe vulkane uitstap en al selfs van naby kennis met ʼn krokodil en ʼn aanvalsgeweer gemaak het.

kykNET se Leef jou Reis-program, waarvan hy die aanbieder is, het baie dinge in hom kom wakker maak, sê hy. Jy sou jou nie verbeel as jy dink hy het vir ʼn wyle van die musiektoneel verdwyn nie. Hier teen 2012 het hy uitgebrand geraak en toe sommer besluit om vir eers ál sy aandag op Leef jou Reis te fokus, want hier kon hy twee van sy ander passies uitleef: reis en waaghalsigheid. Maar hy verwys nie daarna as waaghalsigheid nie, sê hy noem dit sommer domastrant.

“Daar is baie dinge wat ek al in dié lewe wys geraak het, en een daarvan is dat elke mens nou en dan ʼn blaaskans moet vat om weer perspektief te kry; anders word die lewe en jou loopbaan en die dinge waarvoor jy lief is later soos ʼn worsmasjien.

“Daar was ʼn tyd dat ek elke maand 21 konserte gedoen het. Toe ek maar 10 jaar in die musiekbedryf was, het ek al meer as ʼn miljoen kilometer agter konserte aangery. Ek dink ek het myself uitgebrand; jy geniet dit later nie meer nie. Die liefde vir musiek het in ʼn stadium begin wegkwyn. Nadat ek besluit het dis tyd om te rus, het dit my langer as vyf jaar gevat om weer te herstel.”

Gerrie tydens sy Leef jou Reis-reise (Foto: Facebook)

Hy moes doelbewus ʼn besluit maak om vir eers nié meer op die verhoog te wees nie, vertel die sanger. “Jy kan nie die publiek flous nie; musiek is so rou en eerlik, dis maklik om te sien wanneer iemand nie meer die passie daarvoor het nie. Ek het daarom besluit om my energie en passie in die Leef jou reis-program te sit omdat dit my soveel vreugde bring en omdat die reeks so ongelooflik goed doen. En mettertyd het daardie selfde ou passie weer teruggekeer – nóú is ek weer gereed vir groot dinge.”

Hy was maar nog altyd effens gespanne voordat hy op die verhoog gaan, bieg hy, maar sy eerste optrede ná die stilte het sy broek laat bewe – maar net so effentjies, lag hy.

“Dit was ʼn wonderlike gevoel om weer op grootskaal na die verhoog terug te keer. Maar dit wás senutergend. Ek het sit en bewe, my mond was droog; ek was erg gespanne. Ná twee liedjies was ek weer oukei. Dis hoekom ek altyd met optredes tussen die mense gaan staan – ek tap van hulle energie, en deesdae moet ek dit meer as ooit vantevore doen,” vertel hy.

Hy ly aan ongeneeslike wanderlust, terg die sanger. Hy love reis, sê hy met ʼn breë glimlag, en wanneer hy aan Leef jou Reis verfilm, wens hy elke keer dat dié ervarings nooit tot ʼn einde sal kom nie.

“Ek het ʼn soort rustigheid met dié reise ontdek. Ek het nou meer vrede met die loop van die lewe, met hoe dinge werk en met eindbestemmings van dinge. Ek weet ek hoef nie meer tien goed gelyk te doen nie. My toekomsblik is nou meer gefokus is as ooit vantevore; ek is meer verdraagsaam, ek neem die lewe nie so ernstig op nie. Ek is ʼn rustiger en gelukkiger mens,” sê hy.

Elkeen van die meer as 80 lande wat hy in sy lewe gesien het, het ʼn deel daarin gehad om sy horisonne te verbreed en die oogklappe van sy oë te haal, vertel hy.

“Ek het anderdag die Noorderlig in Ysland gesien. Ek kan dit vir niemand beskryf wat dit nog nie gesien het nie; ek het behoorlik staan en tjank omdat dit vir my werklik spesiaal was. Ek gaan nou binnekort vir die 100ste keer Botswana toe – en elke keer sê ek dankie, mag dit nooit ophou nie.

Gerrie in Botswana (Foto: Facebook)

“Elkeen van hierdie ervarings verander ʼn mens, dit bring vir jou vrede. Mense is so geneig om dinge in boksies te plaas, maar in die wêreld is daar honderde gelowe en kulture en ʼn mens leer die wêreld is nie so klein soos jy dink nie. Daar is soveel verskillende denkwyses daar buite dat jy jou nié blind kan staar nie. Reis maak jou horisonne breër, jy kyk met ʼn heel ander perspektief na die lewe; ʼn baie meer oop en breër perspektief.”

Dié reise was ook al propvol noue ontkomings, maar dis sommer alles deel van die pret, terg hy. ʼn Tipe pret wat hy nie sommer weer sou wou ervaar nie, sê hy dan.

Een van dié nare ervarings is toe die sanger en sy kameraspan van twee met aanvalsgewere in Afrika aangehou is.

