In die velde van Vlaandere … ’n oorlog wat ons nie moet vergeet nie

Heuwel60-02

Heuwel 60 Slagveldgedenkpark. Foto: Verskaf.

Vlaandere, 19 Mei 2017. Ek stap saam met ’n groep toeriste deur ’n lowerryke dal.  Die wind ruis deur die bome en ’n troppie skape wei rustig om ons.

’n Idilliese landskap?

Nee, want ons stap deur die Heuwel 60 Slagveldgedenkpark waar die Geallieerde Magte op 7 Junie 1917 om 03:00 sowat 450 000 kg plofstof in tonnels onder Duitse posisies laat ontplof het. Dit was na bewering die grootste mensgemaakte ontploffing nóg, met die uitsondering van kernbomontploffings. Die slag kon selfs in Engeland gehoor word. Sowat 10 000 Duitse soldate is daardeur gedood. Vandag is hierdie gebied, wat eintlik ’n massagraf van soldate van albei kante in die Eerste Wêreldoorlog is, ’n park wat deur die Statebond se Oorlogsgraftekommissie onderhou word. Uit respek word die terrein onversteurd gelaat – stelselmatig groei die natuur die wonde in die landskap toe en die skape hou die gras in toom.

In ons familie is min oor die Eerste Wêreldoorlog gepraat. Ons was maar nog altyd passievolle Afrikaners en ek kan nie dink dat iemand in my voorgeslagte aan die oorlog deelgeneem het nie. Bowendien het die gebeure van die Tweede Wêreldoorlog, wat my ouers as tieners beleef het, ’n veel groter indruk gemaak.

Nietemin het ek deur die jare van historiese gebeure soos die Slag van Delvillebos en die sink van die SS Mendi bewus geraak en diep onder die indruk van die sogenaamde Oorlogsdigters, veral Wilfred Owen, se poësie gekom. Nog later het fiksie my belangstelling in die Eerste Wêreldoorlog geprikkel – van rolprente soos Passchendaele tot boeke, soos my gunsteling, A Whispered Name van William Brodrick en jeugfiksie soos Michael Morpurgo se Private Peaceful en War Horse.

Deur ’n onlangse publikasie, Love Letters of the Great War, onder redaksie van Mandy Kirkby, het ek die ontroerende ervaring gehad om soldate aan albei kante se stemme en mees private gedagtes te kon hoor. Doodgewone mense soos ek, vasgevang in omstandighede wat nie hulle keuse was nie.

In Parys het ek die uniforms van soldate uit die Eerste Wêreldoorlog gesien, nog met die modder van die loopgrawe besmeer. Al hierdie ervarings het meer vrae oor die oorlog wat sogenaamd alle ander oorloë se einde sou teweegbring, by my laat ontstaan. Toe ek dus op kort kennisgewing na Europa gaan en twee dae verlof kan neem, besluit ek om vir ’n sogenaamde slagveldtoer te bespreek.

Die toeroperateur, Philippe van Quasimodo Tours, en sy vrou, Sharon, tree al meer as 25 jaar lank as gidse vir besoekers aan Vlaandere se slagvelde op. Philippe gee ’n unieke blik op die gebeure van ’n eeu tevore omdat sy familie al geslagte lank in die omgewing woon en self ingrypend deur die gebeure van die Eerste Wêreldoorlog geraak is. Op hulle webwerf skryf hulle:

Geen besoek aan België is volledig sonder om eerstehands meer oor hierdie vernietigende deel van ons geskiedenis te wete te kom nie. Nooit die veroweraar nie, maar altyd oorwin waar dit op die kruispunt tussen Brittanje, Duitsland en Frankryk lê, was België maar nog altyd die slaansak van die groot nasies. En nêrens is die ontberinge wat gely is vir vier lange jare meer sigbaar en tasbaar, as in die Ieper-boog nie.

