Hou vakansie in ʼn hupse aftreeoord!

Die Oog (Foto: Carina Stander)

My pa Sarel het sedert 1952 op die plaas Bergfontein in die Limpopo-provinsie geboer en in 2016 het hy en my ma Truiki die plaaslewe verruil vir ‘n gerieflike tweeslaapkamerhuis wat hulle Klein Bergfontein noem. Dis op ʼn aftreelandgoed, Die Oog, aan die voet van die Waterberg. Wat dié aftreeoord besonders maak, is dat dit óók ʼn vakansieoord is!

Ons gesin was van die duisende wat in die Desembervakansie daar gaan kuier het. Ek, my man en seuns het by my ouers oornag, my broer en sy tienerseuns het ʼn klipgooi van ons af in die oord se mooi kampeerterrein tent opgeslaan en my suster en haar gesin het ʼn ruim chalet in Die Oog gehuur.

Njalas en bosbokke wei sommerso tussen die tente en huise en wanneer mens deur die wildskamp stap wat deel is van die aftreelandgoed, sien jy die kameelperd met haar kalfie. Die wildskamp word ook bewoon deur sebras, blouwildebeeste, koedoes, rooibokke, ribbokke, blesbokke, duikers, klipspringers, die skugter steenbokkies, blouape en nagapies. (Eendag het ‘n swart mamba uit ‘n boom voor ons in die wildskamp geval!) Natuurlik sal ʼn oudboer en boerin tuis voel in ʼn habitat wat hulle deel met dié wildlewe, met die Bosveldbome wat hulle ken en waar hulle die borrelroep van die vleiloerie herken, die paradysvlieëvanger se lang stertslierte, die pragtige troupante en veraf visarend.

Die Oog (Foto: Carina Stander)

Reg oorkant my ouers se huis is ‘n rietdam met vinkswerms waar ons seuns saam met hulle neefs kon visvang. Vroegoggend en saans was dit heerlik om in die stomende buitelug-swembad te dryf wat gevoed word deur die natuurlike mineraalbron. Op warm Bosvelddae kon ons in die koue swembad baljaar. En dan is daar die waterglybaan wat byna vier verdiepings hoog deur die takke kronkel! Ons seuns het 222 keer in ʼn week gegly – hulle het getel!

Die Oog se geskiedenis strek ver terug. In 1893 het die boer en ystersmid Gysbert van Rooyen en sy vrou Maria, ʼn vroedvrou, hulle op die plaas Rietvlei gevestig. Toeka is die fonteintjie met warm mineraalwater gebruik vir huishoudelike behoeftes en selfs Eugène Marais het hier gebad. In die 1930’s is ʼn vakansieoordjie Bergh-se-Bad hier opgerig en in die 1960’s is dit oorgekoop deur Rondalia Automobiel Assosiasie. Daar was verskeie eienaars, groot ontwikkeling, en kerkkampe en skoolkampe is gereeld hier aangebied. Iemand kry toe die blink plan om dié gewilde vakansieoord in ʼn aftreelandgoed te omskep en sedert 2009 is dit ʼn werklikheid. Meer as vyfhonderd eenhede is reeds verkoop. Ja, daar is ʼn gesondheidsentrum vir verswaktes en ʼn kliniek vir mediese gemoedsrus, maar die oord is gegrond op die beginsel van aktiewe veroudering. Omdat mens vanaf vyftigjarige ouderdom hier mag woon, bedryf sommiges steeds hul beroepe oor die afstand of pendel. Ander huur werkswinkels op die perseel vir houtwerk en ander stokperdjies.

Kyk, die lot is hups! Hier is jukskeitoernooie, ʼn kwiltgroep, tuinbougroep en potjiekosdae. Of jy nou hou van brug speel of Bybelstudie, koorsing of voëlkyk, lyndanse of water-aërobiese oefeninge, Eugène Marais-poësieaande of ʼn pajamaparty met fliek op die grootskerm – dié grysaards leef met oorgawe. Iets van dié lewenslus is voelbaar vir vakansiegangers. Die lewenslustigheid, maar ook die lewensrustigheid.

Terwyl die oumense vleisbraai en gesels, kan die kinders in die water baljaar of onbelemmerd op hulle fietse rondjaag.

Die Oog (Foto: Carina Stander)

Behalwe vir die swembaddens en waterglybaan, het Die Oog ook putt-putt, tennis, vlugbal, sewe potspeltafels, ʼn groot buitelug skaakstel en ʼn visvangdam wat werk op die beginsel van vang-en-vrylaat. Hier is talle dienste wat besoekers se rustyd kan vergemaklik soos ʼn klerewasdiens, huisskoonmaakdiens en motorwassery; borrelbaddens en ʼn kosmetiese spa vir haarsorg en naelsorg; ʼn kitsbank, geriefswinkel en dameskroeg; ʼn kafee met wegneemetes soos burgers en draairoomys en ʼn eetsaal met voedsame middagetes. Moenie vergeet van die Die Oog se eie biblioteek met 15 000 boeke nie!

