Hiér skuil SA se blommeprag

Nieuwoudtville (Foto: Mandie Kotze, Nieuwoudville Toerismekantoor)

Die mooiste tyd van die jaar is hier ─ Moeder Natuur ontwaak uit haar jaarlikse sluimering en strooi oranje, geel en rooi blomblare oor veld en vallei. In Augustus en September is dié blomskildery beslis iets om te aanskou, daarom vertel LekkeSlaap graag waar jy vanjaar die vrolikste veldblomme kan gewaar.

BLOMMEKYK-FEESTE

As jy jou blommekyk-ervaring met allerlei pret en plesier wil kombineer, woon gerus een van dié opkomende geleenthede by.

Clanwilliam Veldblomskou

Veldblomme is een van Clanwilliam se grootste trekpleisters en tydens die jaarlikse blommeskou bars dié Sederbergse dorpie twee weke lank behoorlik uit sy nate. As jy nie te veel wil rondrits terwyl jy blomme kyk nie, kan jy tydens dié blommeskou meer as 400 blom- en plantspesies in die dorp se unieke Blomkerk te siene kry ─ van die geel Clanwilliamse daisy, oftewel die harpuisbos, tot reënblomme, Namakwalandse daisies en viooltjies wat reeds in die Ramskop Natuurtuin blom. Die veldblomskou is enig in sy soort en word deur vrywilligers uit die gemeenskap saamgestel wat van die kleinste vetplantjie tot die grootste aalwyn in dié kerk se mensgemaakte landskap plant. Name soos sieketroos, seepbos, oupa-en-sy-pyp en bobbejaantjies sorg gewoonlik vir groot genot onder blommekykers. Kom kuier vanjaar by die Clanwilliam Veldblommeskou en ervaar die natuur in perfekte harmonie!

Clanwilliam Veldblomskou (Foto’s: Sanet Stander, Clanwilliam Veldblomvereniging)

Wanneer: 23 Augustus tot 1 September 2019
Waar: Blomkerk, Hoofstraat 41, Clanwilliam, Wes-Kaap
Koste: R50 (volwassenes) en R10 (kinders)
Kontak: 027 482 2024

Bly in die omgewing: Cederberg Ridge Wilderness Lodge | Clanwilliam Lodge and Spa | Graafwater Hotel

Hopefield Fynbosskou

Hopefield bied al dekades lank ’n fynbosskou aan om die belangrikheid van dié unieke planteryk se bewaring te beklemtoon. Dis ’n blommeskou vir die gemeenskap deur die gemeenskap en jy sal beslis iets nuut oor fynbos by die talle uitstallings te wete kom. Dié Weskusdorpie is na genoeg aan die Moederstad dat jy sommer ’n daguitstappie na dié skou kan aanpak waartydens jy jou ook by die koffie- en kosstalletjies knuppeldik kan eet. Maar wanneer die bekoorlike Weskus-blomgesiggies eers vir jou begin loer, sal jy beslis langer as ’n dag wil bly!

Fynbos Estate (Foto: LekkeSlaap)

Wanneer: 29 Augustus tot 1 September 2019
Waar: Hopefield Sportklub, Koperfonteinweg, Hopefield, Wes-Kaap
Koste: R45 (volwassenes), R30 (pensioenarisse) en R20 (kinders)
Kontak: 078 469 7986

Bly in die omgewing: The Blacksmith’s Cottage | Miss Girly | Boorwater Rondawel

Namakwaland Blommefees

Coenie de Villiers se alombekende liriek: “Namakwaland se veld hou nuwejaar,” sal in jou kop draai wanneer jy dié jaarlikse makietie op die Gifberg Holiday Farm naby Vanrhynsdorp bywoon. Van heuning oes, rotskuns ontsyfer en swem, tot veldwedlope, musiekvertonings en joga ─ daar is hope vermaak om oud en jonk tydens dié prettige naweek besig te hou. Hierdie vakansieplaas is ’n bobaas-bestemming as jy jou bedags aan Namakwaland se fraaiste veldblomme wil vergaap en snags na die sterrehemel wil staar.

Gifberg Holiday Farm (Foto: LekkeSlaap)

Wanneer: 6 tot 8 September 2019
Waar: Gifberg Holiday Farm, Vanrhynsdorp, Wes-Kaap
Koste: Op versoek
Kontak: 027 201 3371

Bly in die omgewing: Gifberg Holiday Farm | Clear Water Oasis Guest Farm | Lombards Guest House

Darling Veldblomskou

Die Darling Veldblomskou is al meer as ’n eeu oud en ’n jaarlikse hoogtepunt aan die Weskus. Dié blomryke area vorm deel van die Kaapse Floraryk, wat meer as 1 200 plantspesies insluit ─ 80 van dié spesies is inheems aan die Weskus. In Darling oorvleuel die Strandveld, Renosterveld en Sandveld, wat die flora in dié dorpie uiters uniek maak en dís waarom Darling as die Blom van die Weskus bekendstaan. Verskeie bedreigde plantspesies, soos die geel kelkiewyn, bruinoog kalossie, geel poublom, pienk kalkoentjie en bont leeubekkieweeskindertjies kom hier voor. Buiten die blommeprag in hul natuurlike habitat bied ’n skoukaartjie jou ook toegang tot ’n boetiek- en fynproewersmarkie, ’n klassieke trekker- en motoruitstalling, ’n vermaaktent met musiekvertonings en veilige parkeerplek ─ bederf jouself gerus met ’n naweekwegbreek om dié prentjiemooi veldblomskou te besoek!

