Herontdek Hermanus

south-africa-1206988_1920Verlede maand het ek vir die eerste keer in twaalf jaar die afdraaipad na Hermanus gevat. Een van die aangenaamste maniere om weer onder die vel van ʼn plek in te kom, is om dit van bo te bekyk, soos ʼn vogeltjie. So rits ek en my gesin laatmiddag met die kar op met Rotaryweg, al hoër verby die plek waar die teerpad ophou, op ʼn kort stuk grondpad tot waar ʼn hek ons stuit. Al is hier droogte in die Wes-Kaap, is die fynbos steeds piekfyn. Pienk raasblomme. Heide. Donsige wit blommertjies wat my laerskoolkind, Aden, opgewonde laat uitroep: “Dit lyk soos my kat se tone!” Agter ons is berge. Voor ons is die see en die feestelike kusdorp. Oos is die strandmeer. Ons uitsig strek oor die hele Walker Bay en die vrugbare Hemel-en-Aarde-vallei. Die Ou Hawe dateer nog uit die tyd toe Hermanus net ʼn vissersdorpie was. Ons asem die lug in. Kraakvars. Sjampanje-lug, noem hulle dit. Kort nadat die son sak, maak die volmaan haar verskyning. En nie watse volmaan nie: die derde en laaste supermaan van 2016!

the-marine-hotel-hermanus

The Marine-hotel in Hermanus.

Van die vroegste inwoners, wat hulle in die 1600’s hier op die berge en rotsagtige kuslyn kom vestig het, was die Khoi, oftewel die Quenna. Twee eeue later het Hermanus Pieters, ʼn onderwyser, die varswaterfontein van Hermanus ontdek en die boere van die Overberg het met hul ossewaens beginne uitspan vir lang somervakansies. Nog ʼn honderd jaar verder in die geskiedenis en die posmeester knip die lange pleknaam kort en herdoop dit na Hermanus. In 1902 is die legendariese The Marine-hotel gebou en al was dit sonder lopende water of elektrisisteit, was dit van die begin af uiters gewild – dit kón immers spog met moderne geriewe, soos twee spoeltoilette op elke vloer! Gou het die hotel naam gemaak vir die grênd danspartytjies van die 1920’s; die wealthy and well-known soos prinses Alice het hier kerjakker. Ná dekades van oppe en affe is The Marine in 1998 oorgeneem deur Liz McGrath, een van die min vroue op aarde wat in haar leeftyd drie historiese hotelle gerestoureer het tot topklas instellings.

Die aand nadat my seuns ʼn borrelbad gevat het, lees hulle ʼn slaaptydstorie wat die vriendelike mense van The Marine vir hulle op die bed gelos het – in Afrikaans, nogal! Ek en Gerrit drink ʼn glas rooiwyn op die balkon en ons almal word die aand aan die slaap gesus deur ʼn see wat sjuut-sjuut in ons ore fluister.

hermanus-1781907_1920Die volgende oggend, terwyl Gerrit die berge uitdraf en die seuns laat slaap, skryf ek aan ʼn rubriek. Ontbyt by Pavilion is ʼn belewenis. Aden smul lapservet-op-die-skoot aan sy gesofistikeerde briekaas-en-gerookte-Franshoek-salm-croissant, maar sy kleuterboetie Ilan kry die bevlieging om die bord met kiwivrugte uit te lek op die presiese oomblik toe die bestuurder ons by die tafel kom groet! Oeps…

Ons eerste dag in Hermanus was so winderig dat die sand ons seer gepiets het, maar die volgende dag was windstil en wonderlik. Al is die son warm, vat dit mannemoed om die ysige see aan te durf. Blou om die kieue duik ons in en uit die branders. Hierna stap ons oos van Kammabaai na Voëlklip – vir my die mooiste van die strandjies met lekker louwarm getypoele. Daarna woerts ons per kar na Grotto-strand met sy uitgestrekte wit sand en Blouvlagstatus. Die strandmeer is mensvry.

Skemertyd stap ons die mooie Walkerbay-roete, toe ʼn walvis se stert bo die water klap! Hermanus is met reg bekend as die walvishoofstad van wêreld, want ʼn horde suidelike noorkappers migreer jaarliks van Antarktika om hier te kalf en paar en die wintermaande is die beste tyd om hulle te sien.

love-alone

“Love Alone” van George Holloway .

Biodiversiteit-stap (ook Sjampanje-myl genoem) is ʼn ekostappie wat swenk oor kranse en deur veldblomme langs die kus. ʼn Dassie of drie kom wys gesig. Op die rotse is kunswerke van ons land se voorste beeldhouers, soos Lionel Smith en Guy du Toit. “Love Alone” van George Holloway is ʼn enorme staalbeeld wat vir pret en plesier sorg toe my seuns die posering probeer na-aap. Jaco Siebenhagen se blou vrougesig wat bestaan uit voëls getiteld “Reisigers”, is my gunsteling.

Iets wat my grensloos beïndruk, is hoe goed die dorp ingerig is vir vakansiemense. Die sypaadjies is ruim, die dorpskern kompak, die inligting op straat volop en die strande skoon. In my 48 uur in Hermanus het ek nie die kans gehad om in te loer by een van die wonderlike wynplase, museums of kunsgalerye nie, maar gou kon ek die kusdorp se ontspanne atmosfeer aanvoel en indrink. By die aandmark langs ʼn skool, was daar heerlike deli-produkte; ons kinders het treintjie gery; ek het pragtige swaeltjies gekoop wat ʼn swartman met ʼn blikskêr uitknip en verkwansel teen ʼn spotgoedkoop R10 stuk! Sulke landelike luukses hier digby die see wat van walvisse wemel.

REISRAAD

* Word wakker met die see op jou voorstoep! The Marine is Hermanus se 116 jaar oue grand madame met 40 unieke slaapkamers. Bespreek by 028 313 1000 en besoek die webwerf: http://www.collectionmcgrath.com

* Die Origins restaurant put inspirasie uit inheemse kulture, bestanddele wat versamel en gejag word in die omgewing, plaaslike geure en kleure van die seisoene. Dié opwindende nuwe spyskaart is ontwikkel deur die begaafte sjef, Peter Tempelhoff. Vir hoofgereg kan jy jou verlustig aan ʼn bord propvol land-en-see-spesialiteite, soos Weskus-kreef, garnale, Maleise mossels, kalamari en lendebief. Poedings om jou hart op te verloor, is ʼn trio van brûlée-sjokolade, vrugte en speserye, asook kokosneut en wit sjokolade met lemmetjie-roomys. Bespreek betyds vir middag- of aadete: 028 313 1000

* Hermanus is heel gerieflik naby aan die lughawe, skaars 120km vanaf Kaapstad. Kontak die Toerisme buro: www.hermanus.co.za of 028 312 2629.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frikkie ·

En maak tog n draai by Hermanuspietersfontein Wingerde se wynkelder
aan die linkerkant, begin van Hermanus soos jy inkom van die kaap af. Lekkerste
Sauvignon Blanc in die Kaap!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.