Hier kan jy rotskuns in Suid-Afrika kry

san-rotskuns-01-sederberge-wikimediacommons

‘n Voorbeeld van die San-rotskuns wat jy in die Sederberge, Wes-Kaap kan sien. Foto: Wikimedia Commons.

Suid-Afrika het een van die rykste rotskunsversamelings ter wêreld en talle voorbeelde daarvan kan reg oor die land in nasionale parke en natuurreservate gesien word.

Volgens Wanda Coustas van SA-venues.com is daar aanvanklik geglo rotskuns is net ʼn manier waarop die San hul daaglikse lewe opgeteken het, maar deesdae meen kenners dié tekeninge hou dalk meer verband met die San se ervaring van die geesteswêreld en dokumenteer selfs hul sjamane se geestelike reise.

Die kunstenaars het elandbloed en -gal met eierwit gemeng om hulle kuns op rots te verewig. Daar word ook nou wyd geglo dat die rots waarop die beelde geverf is, gesien is as ʼn soort sluier tussen die San se geesteswêreld en die werklikheid.

Duisende voorbeelde van San-rotskuns is reg deur die land te sien, maar die belangrikste hiervan is sekerlik in die uKhahlamba Drakensberg-park in KwaZulu-Natal waar van die rotskunswerke so oud as 3 000 jaar kan wees.

Die Sederberge

Sowat twee uur se ry buite Kaapstad kan jy ʼn verskeidenheid van 2 500 verskillende San-kunswerke in dié bergreeks vind. Die rotskuns is meestal toegangklik, maar daar word ook steeds talle nuwe werke hier ontdek.

Gaan maak gerus ʼn draai by die toerismeburo van Citrusdal en Clanwilliam waar jy talle brosjures kan bekom oor die rotskuns in die omgewing.

Besoek ook die volgende plekke:

  • Die 4 km Sevilla-rotskunsstaproete.
  • Daar is ʼn aantal eendagstaproetes wat jou na die rotskuns van Stadsaal, Truitjieskraal, die Suidelike Boog en Varkkloof in die Sederberge se bewaringsgebiede sal neem.
  • Gaan maak ook ʼn draai by die Lewende Landskap-projek, ʼn gemeenskapsinisiatief wat jou op begeleide toere neem na rotskuns in Clanwilliam se omgewing.
  • Open Africa se Weskus-rotskunsroete neem jou na ʼn reeks plekke om en in die Sederberge, Nardouwsberg, die Koue Bokkeveld en die Olifantsriviervallei.
  • Boesmanskloof-wildernisreservaat, so 50 km buite Clanwilliam, het ook rotskunswerke.
san-rotskuns-02-drakensberge-wikimediacommons

Die Drakensberge in KwaZulu-Natal het sekerlik een van Suid-Afrika se grootste versameling van San-rotskuns. Foto: Wikimedia Commons.

Drakensberg, KwaZulu-Natal

Jy kan hier meer as 20 000 individuele skilderwerke in sowat 500 grotte en onder oorhange tussen die Koninklike Natal Nasionalepark en Boesmansnek in die Drakensberge vind in ʼn omgewing wat as deel van ʼn wêrelderfenisgebied beskerm word.

Die meeste van hierdie kunswerke is in grotte versteek wat heelwat stap- en klimwerk verg, maar dit is die moeite werd en beslis die streek se kulturele skatkis.

Hier is ʼn paar van die plekke wat jy kan besoek:

  • Die Slag-grot aan die Injasuti-kamp se kant is een van die enigste kunswerke wat ʼn oorlogstryd uitbeeld.
  • Die Wildspas by Kamberg is een van die terreine waar dié soort rotskuns die beste bewaar is.
  • Ebusingata in die Koninklike Natal Nasionalepark, maar neem vir jou ʼn plaaslike gids saam.
  • Die Ikanti-skuiling is maklik om te bereik en nie te ver van die Sani-pas-hotel nie.
  • Die opelug Boesman-grotmuseum in die Gaint’s Castle-reservaat is een van die toeganklikste rotskunsterreine met ʼn kort staproete wat jou tot by 500 rotsskilderye neem.
  • Die Mpongweni-skuiling in die Cobham-reservaat is beslis die langer staproete werd.
  • Die Cavern by die Cavern-hotel.
  • Sigubudu-skuiling is in die Koninklike Natal Nasionalepark geleë.
  • Die Ndedema-kloof het ongeveer 17 plekke met sowat 3 900 rotskunswerke. ʼn Duisend van hierdie werke is in die Sebaayeni-grot te sien.
  • Die Boesmansnek-hotel in die Klein Berg het sy eie rotskunswerke en ʼn groot aantal rotskunsterreine waarvoor die hotel aanwysings sal kan gee.
san-rotskuns-03-leliekloof-oos-kaap-AFKTravel

Van die San-rotskuns in Leliekloof in die Oos-Kaap. Foto: AFKTravel.com

Oos-Kaap

Net suid van die Drakensberge in die meer afgeleë en pragtige Oos-Kaapse hooglande sal jy nog meer voorbeelde van San-rotskuns vind. Rotskuns is deel van die landskap wat bestaan uit berge, sandsteenkranse en groen valleie.