Iets wat vakansiegangers waardeer is die veiligheid en goeie waarde vir geld. Mens kry die gevoel dat Die Oog nie daarin glo om woekerwins uit jou te maak nie. ‘n Draairoomys by die kafee kos byvoorbeeld R15, maar is so groot dat dit van die horinkie af duiwel! As jy familie het wat hier woon, is dit slegs R5 per dag vir die waterglybaan; sonder familie is dit R30 per dag, maar jy kan soveel gly as wat jou hart begeer.

Dis nou die vierde jaar sedert my ouers Die Oog hul tuiste gemaak het. Hulle het nuwe vriende gemaak, maar van my ma se universiteitsvriende woon ook hier. Vol dankbaarheid kyk ons na die manier waarop ons 83-jarige ouers die nuwe seisoen in hulle lewens leef. As plaasgeweld, droogte, siekte of dood hulle van hul lieflingplaas af gedryf het, sou dit tragies wees, maar nee, hulle het die grootste mango-oes van hul lewe afgehaal en toe, ná meer as ses dekades van boerdery, die tuig neergelê. Nou vertel hulle vir ons van die nuwe tuig wat hulle opneem: hulle besoeke aan inwoners wat bedgebonde is.

Terwyl ons daar was, het die weerlig die krag vir ʼn paar dae uitgeslaan en die muskiete was soms moorddadig, maar die soetdoringbome blom geel, die veld is geil, die aande soel en die sterrehemel helder. My broer het vlakvarkboud gaargemaak (self geskiet en gemarineer) en saam met my man se soetpatats, my vrugtepons en my ma se Peppermint Crisp-tert, het dit nou wraggies soos ‘n eg-Suid-Afrikaanse Somerkersfees gevoel.

REISRAAD

  • Verblyf: Die Oog bied verskeie verblyfopsies soos cabanas, ʼn safarikamp en vier-bed, ses-bed en agt-bed chalets. Die kampeerterrein onder die koeltebome het 77 standaard staanplekke met elektrisiteit, asook twaalf luukse staanplekke elk met ʼn eie badkamer, ingeboude braai en kombuisie.
  • Waterpret: Toegang na die waterglybaan is spotgoedkoop en dis ʼn lekker avontuur. Op warm dae kan jy afkoel in die koue swembad. Die natuurlike mineraalwater word opgevang in ʼn buitelug swembad van 32°C – ideaal dwarsdeur die jaar!
  • Staproetes in die wildskamp: Stap die Njalaroete (2,6 km), die Byroete (4,5 km) of die Luiperdroete (6,5 km). Die staproetes is gratis. Kry ʼn afstandbeheer vir die elektroniese hek van die wildskamp by Ontvangs teen ʼn terugbetaalbare deposito van R200.
  • Afstand tussen Pretoria en Die Oog: 170 km, heelpad teerpad. Ongeveer 1 uur 45 minute se rytyd.
  • Inkopies: Die naaste dorp aan Die Oog is Mookgophong (Naboomspruit) so kwartier se ry weg, met ʼn Spar en Pick n Pay vir kruideniersware.
  • Webwerf: https://dieoogvakansie.co.za/oor-die-oog/. Vonkpos: [email protected]. Skakel Elize by 014 743 4600.
  • Nylsvley Vloedvlakte: Vir ʼn spesiale daguitstappie besoek gerus Nylsvley Vloedvlakte – ʼn halfuur se ry vanaf Die Oog. Daar is baie wildsbokke en tot vierhonderd voëlspesies. In die vloedseisoen wemel dit van die watervoëls. Dis heerlik om op die grondpaaie fiets te ry. Toegang is R30 per volwassene, R20 per pensioenaris en kind. Webwerf: https://nylsvley.co.za/. Skakel: 014 743 6925 of 071 057 0828. GPS: S24ᵒ 39’50.0 E 28ᵒ 39’54.4

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Ken Rondalia of te wel Die oog van dat ek verstand het. Ons is van Potgietersrus en het gereeld ons familie vakansies daar gehou. Die plek het BAIE spesiale herinneringe vir my aangesien die meerderheid van ons familie nie meer daar is nie. Ek is hoeka 52…..dalk eendag……

RR ·

Heerlik …onthou ook een vakansie daar en plaas naby Machadodorp, Oupa was baie op Naboomspruit vir besigheid. Baie bly vir dié bevoorregtes wat dit op aftrede kan bekostig, kan my net voorstel…vir my w in een hand en dinges in ander een.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.