Haal die stres uit oorsese gesinsvakansies

Argieffoto (Foto: pexels/Pixabay)

Ek is mal daaroor om ons mooi land te verken met vakansietye. Om doodeerlik te wees, is dit deesdae vir my eintlik net makliker om dit te doen. Met kinders is niks meer goedkoop of noodwendig maklik nie.

Elke nou en dan wil mens egter nie net die gesin bederf nie, maar ook jouself as ouer. As jy dan al ʼn ruk lank ʼn geldjie weggesit het en jou voete begin jeuk vir avontuur, is dit lekker om te loer na oorsese opsies wat dalk nie elke jaar moontlik is nie. Dis weer daardie tyd van die jaar wat mens amper kan sê jy het ʼn lisensie om te begin droom oor sulke vakansies.

Ek het gaan loer na ʼn paar opsies, wat dalk effens duurder is, maar wat die stres uit so ʼn gesinsvakansie sal haal.

Ek het ervaar dat ek nie regtig meer “vakansie” hou tydens vakansietye nie. Ek is permanent besig om na almal om te sien, kos te maak, inkopies te doen, idees te soek om kleuters mee besig te hou en sommer net seker te maak almal is veilig en gelukkig.

Daarom is daar geen beter opsie as om ʼn vakansie te kies wat nie net propvol aktiwiteite is vir elke gesinslid nie, maar wat ook kos en sommer ʼn kinderoppasser of twee insluit.

Hier is ʼn paar redes hoekom jy die volgende opsies kan oorweeg vir jou volgende vakansie oorsee.

Opsie 1: Club Med-oorde

Argieffoto (Foto: cuncon/Pixabay)

  1. Hierdie oorde is bitter gewild onder gesinne. Een van die hoofredes is omdat mens hulle oorde in meer as 70 lande kan vind. Dit gee jou die geleentheid om nie net ʼn ander land te verken nie, maar om dit saam met jou hele gesin doen, sonder dat enigeen verveeld raak of jy nie die kans kry om ook te kan ontspan of die land te geniet nie.
    Dit sluit ski-avonture in op die hange van die Franse Alpe by een van die nuwe oorde, Club Med Samoëns Morillon, of om die Mayan-ruïnes te ontdek in Mexiko naby die Club Med Cancun Yucatan-oord (nuut oorgedoen); of gaan ontspan net op ʼn strand en geniet die son en see van die vele oorde op Mauritius. Die opsies is legio en elke keer kan iets nuuts wees.
    Regdeur die bank kan jy egter staatmaak op die vriendelike en uitmuntende diens wat Club Med kenmerk.
  2. Elke vakansie is ʼn aktiwiteit-utopie sonder dat mens dit besef. Met meer as 60 verskillende aktiwiteite om van te kies insluitend sokker, joga, kajak, water-ski, vlugbal, boogskiet, snorkel, dans, golf, sirkusaktiwiteite en nog vele meer, sal nie een gesinslid verveeld wees tydens die vakansie nie.
    Club Med en Cirque du Soleil het ʼn spesiale interaktiewe sirkuskonsep geskep by oorde soos ondermeer Club Med La Plantation d’Albion in Mauritius en Club Med Phuket waar hulle gebruik maak van kundige personeel wat 25 ontspannings- akrobatiese aktiwiteite aanbied.
    Daar is dus nie een ouderdom gesinslid wat afgeskeep sal voel nie. Met spesiale klubs, vir ouderdomme van vier maande tot 17 jaar, wat aktiwiteite en fasiliteite aanbied vir elke spesifieke groep, sal jy heel moontlik die kinders vir die hele dag nie sien nie.
    Kinders onder 12 jaar bly ook verniet by Mauritius-oorde.
  3. So veel kos as wat jy kan/wil eet! By hierdie oorde is al die etes ingesluit. Vir elke smaak en ouderdom is daar voorsiening gemaak. Kinders kan selfs hulle eie kos maak by van die aktiwiteite wat aangebied word. Fantastiese sjefs by al hierdie alles-ingesluit-oorde berei smaaklike ontbyte, middag- en aandetes voor, met versnaperinge, so veel as wat jy voor lus is, reg deur die dag. Elke oord sal ook vir jou ʼn smakie gee van die plaaslike “kombuis” van elke land waarin jy jouself bevind. Hulle maak voorsiening vir mense of kinders met allergieë.
    Hierdie sal verseker vir mamma ʼn heerlike breek gee om ook werklik te kan vakansie hou.
  4. Gesinsbande word weer opnuut versterk. Club Med-oorde is spesifiek so ontwerp om seker te maak dat die hele familie nie net die hele tyd vermaak word nie, maar om dit in ʼn pragtige en ontspanne omgewing te kan doen, sodat die gesin mekaar weer kan waardeer en kwaliteittyd saam kan spandeer. Dit neem jou vir ʼn rukkie weg van jou besige en gejaagde alledaagse lewe en gee jou die geleentheid om nuwe dinge en lande te kan ervaar saam met jou gesin.
  5. Meeste van die tyd sluit die prys wat jy sien vliegtuigkaartjies en vervoer na die oorde in. Indien jy nie ʼn ervare reisiger is nie, neem dit enige stres uit hierdie deel van die avontuur. Om boonop met kinders te reis is ʼn hele nuwe ervaring en mens wil nie nog hieroor ook bekommerd wees as jy probeer om jou kroos bymekaar te hou nie. (Let wel: Jy kan versoek dat jy jou eie kaartjies bespreek indien jy gebruik wil maak van reispunte.)