Darling Veldblomskou (Foto’s: Con Meyer)

Wanneer: 20 tot 22 September 2019
Waar: Darling Gholfklub, Jakarandastraat, Darling, Wes-Kaap
Koste: R70 (volwassenes), R50 (pensioenarisse), R50 (kinders 7 tot 18 jaar) en gratis (kinders onder 7 jaar)
Kontak: 084 916 1111

Bly in die omgewing: Daisy Darling B&B | Disa Lodge | The Granary Petite Hotel

BLOMMEKYK-BLYPLEKKE

As jy nie vir die geroesemoes tydens ’n blommeskou kans sien nie, bespreek ’n naweek by een van dié besonderse blyplekke en verken die omgewing se blommeroetes teen jou eie pas.

Willemsrivier Trekpad Guest Houses, Nieuwoudtville

Willemsrivier Trekpad Guest Houses, Nieuwoudtville skuil op ’n geskiedkundige skaapplaas nét buite Nieuwoudtville. In dié geweste knipoog blomme oral waar jy kyk en die kleure en geure sal jou betower wanneer jy in die Hantam Nasionale Botaniese Tuin gaan rondsnuffel.

Willemsrivier Trekpad Guest Houses, Nieuwoudtville (Foto: LekkeSlaap)

Waar: Nieuwoudtville, Noord-Kaap
Tipe: 11 selfsorghuise
Slaapplek: 2 tot 7 gaste per huis
Geriewe: Braaiplek, troeteldiervriendelik en rolstoelvriendelik

Remote Locations West Coast Beach Camp

Remote Locations West Coast Beach Camp word slegs van 23 Augustus tot 29 September 2019 vir die blomseisoen in die Zeven Puts Privaat Natuurreservaat naby Lambertsbaai opgeslaan. As jy so na as moontlik aan die natuur wil woon terwyl jy blomme beloer, is dié luukse tentkamp jou droombestemming. Hiervandaan kan jy die Weskus se plate blomme deurkruis en ’n draai in die Weskus Nasionale Park se Postberg Blomreservaat maak.

Remote Locations West Coast Beach Camp (Foto: LekkeSlaap)

Waar: Lambertsbaai, Wes-Kaap
Tipe: 9 safari-tente
Slaapplek: 2 gaste per tent
Geriewe: Gemeenskaplike eetarea, kroeg en vuurput

Namaqua Lodge

Soos die naam te kenne gee, sal jy Namaqua Lodge in die hartjie van Namakwaland aantref. As jy ’n natuurliefhebber is, sal jy hiér voorwaar in die sewende hemel wees, veral wanneer jy die blommeskouspel al langs Gifbergpas onder oë kry. Die Kokerboom Vetplantkwekery, die Ou Tronkkwekery en die Knersvlakte Natuurreservaat se blompatrone sal ook nie teleurstel nie.

Namaqua Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Waar: Vanrhynsdorp, Wes-Kaap
Tipe: 15 dubbelkamers, 10 enkelkamers, 11 selfsorg-eenhede, 5 gesinskamers en 1 wittebrood-suite
Slaapplek: 1, 2 of 4 gaste per kamer of eenheid
Geriewe: Gemeenskaplike braaiplek, konferensiegeriewe, gratis WiFi en troeteldiervriendelik

Skilpad Farm

Skilpad Farm deurstaan al geslagte lank Namakwaland se wind en weer en dié ru omgewing kan slegs via ’n grondpad bereik word, wat nie altyd in ’n goeie toestand is nie. Dis egter absoluut die moeite werd om die 21 kilometer lange grondpad vanaf Kamieskroon na dié plaas te ry, aangesien jy om elke hoek en draai met ’n veelkleurige veldblomtapyt beloon sal word.

Skilpad Farm (Foto: LekkeSlaap)

Waar: Namakwaland, Noord-Kaap
Tipe: 10 kampeerplekke
Slaapplek: 6 per kampeerplek
Geriewe: Plaaskombuis, braaiplek en troeteldiervriendelik

Papkuilsfontein Guest Farm

As jy Namakwaland in al haar prag en praal wil beleef, bly gerus ’n paar dae by Papkuilsfontein Guest Farm naby Nieuwoudtville. Reënboogkleurige blomgesiggies sal jou orals langs die pad begroet wanneer jy dié area binnery en ’n besoek aan die Nieuwoudtville Veldblomreservaat en Oorlogskloof Natuurreservaat móét deel van jou reisplan wees.

Papkuilsfontein Guest Farm (Foto: LekkeSlaap)

Waar: Nieuwoudtville, Noord-Kaap
Tipe: 3 selfsorgkothuise
Slaapplek: 2, 4 of 6 gaste per kothuis
Geriewe: Swembad, restaurant en braaiplek

Al wat jy nou moet doen is om ’n blommekyk-bestemming te kies en jou motor in die rigting van die soetste blomgeure te stuur sodat jy óók Moeder Aarde op haar mooiste kan sien glimlag!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Karli Dürr.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.