Hiér is die herfs op sy mooiste

Jondu Farm Stay Foto: Lekkeslaap

Herfs se bekoring lê nie net in die seisoen self nie, maar ook in die oorgang na winter wanneer die meeste blare al afgeskud is en onder jou skoene kners. In Meimaand begin herfs vaak raak en maak sy haarself gereed vir die lang wintersluimer. Dis egter nog nie te laat om weg te glip en dié seisoen in sy volle glorie te aanskou nie.

Maak dus ’n nota van hierdie paar puik herfsbestemmings en bobaas-blyplekke waar jy beslis ʼn draai moet gaan maak voor die laaste herfsblare grondwaarts tuimel.

  1. Magoebaskloof

Magoebaskloof staan bekend vir sy heerlike herfsklimaat én bladwisselende bome. Met inheemse woude en varings, damme en die mooie Wolkberge is dit ook ideaal vir allerlei herfs-doendinge soos visvang, fietsry en stap. Indien jy die bloed ’n bietjie vinniger wil laat pomp, is daar natuurlik ook geleenthede vir tjoepry, ziplining en kloofklim. As jy nie jou skoene wil vuilmaak nie en net wil rondry, bied Magoebaskloofpas, die steilste pas in Suid-Afrika, panoramiese uitsigte oor die omgewing.

Die dorpie Haenertsburg in die Magoebaskloof-streek is ’n heerlike bestemming vir dié wat laat herfs ten volle wil benut. Die pragtige boomlaning en oulike restaurante in Rissikstraat sal nie teleurstel nie. Die nabygeleë Cheerio-tuine spog ook met ’n pragtige herfskleed en alles-in-een-trouvenue ─ geriewe, verblyf vir jou gaste, en ’n pragtige herfs-agtergrond vir troufoto’s.

Forelvang in die tuin se damme en skons in die teetuin is verder bevorderlik tot jou herfs-dagdrome.

Kliek op die foto’s om te sien watter herfsblyplekke ons in dié streek aanbeveel:

Consolata, Haenertsburg Foto: Lekkeslaap

Cheerio Gardens Foto: Lekkeslaap

Stanford Lake Cottage Foto: Lekkeslaap

Turaco Farm Cottage Foto: Lekkeslaap

 

  1. Oos-Vrystaat

In die herfs word die Oos-Vrystaat se geel landerye sommer nog verder verhelder deur die kenmerkende geel populiere. Tydens die oorgang na winter kan jy dalk net die beste van albei wêrelde beleef: die laaste geel blaartjies én die eerste sneeuvlokkies.

Lesoba Guest Farm (Fouriesburg) Foto: Lekkeslaap

Dié goudkleurige seisoen moet beslis ten volle benut word met ’n besoek aan die Golden Gate Natuurreservaat se sandsteenkranse, en met ’n lugballonrit kan die geel toneel en Malutiberge sommer van bo af besigtig word. Die allerpragtigste dorpie Clarens met sy ryk verskeidenheid kunsvlyt bied herfstoevlug in oorvloed: sandsteenhuise, koddige kothuise, weelderige paleise en bergoorde. Ons beveel aan jy bespreek ’n blyplek met panoramiese uitsigte en ’n kaggel om die vroeë winterkoue hok te slaan.

Kliek op die foto’s om te sien watter herfsblyplekke ons in dié streek aanbeveel:

Kiara Lodge (Clarens) Foto: Lekkeslaap

Lola’s Luxury Self-Catering Accommodation, Clarens Foto: Lekkeslaap

The French Cottage, Clarens Foto: Lekkeslaap

 

  1. Boland

Tydens oestyd ondergaan die wingerde in die Boland ’n herfs-metamorfose van groen na warm geel, oranje, bruin en rooi. Dié kleurskouspel is ook merkbaar in die eikelanings van geskiedkundige dorpe soos Stellenbosch en Paarl.

Dis dalk ’n goeie idee om net vir oulaas in die buitelug te baljaar voor die winterkoue en reën intree. Wat van ’n piekniek op ’n wynplaas? Dié tipe uitstappie is ’n fees vir die smaakknoppies met kase, olywe, koue vleise, salm, varsgebakte brood, patees en natuurlik wyn ─ proviand wat jy nie sal sukkel om in dié geweste op te spoor nie.

Kliek op die foto’s om te sien watter herfsblyplekke ons in dié streek aanbeveel:

Die Damhuis, Rawsonville Foto: Lekkeslaap

Forest’s Haven at Amani Vineyards, Stellenbosch Foto: Lekkeslaap

Rose Cottages, Franschhoek Foto: Lekkeslaap

Whipstock Gasteplaas, McGregor Foto: Lekkeslaap

  1. Natalse Middellande

Die gebied tussen Pietermaritzburg en die Drakensberge word gekenmerk deur groen, golwende weivelde en die Middellandse Kronkeling se skilderagtige roetes. Die Middellande hou sy eie bekoring in: perdekampe, plattelandse kothuise, en plaasmarkies soos die Dargle Valley Market in Howick.

Gedurende die herfsmaande word hierdie graslande geelbruin, en is die nalatenskap van Britse heerskappy in die uitheemse, bladwisselende bome, soos die plataan- en amberbome, te bespeur. Pragtige damme, soos die Midmar by Howick, word deur hierdie vlamtorings omraam. Herfsblare val, maar foto’s bly vir ewig, so trek af langs die N3 op pad na Howick se hoofstraat om een van die pragtige lanings te kiek.

Kliek op die foto’s om te sien watter herfsblyplekke ons in dié streek aanbeveel:

Midlands Inverness Cottages, Belgowan Foto: Lekkeslaap

Midlands Inverness Cottages, Belgowan Foto: Lekkeslaap

Sycamore Avenue Treehouse Accommodation, Mooirivier Foto: Lekkeslaap

The Old Hotel at Curry’s Post, Howick Foto: Lekkeslaap

 

Daar het jy dit! As jy die beste van die herfsseisoen wil maak, stel ons voor jy besoek een van dié bobaas-herfsbestemmings om te verhoed dat die winter jou onkant betrap!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Jana Barnard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.