Só vertel hy daaroor: “Ons was op die pad duskant Angola en het toe met Afrika op deur Zambië, Tanzanië, Kenia en toe Uganda gery. Ons wou my bakkie op ʼn boot laai om oor die Victoriameer te kom, maar daar was fout met die boot wat dié opsie vir ons onmoontlik gemaak het. Ons was egter teen dié tyd al twee maande lank op die pad en werklik redelik moedeloos.

“Ons het toe besluit om deur die Kongo en om die Victoriameer op ʼn verskriklike verlate pad te ry. Die GPS gil konstant ‘armed escort required’. Oral is onwettige padblokkades en planke met spykers word gebruik om die paaie te versper. Dit is in dié tyd dat ek met die AK47-geweer aangehou is. En ʼn mens moet die game maar mooi speel om te verhoed dat jy in die moeilikheid beland; hulle soek altyd geld en drank.

“Ek het nou al geleer om uit só ʼn situasie te kom: Ek sit altyd ʼn Johnny Clegg-liedjie op die radio en hoewel ek nie rook nie, haal ek in sulke omstandighede ʼn pakkie sigarette uit en steek een op. Ek klim dan uit, waarna hulle gewoonlik vra vir die items waarna hulle soek. Dan gee jy maar vir hulle ʼn sigaret, vra hulle om die geweer neer te sit, gee vir hulle ʼn bottel whisky en paai hulle maar om jou te laat gaan. En so het ons gelukkig nog elke keer vrygekom.”

Gerrie in Jordanië (Foto: Facebook)

Hy het ook in die loop van ʼn geweer gestaar toe hy oor ʼn heining geklouter het om die sogenaamde verbondsark in Ethiopië van nader te aanskou. Maar dit was pushing it, sê hy.

Daar was ook die keer toe hy 5 500 m bo seevlak ʼn aktiewe vulkaan uitgestap met nét jeans en tekkies – en toe byna nie genoeg suurstof gehad het om die tog na onder weer aan te pak nie. En ook die onlangse keer toe hy met yslike Nyl-krokodille kennis gemaak het in ʼn oop staalhok met ʼn tuinslang vir suurstof.

Ja, daar wás al kere dat hy gedink het hy sou dalk nie met sy lewe ontsnap nie, sê hy. Maar elke keer was hy nog veilig gewees en ná elke voorval was hy gereed vir nóg avontuur.

“Dis maar elke keer my ma se gebede wat ingeskop het,” terg hy. “Dis altyd vreemd as mens oor hierdie ervarings terugbesin en besef hoeveel kere jy werklik gewaag het. Maar nog nooit in my lewe het ek meer lewendig gevoel nie; nog nooit was ek gelukkiger of meer opgewonde om weer te begin verfilm nie. Nog nooit was ek op ʼn plek waar ek meer vrede oor die wêreld en die loop van die lewe gehad het nie – dís hoekom ék reis, en dis hoekom ek ander aanraai om te reis.”

Die verfilming van die jongste Leef jou Reis-seisoen skop in September vanjaar af en daar is planne vir nóg reekse. Die sanger het al sy ou musikante – sommige op viool, dromme, kitaar en selfs agtergrondsang – weer genader vir sy jongste album, ʼn tipiese Gerrie-album, wat binnekort uitgereik sal word.

Gerrie se gunstelingplekke

  1. Botswana – Dis dan net “hier anderkant”, sê hy, en die son kom glo op op ʼn heel ander manier as enige ander plek wê
  2. Turkye – Die land is al talle kere aangewys as die hoofstad van kultuur, en alles in dié land is doodeenvoudig net uniek en anders.
  3. Indië – Hy vrek oor eet, sê Dis kos en kultuur wat jy glo nêrens anders sal beleef nie. “Elke keer wat ek in Indië was het ek nog ʼn unieke ervaring gehad. Die vorige keer het ek in die middel van ʼn troue beland.”
  4. Zanzibar – Dis sommer om die draai en dis ʼn wonderlike plek om sommer te gaan ontspan, tapas eet en te gaan duik.
  5. Die eiland van Réunion – Die lawa is ongelooflik om te beleef en die dorpie herinner aan Parys; dis net aansienlik goedkoper, sê

Kyk ook na Maroela Media se prettige video waarin die sanger nuttige en oulike reiswenke met aanhangers deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Altyd n plesier vir die Jan Tuisbly om Gerrie se reisprogramme te volg. Hy bied dit met soveel energie en onopgesmuktheid aan en kom by plekke uit wat totaal uit die kollig is en dus sy program vefrissend nuut maak. Werklikwaar n besonderse wyse van aanbieding.

B ·

Geniet jou reisprogramme (en jou unieke aanslag op die tema) terdee, baie dankie!

Elsa ·

Wonderlike reise wat deur die beste aanbieder aan ons opgedis word. Johan Bardenhorst kan by hom kers opsteek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.