Grand Prix in die Karoo

philipstown-fay-cassim-van-borg-mulilo-by-een-van-die-deelnemers

Fay Cassim van die borg Mulilo by een van die deelnemers. Foto: Verskaf.

In die ou tyd toe ons ouers se ouers grootgeword het, was daar in talle huisgesinne nie geld vir speelgoed nie en was kinders oorgelaat aan die lot van hulle eie kreatiwiteit. So is kleiosse en -poppe gemaak uit rivierklei, en ander speelgoed gemaak uit weggooigoed in die tuin en rondom die huis. Die belangrikste was verbeelding – om jouself te vertel dat die poppie van klei eintlik ʼn baba is, met ʼn naam en met emosies en dat sy regtig soms kon huil as jy haar buite vergeet het.

Vandag se kinders is anders. Hulle weet nie eens wat kleiosse is nie en nog minder van hulle weet waar om die klei te kry. In winkelsentrums en restaurante sit kinders vasgenael voor iPads en selfone, met hulle vingers wat soos blits oor die knoppies beweeg. Hulle kyk nie links of regs nie. Hul ouers moet hul aandag probeer trek as hulle moet eet of slaap. Die iPad gaan oral saam en as maatjies kom kuier dan word daar langs mekaar gesit, elkeen op sy eie iPad met sy eie speletjie.

Maar in die hart van die bo-Karoo, in ʼn wêreld wat onder klip en sand uitsteek soos ʼn oase in ʼn woestyn, werk dinge anders. Die iPad en sy maatjies het nog nie die klein plattelandse dorpie, Philipstown se kinders bereik nie, en selfs al word daar 2 000 iPads afgelaai, sal die kinders hier dit nooit kan bekostig nie.

Maar, gelukkig vir die brandarm kinders hier, hoef hulle nie iPads te hê nie, want hier is dit nie belangrik nie. Hier is dit belangrik om ʼn draadkar te besit waarmee jy kan spog. En elke jaar, tydens die jaarlikse Draadkar Grand Prix, kan jy hier met jou draadkar die ander kinders kom jaloers maak.

Dié Grand Prix bring kinders van die gemeenskap, dié van die township sowel as dié op plase byeen. Die uitdaging is om óm die dorp met die karretjies te jaag om eerste die wenstreep te bereik. Die kinders moet verseker dat hulle karre sterk genoeg is – om die 1,4 km reg rondom die dorp af te lê moet die wiele kan hóú. Hulle mag ook nie hulle karre optel en dra nie, en al vier wiele moet te alle tye op die grond wees. Die karre word gemaak uit blik, draad, papier en hout. Van die kinders is egter baie kreatief en gebruik weggooi- en herwinbare materiaal.

Net so duskant Philipstown, agter die bekende Pramberge, toring ʼn reeks windmeulens bokant die verlate koppies uit. Dit is deel van die Mulilo- hernubare energieaanleg en wek elektrisiteit op wat na die nasionale elektrisiteitnetwerk gevoer word. Die plaaslike gemeenskap word dan uit armoede gelig met die dividende wat die projek genereer.

Mulilo het vanjaar gesorg dat die Draadkar Grand Prix ʼn groter sukses was as tevore. Die wenner van die wedren het ʼn splinternuwe fiets gewen en almal op die fees, wat grootliks in onkenbare armoede gedompel is, kon ʼn feesmaal ná die wedren geniet. Elkeen van die 150 deelnemers het ook skryfbehoeftes ontvang vir die 2017 skooljaar.

Daar was vanjaar ook ʼn modeparade en die rokke moes uit herwinbare materiaal gemaak word. Dit was ʼn rok wat uit ou tydskrifte gemaak is, wat die kroon ingepalm het.

Die Grand Prix word elke jaar in Oktober gehou en is een van die hoogtepunte op die Karoo-kalender. Dit gee ʼn mens weer opnuut waardering vir die dinge wat ons so as vanselfsprekend aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Emile ·

Sjoe!
Wat ‘n puik-geleentheid vir kindwees vier.
Sou daar wou wees.

Elize Hyman ·

Dit was sommer ‘n fees, poedingtafel soos gewoonlik weer baie gewild. Ai, hoogtepunt vir die kinders, en almal wat so hard gewerk het om dit ‘n sukses te maak, baie, baie dankie.

Henk Joubert ·

Baie goed berig, dankie Anina. Philipstown is voorwaar ‘n juweel in die Bo-Karoo. – ‘n Juweel wat deesdae al hoe meer tot sy reg kom.

Hannes ·

Groot mighty women saam trek vir alle vroue eers kom ended naweek te willowmore

Louwrens ·

Verlang ek ook nou terug na my jong-jong dae. Draad gesteel uit my pa se draadstoor en dun gekleurde telefoon draadjies by die poskantoor tannie gekry. Vir my n draadkar gemaak met koeldrankblikkie wielletjies. Tussen die vrugtebome in die boord my “plaas” uitgele en gespeel tot laataand saam met al my swart tjommies. Ons het naderhand n versameling van 7 draadkarre gehad. As jy nie dadelik n draadkar gehad het nie, kon jy n motorband in die paadjies rol. Dit het ook getel as n motor.
Dit is n pragtige berig. Die waarde wat hierdie kinders kry is baie meer as wat enige i-pad ooit vir hulle sal gee.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.