Gou-gou Londen toe en terug

Buckingham-paleis (Foto: Dalene de Vente)

In die middel van die nag staan ek in Dunkirk in Frankryk op die hawe en kyk vir die boot wat ons gaan bring tot by Engeland. Soos ‘n gedweë skapie volg ek die massas tot by die verdieping van die boot waar ek moet wees. Dit moet die Afrika-kind in my wees, maar ek kan nie ophou staar nie…

Die boot is soos ‘n winkelsentrum: die toerbus waarop ek die aand vantevore in Zwolle ingeklim het, parkeer in die onderste verdieping tussen klomp ander karre. En dan gaan jy met die trappe op na boonste verdieping. En as jy bo kom lyk dit soos ‘n groot winkelsentrum wat rondom ‘n restaurant gebou is. As jy by die groot glasvensters van die boot uitkyk, sien jy net diepblou waters en ‘n donker nag… en in die verte: Frankryk se liggies.

Ek sit soos ‘n opgewonde kind my gesig teen die venster: jy kyk vir Fránkryk, Dalene! Dis jou droom! En jy is op ‘n boot op pad na Engeland!

Oral slaap mense op restaurantstoele. Ek weet ek moet ook slaap, want ek het ‘n hele dag in Londen wat voorlê. Maar ek kan nie! Die opwinding van die boot is amper groter as die feit dat ek op pad is na Londen. Ek koop vir my ‘n cappuccino met die eerste £6 wat ek ooit gebruik.

Ná wat soos ‘n leeftyd voel, sien ek die eerste sonlig deur die boot se glasvensters. Ek moet buitentoe gaan! Ek loop rond en soek totdat ek dit het: die dek…

Ek kan nie die skoonheid beskryf van die blou, blou waters nie. Ek staan net en staar en staar en staar na die oranje sonstrepe teen die blou water.

En toe die eerste wit kranse van die Engelse strande begin wys, kry ek trane in my oë. As jy niks verwag het van jou eerste indrukke van Engeland nie, en jy sien skielik Dover Beach se wit kranse in die dag se eerste sonligstrale, dan is dit die mooiste ding wat jy nog ooit gesien het.

Die toergroep klim weer terug op die bus en ons ry verder. Die oggend om agtuur kom ons aan in die hartjie van Londen en my eerste stop is by Trafalgar Square waar ek tussen die duiwe my jogurt eet (al die pad saamgesleep in my rugsak vanaf die Plus-supermark in Wezep, Nederland).

Wat ek nooit besef het nie, is dat daar nie net een tipe rooibus in Londen is nie. Nee, daar is hordes! Ek het net ‘n rooibuskaartjie geboek en voila! Maar toe ek in die eerste beste bus wil klim, is daar uitroepe van verontwaardiging. “This is not your bus! You are with another company!” Effens verbouereerd. Half deurmekaar. Gelukkig staan daar orals personeel van die busondernemings in die strate rond.

As mens net ‘n dag het in Londen, is dit te min. Maar ek kan sê dat ek gesien het wat ek wou sien. En beleef het wat ek wou…

Ek het voor die Buckingham-paleis gestaan en droom oor al die honderde jare wat mense al deur die hekke gekom en gegaan het. Ek het Green Park geloop en gedagdroom. Ek het Coke gedrink by Leicester Square. Ek het verby St. Paul’s Cathedral gery en was op ‘n bootrit op die Teems.

En later die dag toe ek nie meer my oë kon oophou nie, sit ek op die boonste verdieping van die rooibus en kyk na Londen terwyl dit twee keer ‘n draai deur dié groot stad ry. Ek was hartseer om weg te gaan uit Londen. Die mense sê dis sommer net omdat Engeland se geskiedenis regtig interessant is. Maar ek het iets gevóél – asof daar êrens in my verlede voorvaders was wat ook deur die strate van Londen geloop het.

Die toerbus ry seweuur die aand weer uit Londen uit. En toe ek my oë oopmaak, is ons terug in Nederland. Ek koop vir my ‘n koffie op Zwolle se stasie voordat ek op die trein klim na Wezep, waar ek kuier vir die week.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dr Phil ·

Dalene, weer eens lekkerlees, beskrywende leesstof. Jy maak dat dit voel of ons saam reis. Al ooit gedink aan ‘n reisboek skryf?

Dalene de Vente ·

Hallo Dr Phil!

Dankie vir jou mooi woorde. Dit is my droom om ‘n reisboek te skryf!

Groete
Dalene

Adele ·

Baie dankie vir die mooi beskrywing…dis presies hoe ek London ervaar het. Ek kon dit net nog nooit so mooi stel nie. Ag, ek was vir n oomblik weer terug in die plek waar ek my hart verloor het.

Dalene de Vente ·

Ek het ook my hart verloor in Londen. Ek sal enige dag weer ‘n draai maak daar.

Liza ·

So lekker lees. Weereens. Dit was nie op my lysie om London te gaan besoek nie, maar nou is dit!

Andre ·

Londen is awesome en ons sal jou enige tyd terug verwelkom! Laat weet ons as jy weer hier is, dan drink ons saam ‘n Pint!

JohanR ·

Ek weet mens moet maar net oe toe maak, en maar daai cappuccino kry. Wat anders is daar om te doen as jy dors is? Maar daai £6 maak seer. R114.30c vir ‘n cappuccino!!

Dalene de Vente ·

Haha, Johan! Ek het nogal gewonder of iemand dit gaan raaklees. As ek reis dan vat ek gewoonlik al my kos saam en gebruik my geld net om sulke duur cappucino’s te koop.

Renate Lenz ·

Dalene, ek skryf gewoonlik nie kommentaar nie, maar jou woorde het my laat voel asof ek daar is. Jy skryf baie goed. Ons sien uit na nog beskrywings van jou reise. En ja, ek dra ook my kos saam!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.