Oor die oorlog is baie geskryf. Daar is groter fiksiewerke soos Erich Maria Remarque se All Quiet on the Western Front, Ernest Hemingway se A Farewell to Arms en meer onlangs Sebastian Faulks se Birdsong. Dan praat ek nie eens van die massa nie-fiksie nie. Lesers wat belangstel sal meer as genoeg vind om hulle lewenslank besig te hou.

Terugskouend, ná die toer, is dit nou ook my opinie dat ons nie van hierdie oorlog en sy slagoffers mag vergeet nie. Dat mense ooit iets uit die geskiedenis sal leer, is meer as waarvoor ’n mens seker kan hoop, al waarsku die filosoof George Santayana ons dat diegene wat nie die geskiedenis onthou nie, die lot sal hê om dit te herhaal.

Sou ons meer van hierdie waansinnige oorlog en die dekadelange lyding wat dit veroorsaak het, weet, sou ons dalk net minder ligtelik met uitbeeldings van oorlog as ’n heldhaftige avontuur, asook met mense se gebruik van geweld as oplossing vir probleme omgaan.

Van my interessante waarnemings tydens die toer was:

  • Ieper en graf-02

    Die graf van die 15-jarige Britse infanteris, Valentine J. Strudwick, wat presies ’n maand
    voor sy sestiende verjaarsdag gesneuwel het, kan ’n mens nie onaangeraak laat nie. Foto: Verskaf.

    Die ongelooflike skaal van sinnelose verwoesting deur die oorlog veroorsaak. Meer as 17 miljoen mense (soldate en burgerlikes) is dood en meer as 20 miljoen fisiek gewond. Dit het ook vir enorme sielkundige verwonding van mense gesorg – iets wat destyds skaars verreken is. Die graf van die 15-jarige Britse infanteris Valentine J. Strudwick, wat presies ’n maand voor sy 16de verjaardag gesneuwel het, kan ’n mens nie onaangeraak laat nie.

Ieper en graf-01

Die pragtige Middeleeuse stad Ieper is letterlik met die grond gelykgemaak. Niks het staande gebly nie. Foto: Verskaf.

Daarbenewens is ’n hele streek verwoes. Die pragtige Middeleeuse stad Ieper is letterlik met die grond gelykgemaak. Niks het staande gebly nie. Dit is met sorg herbou en is vandag ’n lewende monument vir mense se veerkragtige vermoë om rampe te bowe te kom en ondanks persoonlike terugslae en tragedie met die lewe aan te gaan.

  • Die vergete gevolge van oorlog. Vlaandere het ’n eeu later steeds ’n daaglikse sogenaamde ysteroes. Dit bestaan uit onontplofte bomme, handgranate en ander ploftoestelle wat uit die grond kom. Dit was dekades lank diep begrawe, maar word stelselmatig na die oppervlak gestoot. Soms word burgerlikes beseer of plaastoerusting soos trekkers en ploeë verniel. Daar is geen versekering hiervoor nie. Die Vlaamse burgerlikes ly vandag nog hierdie skade sonder kompensasie van die lande wat die “oes” in hulle grond gelaat het. Na raming word daar jaarliks meer as 120 ton van dié projektiele gevind. Die Belgiese weermag moet dit onskadelik stel met daaglikse gekontroleerde ontploffings vir plofstof en gefiltreerde verbranding vir gasgevulde projektiele. Die aanleg wat die gas verbrand het België volgens ons gids meer as drie miljoen euro gekos. Sedert 1919 is meer as 20 soldate al dood in die uitvoering van hierdie gevaarlike taak. Brandwonde veroorsaak deur dodelike mosterdgas en fosgeen wat uit ou projektiele lek, is algemeen. ’n Interessante artikel hieroor het in 2013 in die Britse Daily Mail verskyn.
Ysteroes en Langemarck-03

Terwyl ons besig was met die toer, het ’n boer hierdie handgranaat (alias “’n
swaar aartappel”) en twee mortiere gevind terwyl hy sy landerye omploeg het. Foto: Verskaf.

