Gesinskuier in die Gamtoosvallei

kroonarend-1

Kroonarend.

Die pragtige ou kliphuis met die naam Kroonarend lê snoesig gebak in die laatmiddagson toe ons die plaas Bergrivier in die Gamtoosvallei binnery, skryf Carina Stander. Saam met my op reis is my man, Gerrit, ons seuns (nege en ses jaar oud) en my tagtigjarige ouers.

Tot ʼn paar maande gelede het my ouers op die plaas Bergfontein in die Bosveld geboer. Dis juis die ooreenkoms tussen die plaasname wat gemaak het dat ek vir Japie Williams geskakel het om ʼn naweekverblyf op sy plaas Bergrivier te bespreek. Japie se familie boer al 150 jaar op dié Oos-Kaapse grond. Stamvader William Williams is in 1802 in Engeland gebore en het in 1886 sy laaste asem op Bergrivier uitgeblaas – en dit het nie juis lank gevat vir sy bloedlyn om te ver-Afrikaans nie!

bord-langs-die-padSo sit ons skemertyd op die stoep van die kliphuis met sy netjiese rietplafon en Nguni-beesvel op die sementvloer. Gerrit en Oupa braai wors, ek maak slaai en luister met een oor hoe Ouma vir die seuns sprokies lees. Ek hoor hoe dié gewese-taaljuffrou tussendeur vir hulle skryfstylverskynsels soos idiome en intensiewe vorme uitwys. Voor hulle is ʼn soetdoringboom met dorings soos horings. Nguni-beeste wei teen die berghang. Bobbejane roep uit die kranse. Swaeltjies swerm verby; later die vlermuise. Toe die kinders al vas slaap en die sterre vonkel, sit ons vier groot mense steeds op die stoepie en kuier, sonder selfoonontvangs of skootrekenaars – ons gesin se een-naweek-per-maand uitvars van tegnologie.

Die volgende oggend ná ontbyt vat ons die voetslaanpad na die Waterval-roete. Die boomwortels verkleur die stroompie koffiebruin, maar dis skoon water. Op met die rotsagtige kloof loop ons, verby varings en die geelhoutboom met die kroonarend se boskasie-nes. In die bergpoel neem ons ʼn verfrissende vroegoggend-swem terwyl die bedreigde rooivinvissies aan ons knibbel.

Laatoggend rits ons op in Gamtoosvallei verby duisende sitrusbome. Regs van ons is ʼn hoë krans van spoelklippe – só ver van die kus beteken dit dat hier eens op ‘n tyd ʼn binnelandse meer was? In dié krans herken ons die profiel van koningin Victoria! Deur ʼn rietrivier ry ons, verby blou syselbosse, aalwyne, spekbome in oranjebruin grond. Toe ons deur die stil, lang tonnel van die halfeeu-oue Kougadam stap, voel dit of ons oorstap na die Anderkant.

baviaanskloofHierna verken ons die Baviaanskloof, ʼn wêrelderfenisgebied. Grootrivier se Poort is allerpragtig. Reg voor is hoë plooiberge in skakerings van pienk, bruin en mosterd. Links is die groen rivier waar wit pluise van biesies waai. Ons klim uit en stap ʼn ent met die grondpad af in die smal poort. Ou bosvye klou teen die kranse. Anderkant Cambria begin die donderweer rammel en ons moet omdraai. “Wat ek vandag gesien het, het ek nooit verwag nie,” sê Oupa.

Donker terug by Bergrivier stook Gerrit die donkie dat ons warm kan stort. Vanaand slaap ons in regte, egte gerestoureerde ou ossewaens! Terwyl die donderweer oor die berge dreun, gesels ons oor die aanhaling wat ons op Bergrivier gelees het:
Oor die land van alle lande lê ʼn wapad geborduur
dis die kerwe van die bande uit die wamaker se vuur.

“Die ossewa was die Voortrekker-pionier se woning, slaapkamer, bruidskamer, geboortekamer, siekekamer, sterftekamer. Dit was sy jagtershut en in oorlogstyd sy fortifikasie teen enige aanslag.”
“Dit was hulle alles?” sê-vra my oudste. Ditsem. Hulle alles.
Die volgende oggend reën dit steeds. Mistigheid waai oor die berge en die kinders wil-wil kla: “Ons kan nie buite speel nie. Hier’s nie ʼn rekenaar of tablet nie … wat doen ons nou?” Gerrit steek vir hulle ʼn prekie af oor hoe ʼn ware verkenner of Voortrekker soms gaan natreën en ver ry na mooi plekke – en in ʼn ommesientjie verander hul gesindheid. Hulle slaan bolmakiesie in die ossewa, steek vir mekaar goedjies in die wakis weg en hou vir ons ʼn vendusie waar hulle kammakastig alles opveil – van die spantou tot die kruitvat gemaak van beeshoring. Saam met Oupa sit hulle binne-in die ossewa terwyl hy roep: “Komaan, voorleier! Moenie tou opgooi nie!”

Oupa raak skoon bewoë toe hy vir hulle vertel van sy eie voorosse, Waterberg en Domkrag, waarmee hy halfeeu gelede in die Bosveld geploeg het….

Sondagmiddagete by Spekboomlapa buite Loerie is ʼn belewenis! Mariette de Koning bedryf dié restaurant op die plaas waar haar man en sy broer boer. Die uitsig oor die vlei is wyd, kinders hol rond en voer die reuse-skilpad in die tuin wortels terwyl die grootmense koffie drink. Flaminke vlieg in pienk swerms by ons verby en pronk in hulle honderde tussen die riete. Teen die oorkantste heuwel is die eienaars se lemoenboorde. Njalas en sebras wei en ons wei heerlik saam aan ʼn stewige bord kos vol flair: ʼn voorgereg van calamari en aartappelwiggies, gebraaide camembert en vye; hoofgereg van lamsboud, hoender “à la king”, frikkadelle en geroosterde groente; afgerond met kaaskoek. Watervoëls skater deur die vleiland terwyl ons ons verlustig aan die De Konings se koninklike boerekos en mekaar se geselskap.

Reisraad
Op die familieplaas Bergrivier is ʼn aand in die ossewa en kliphuis ewe spesiaal. Skakel Japie en Dorie Williams by 042 286 0694 of 083 230 6910. Besoek die webwerf www.bergrivier.com.

Spekboomlapa is met goeie reg Mariette de Koning se trots! Jy kan aan behoorlike porsies smul teen R120 per volwassene of R75 per kind jonger as 12. Dis oop van Vrydag tot Sondag en uiters gewild. Bespreking is noodsaaklik: Skakel 071 658 4715 of 082 5555 328.

Toerisme-inligting oor die Baviaanskloof: Skakel 042 283 0437 of besoek www.baviaans.net.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.