Hoekom reis ons?

Argieffoto (Foto: Lorri Lang/Pixabay)

Ek wonder dikwels: waarom reis daar deesdae so baie mense? Nie baie lank gelede nie, was dit ʼn luukse. Vandag is dit amper ʼn gegewe dat almal reis. Nie noodwendig oorsee nie, maar selfs deur ons eie land.

Saint Augustine verwoord dit so mooi as hy sê die wêreld is soos ʼn boek en mense wat nie reis nie, lees net een bladsy.

Wat is die dryf agter almal se soeke na iets êrens anders?

Ek kyk nou die dag na ʼn poskaart wat mens in Kaapstad (my tuisstad) kan koop. Dit het ʼn klomp klein foto’s van al die mooiste en gewildste dinge om te doen in die omgewing. Ewe skielik begin my voete weer jeuk. Net soos wanneer ek ʼn spesifieke reuk kry wat ek êrens op een van my reise leer ken het, of wanneer dit koud en reënerig is en daar ʼn kaggel in ʼn restaurant brand, of wanneer ek ’n spesifieke drankie of dis proe. Dit neem my onmiddellik terug na ʼn oomblik op een van my reise. Dis dan wanneer ek besef ek het deur my lewe my hart in so baie plekke verloor. Hoekom? Wat maak dit anders as hier waar ek nou by my huis is?

Wat laat so baie mense voel soos ek? Miskien neem ek die Dalai Lama se woorde ernstig op toe hy gesê het mens moet een keer ʼn jaar êrens heen gaan waar jy nog nooit was nie.

Ek het besef dat ek belê in wie ek is, wanneer ek reis. Dit maak my letterlik ʼn beter mens.

Mark Twain het gesê: “Travel is fatal to prejudice, bigotry, and narrow-mindedness,” en Cesare Pavese: “If you wish to travel far and fast, travel light. Take off all your envies, jealousies, un-forgiveness, selfishness and fears.”

Toe ek hierdie twee aanhalings lees het dit my soos ʼn vuishou getref hoekom reis my “happy place” is. Vir ʼn kort rukkie laat ek gaan van wie ek dink ek is, en moet wees, en selfs geword het, as gevolg van my omstandighede. Ek ontsnap eintlik my omstandighede vir daardie week, miskien twee, miskien drie weke.

Bill Bryson sê hy is baie lief vir die gevoel om anoniem te word in ʼn stad waar hy nog nooit was nie. Dis wat met ons gebeur wanneer ons reis. Ons kan onsself amper herskep in die mens wat ons graag wil wees. Vir daardie kort rukkie het ons geen geskiedenis of foute wat iemand teen ons kan hou nie. Ek is net Marianne Styan, die onbekende reisiger. Ek kry moed om kanse te waag omdat ek niemand ken nie. Ek leer nuwe dinge en fokus op iets anders as my alledaagse bestaan. Daar is nie tyd vir tob oor onnodige dinge nie. Selfs rekeninge en bekommernisse word agter gelaat by die huis, vir daardie kort rukkie.

Ek bekyk die nuwe plek met nuwe oë en waardering, en gryp elke oomblik aan omdat ek weet ek het net hierdie paar dae of weke om die meeste daaruit te kan kry. Ek drink die mooi, die kulture, die reuke, die unieke mense, die ervarings in met elke sekonde wat verby gaan.

Maar die waardevolste van elke reis is dat dit my dinge leer wat ek in die normale gang van my lewe kan toepas. Ek leer verdraagsaamheid, geduld, carpe diem, en die laat gaan van vooropgestelde idees, want as jy met vooropgestelde idees reis, kan party lande ʼn massiewe teleurstelling word. Daar is lande wat amper voel of jy in jou eie land is en dan is daar lande wat so drasties in elke opsig verskil dat bekrompenheid baie gou jou reis kniehalter. Hoe minder vooropgestelde idees jy het van enige land waarheen jy reis hoe meer sal daardie land jou verras met elke ervaring wat jy daar beleef.

Gustav Faubert som dit perfek op: “ Travel makes one modest. You see what a tiny place you occupy in the world.”

Daar is baie, baie meer in hierdie wêreld as wat mens besef. Dan word my lewe, my probleme en my land eintlik op ʼn manier in perspektief geplaas.

Dan besef ek:
Daar is ander lewens wat belangriker is as myne.
Daar is ander mense met groter probleme as myne.
Daar is ander lande wat net sulke probleme, indien nie erger nie, as ons s’n het.

In sy toneelstuk ‘Pamela’ noem Carlos Goldoni ʼn waarheid wat ek nog altyd saam met my saamdra as ek gaan reis. “A wise traveller never despises his own country.”

Want reis moet nooit ʼn manier wees om “weg te hardloop” of te maak of ek beter is as enige iemand anders nie. Reis is ʼn voorreg wat my die geleentheid gee om ʼn beter “ek” terug te keer na ʼn lewe in ʼn land wat net soveel, indien nie meer nie, bied as die land wat ek sopas besoek het.

Al verskil tussen die ek wat gegaan het en die ek wat teruggekeer het, is dat ek een meer bladsy kon lees van ʼn boek met meer kennis en lewenslesse, as wat ek ooit op universiteit kon leer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Petri ·

Ek reis elke kans wat ek kry! Juis nou Junie maand New York en die Caribbean en dan Oktober Spain and Greece. Kan nie wag nie! Dan n lekker vol jaar van reis in 2020, Fiji, Japan, Rusland, Vietnam, Greenland en Iceland vir die northern lights. Antarctica is nog op die droomlys vir nou

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.