Opsie 2: Skeepsvaart (passasierboot)

Argieffoto (Foto: mustangjoe/Pixabay)

  1. Een van die grootste redes hoekom ek glo skeepsvaarte is ʼn lekker gesinservaring is omdat jy verskeie lande in ʼn kort tydjie kan sien, sonder die stres om deur menige lughawens te moet beweeg. Geen urelange oponthoude op lughawens, veelvuldige paspoortbeheer, ens. nie. Jy pak ook net een keer jou tas uit vir die week, maar elke dag maak jy jou oë oop in ʼn ander land se waters. Daar is ook altyd een of twee nagte in ʼn hotel in die stad/land van die vertrekhawe ingesluit in die pakkette. Dit maak seker dat niemand die skip verpas nie en dus haal dit die stres uit daardie deel van die ervaring.
  2. Kos, kos en nogmaals kos! Weereens is alle kos ingesluit – ontbyt, middagete en aandete. Daar is verskillende opsies om van te kies. Spesialiteitsrestaurante op die skepe se etes is egter nie ingesluit nie en word apart betaal. Daar is ook die basiese drankies beskikbaar, maar enige iets ekstra kan deur drankpakkette aangekoop word. Dit is meestal goedkoper om vooraf ekstras soos drankpakkette en internetdata te koop, aangesien die prys sal verander soos die waarde van die rand styg of daal as jy dit aan boord koop. Net MSC-skepe se pryse word in rande bereken.
  3. Passasierskipmaatskappye soos MSC, Costa, Royal Caribbean en Norwegian Cruises is veral familie-vriendelik en bied gewoonlik heerlike pakkette vir gesinne. Hulle bied gesinskamers (slaap vier) wat ook ʼn groot invloed het op die pryse. Hierdie skepe bied ouderdomsverwante aktiwiteite met klubs vir elke smaak en akkommodeer kinders van 2 maande tot 17 jaar. Rotsklim, ysskaats, mini-golfbane, verskeie swembaddens en arkades vir die jongeres hou die kinders vir ure besig. Daar is selfs nagklubs vir die tieners. MSC en Costa (drie sterre) se kostes is die bekostigbaarste, omdat kinders wat saam met twee volwassenes reis, nie ʼn vaartfooi betaal nie, net die hawebelasting. Die koste per kind is dus amper tussen 80% en 90% minder as per volwassene. Indien ʼn kamer gedeel word tussen twee volwassenes en twee kinders op ʼn Royal Caribbean of Norwegian Cruise (vier- tot vyfster)-skip kan die bedrag per kind tot 60% van die bedrag wees wat die volwassene betaal.
    MSC bied natuurlik heerlike en goedkoper vakansies wat begin vaar vanuit Suid-Afrika, wat maklik die koste vir so vakansie tot die helfte of selfs meer kan sny.
  4. Let wel dat uitstappies op land nie ingesluit is by die prys nie. Alhoewel dit soms lekker is om wel deel te neem aan een van die interessante ervarings wat hulle bied tydens hierdie uitstappies, soos perdry op ʼn strand in Jamaika of abseil in Mexiko, is dit dikwels baie lekkerder en goedkoper om jou eie weg te vind in die land waar anker gegooi word. Doen net bietjie navorsing voor die vakansie wat daar is om te sien.
  5. Vliegtuigkaartjies en vervoer is meestal ingesluit in die pakkette wat geadverteer word. Maak egter seker hiervan wanneer jy bespreek. Cruiseabout is deel van Flight Centre en hulle probeer die stres uit jou vakansie haal deur vir jou die hele pakket te bied. Dit help ook indien jy nie ʼn ervare reisiger is nie en kan hulle op só manier al die administrasie hanteer voor, tydens en na die vakansie.

Begin solank droom vir 2019!

*Lees gerus ook Marianne Styan se artikel Hoe om met kinders te reis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marco polo ·

Nee dankie, vir beide. Gee my net my rugsak. Dit is juis die bietjie sukkel en interaksie met mense van ander lande wat sorg vir n onvergeetlike avontuur. n Oordvakansie of bootreis is steriel, jy kan dit netsowel in SA doen en jy sal dieselfde ondervinding he.

Nee dankie ·

Janee klink ook nie asof dit vir ons gaan werk nie, ons verken die lande self, die vervoer is bietjie stresvol omdat ons in SA dit nie gewoond is om op treine en trems en busse te ry nie .. ook die gesoek na sekere strate en plekke, maar dit is ALLES deel van die AVONTUUR en ek hoef in GEEN ander toergeselskap se gesigte vas te kyk nie ..

Andre ·

Die “gewone” bootreise is ook nie vir my nie.
Bitter min Suid-Afrikaners (indien enige) weet egter van Star Clippers. Totaal en al in ‘n ander klas. Gaan google hulle.

Piet Snot ·

Rugsak is goed; my gunsteling.
Bootreis is egter uit ‘n ander wêreld: ek kan verstaan hoekom sommige mense jaar na jaar teruggaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.