Terwyl ons besig was met die toer, het ’n boer ʼn handgranaat (ook bekend as “’n swaar aartappel”) en twee mortiere gevind terwyl hy sy landerye omgeploeg het.

Ook stort ou bunkers soms ineen en skep dit ’n gevaar vir die gemeenskap plus natuurlik skade vir die grondeienaar.

  • Die wyse waarop ons met erfenis omgaan. Nie net Suid-Afrika het ’n omstrede verlede nie. Hoe gaan Europeërs met hulle kontroversiële geskiedenis om?
Ysteroes en Langemarck-02

In Langemarck-begraafplaas is meer as 44 000 Duitse soldate en twee Britte begrawe. Dit is die vernaamste laaste rusplek vir Duitse gesneuweldes in Vlaandere. Eikebome en ’n beeldegroep van Emil Krieger, wat uit vier treurende figure bestaan, hou oor hulle wag. Foto: Verskaf.

Ná afloop van die oorlog was daar oral in Vlaandere grafte. Vlaminge moes terugkeer na hulle verwoeste land en weer ’n bestaan gaan maak. Vlaandere is ’n belangrike landboustreek. Grafte en begraafplase is dus so ver as moontlik gekonsolideer. In die Langemarck-begraafplaas is meer as 44 000 Duitse soldate en twee Britte begrawe. Dit is die vernaamste laaste rusplek vir Duitse gesneuweldes in Vlaandere. Eikebome en ’n beeldegroep van Emil Krieger, wat uit vier treurende figure bestaan, hou oor hulle wag. Duitsland is self vir die onderhoud van die begraafplaas verantwoordelik en moes ook self die grond aankoop.

Tyne Cot-02

Tyne Cot is die grootste begraafplaas vir Statebondmagte in die wêreld. Foto: Verskaf.

Tyne Cot is die grootste begraafplaas vir Statebondmagte ter die wêreld. Daar is 11 965 gesneuweldes hier begrawe, van wie 8 369 onbekend is, soos die Suid-Afrikaner wie se graf bo gesien kan word en wie se identiteit nie vasgestel kon word nie. Sy uniform het hom as Suid-Afrikaner geïdentifiseer, maar wie hy was, is soos duisende ander grafte ook noem, slegs “Known unto God”. Negentig Suid-Afrikaners is hier begrawe. Die grond is deur “die mense van België” aan die Statebond geskenk en dit word pragtig deur die Statebond se Oorlogsgraftekommissie onderhou. Die gedenkmuur met koepels kom dalk vir Suid-Afrikaners bekend voor, want dit is deur sir Herbert Baker ontwerp. Tyne Cot herdenk ook 33 783 soldate van die Britse magte, asook 1 176 Nieu-Seelanders wie se oorskot nooit gevind of geïdentifiseer is nie.

Die Menenpoort Oorlogsgedenkteken by Ieper herdenk 54 896 soldate van Brittanje en die Britse Statebond wat tydens die oorlog in die Ieperboog vermis geraak het, maar wie se oorskot nooit gevind of geïdentifiseer is nie. Dit sluit 564 Suid-Afrikaners in. Foto: Verskaf.

Die Menenpoort-oorlogsgedenkteken by Ieper gedenk 54 896 soldate van Brittanje en die Britse Statebond wat tydens die oorlog in die Ieper-boog vermis geraak het, maar wie se oorskot nooit gevind of geïdentifiseer is nie. Dit sluit 564 Suid-Afrikaners in.

Die gedenkteken is by die oostelike uitgang van die dorp geleë. Dit was die beginpunt van een van die hoofpaaie wat Geallieerde soldate na die front geneem het. Dit word ook deur die Statebond se Oorlogsgraftekommissie onderhou.