  • Op die Diorben-plaas in die Barkly-pas is ʼn 40 m skuiling met duidelike rotskunswerke.
  • Botermead, net buite Rhodes, is maklik om te bereik met voorbeelde van elande, voëls en selfs honde.
  • Martindell, 15 minute se ry buite Rhodes, het ʼn paar wonderlike rotskunsskilderye wat die klimtog na die terrein beslis die moeite werd maak.
  • Ander plekke wat jy kan besoek sluit in Ganora, so 8 km oos van Nieu-Bethesda, Kalkoenkraal tussen Aliwal-Noord en Jamestown, Leliekloof tussen Burgersdorp en Jamestown, en Woodcliffe op die Naudesnekspaspad.
san-rotskuns-04-terreine-in-limpopo-toerisme

Limpopo is die enigste provinsie waar jy drie soorte rotskuns op sommige plekke saam kan sien. Foto: Limpopo Toerisme Agentskap.

Limpopo

Dié provinsie is een van die min plekke waar jy drie soorte rotskuns saam kan vind. San-rotskuns, Khoekhoe-skilderye deur die Khoi en Noord-Sotho kunswerke is op sommige plekke sommer saam te vinde.

Die kuns van die Khoi was geometries, wat baie verskil van die San-kuns, terwyl die Noord-Sotho’s se rotskuns altyd geverf is en nooit in die rots gegraveer is nie. Dit kan ook weer maklik van die San-kunswerke onderskei word aangesien die meeste daarvan in wit klei geverf is, met die vreemde swart en rooi hoogtepunte wat met ʼn vinger bygewerk is.

Die rotskuns is in die heuwels van Limpopo te vinde, veral die Soutpansberg- en Waterbergreeks, sowel as by die Makgabeng-plato.

  • Besoek die Kaoxa’s-skuiling op die Machete-plaas, ʼn 25 m oorhang met meer as 190 skilderwerke wat 16 verskillende diere en 13 unieke tekeninge van sprinkane bevat.
  • Die Makgabeng-plato het meer as 890 voorbeelde van San- en Noord-Sotho-tekeninge onder ʼn reeks van sandsteenoorhange.
san-rotskuns-05-graverings-in-noord-kaap-deur-brand-SA

‘n Voorbeeld van San-rotkuns wat deur die gepakte tegniek gemaak is. Foto: Brand S

Noord-Kaap

Die warm landskap van Suid-Afrika se binneland het ook heelwat voorbeelde van San-rotskuns. Baie daarvan is te vinde in rotsagtige grasvelde, in teenstelling met die bergagtige gebiede waar die ander versameling aangetref word. Ongelukkig maak dit hierdie rotskuns ook veel meer kwesbaar vir vernietiging.

Die Noord-Kaap spog met rotskuns wat geverf en gegraveer is en jy kan voorbeelde van dié San-kuns hier vind:

  • Die Wildebeestkuil-rotskunssentrum, ongeveer 16 km buite Kimberley. Dit is ʼn erfenisgebied om ʼn reeks van meer as 400 gesteentes. Die meeste van die kunswerke is gemaak deur ʼn gekapte tegniek waar harde klip om die buitenste rotskors weggekap is om die ligter gekleurde rots onder dit te ontbloot.
  • Die Wonderwerk-grot in die heuwels tussen Daniëlskuil en Kuruman is ʼn groot ou grot wat oop is vir die publiek en spog met afbeeldings van diere soos elande en olifante wat met die vinger geverf is. Kenners reken die kunswerke in hierdie grot kan tot 1 500 jaar oud wees.

* Hierdie artikel het oorspronklik op SA-venues.com verskyn en word met vergunning op Maroela Media gepubliseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ekwilibrium ·

Oulike insetsel met goeie inligting. Maar die gravures is gemaak deur ‘n gekapte tegniek, nie gepak nie!

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Ekwilibrium

Baie dankie vir jou valkoog! Die berig is nou gewysig met die regte beskrywing.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
nms
Maroela Media

Eish ·

Geen rotskuns van die Khoi in die ander provinsies soos Vrystaat, Gauteng en Mphumalanga nie? Die mense is waarlik die eerste bewonders van die Suidelike deel van Afrika

Windspoor ·

Vir my is daar ‘n les vir die Afrikaner in die tragiese geskiedenis van die San.

Hierdie kunswerke is al wat oorbly van die oorspronklike bewoners van die land, en dit word beskryf, bespreek, bewonder en gedokumenteer deur ander mense en in ander tale as hul eie. Hulle het geen eienaarskap meer oor hul erfenis nie.

Hoe lank voordat, soortgelyk aan die San se nalatingskap, die Afrikaner se nalatenskap slegs beskryf, bespreek, bewonder en gedokumenteer sal word deur ander mense en in tale anders as Afrikaans? Soos die San is dit dalk ‘n geval van tyd voordat die Afrikaner se spore ook deur die wind doodgewaai sal wees?

Is ons maar ook oppad om net nog ‘n uitgestorwe Afrika-stam te word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.