Elke aand om 20:00 vind ’n seremonie en kranslegging onder leiding van die inwoners van Ieper hier plaas om die gesneuweldes te herdenk. Dit het sedert 2 Julie 1928, sonder uitsondering buiten vir die tydperk toe België in die Tweede Wêreldoorlog deur Duitsland beset is, ononderbroke geskied. Tydens my besoek was daar meer as 300 mense by die poort byeen om hulle hulde te bring. As deel van die seremonie speel lede van die plaaslike brandweer The Last Post op hul trompette en instellings of individue kan kranse lê.

menepoort-03

Elke aand om 20:00 vind ’n seremonie en kranslegging onder leiding van die
inwoners van Ieper hier plaas om die gesneuweldes te herdenk. Foto: Verskaf.

Ten spyte van die verloop van ’n eeu en botsende opinies oor die oorlog, oor wie “reg” en wie “verkeerd” was, getuig al die gedenkplekke van respek vir die verlede en die slagoffers van menslike foute.

Ten slotte, op ’n persoonlike noot, by Langemarck het ek die name van slagoffers met my ma se nooiensvan gesien, by Tyne Cot en die Menenpoort slagoffers met my pa se van. Die oorlog het dalk niemand in my nabye familie geraak nie, maar wel mense wat my DNS deel. Tydens die aandseremonie by Menenpoort kon ek nie my trane keer nie – hieroor, maar ook oor die waansin en vermorsing van oorlog en die mens se onvermoë om daaruit te leer.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Alana Bailey

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Meningsvormers, Reis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

John ·

Europa is vasgeketting aan sy ou grafte maar maak oor en oor dieselfde foute omdat die huidige altyd die vyand in ander formaat op die verhoog stoot. Europa word weer deur Duitsland bestuur wat nou sonder bloedvergieting die oorlog wen. Die gevangenes werk nou vir die EU en bring rykdom na die na-Nazi-tafels. ‘n Tydvak van asb-geen-sterfte-op-aarde gedy tans, maar oorloe word nie net met vuur en vlam geveg en gewen nie… pes, rampe, terrorisme, mishandeling, hongersnood en soet-slinkse aanpos van probleme gebou op die menslike gewete, is oorloe wat die siel aan ‘n stadige gif blootstel wat angs tot sy uiterste voer en lyding onbeperk uitrek. Is dit beter as die oorloe van destyds? En orals hoop erger as ooit se wapens op. Selfs ons kragvoorsieners bou bomme en ons betaal maandeliks daarvoor. En ons koop met die kleingeld sommer ook, meerwaardig, mooi blomme vir die grafte van ‘n vroeer baie wreder era. Oooh!

Stephanie Moolman ·

Baie dankie vir hierdie pragtige stuk. Interessant en insiggewend.

Basson ·

Elke jaar bied die VTM Marathon Klub ‘n wedloop aan ter nagedagtenis aan WO1 – die Afriforum Springbok Vasbyt 10 / 25 / 5 km.
Die jaar se wedloop vind op 15 Jul plaas. (Die slag by Fampoux 9-12 April 1917 word dan herdenk)

Therese van Schalkwyk ·

Puik stuk!

Belanghebbendes in Suid-Afrika kan gerus soortgelyke toere aanbied wat aan buitelandse toeriste die veelbewoë geskiedenis van die Afrikaner aan die Suidpunt van Afrika verduidelik en lewend maak. Van die Volksplanting in die Kaap tot in die Konsentrasiekampe en by Kodesa verby.

“Geen besoek aan Suid-Afrika is volledig sonder om eerstehands meer oor hierdie inspirerende groep mense, die Afrikaner, se positiewe aandeel in die geskiedenis van Suid-Afrika te wete te kom nie.”

CJ ·

Dankie Alana! Sjoe, dit is aangrypend! Pols asseblief jou kollegas by MM om te berig oor die jaarlikse kranslegging by die SA Weermag-gedenkmuur by die Voortrekkermoument. Jaarliks, die Sondag naaste aan 31 Mei. Die muur gedenk SAW-lede (maar ook ander SA magte en selfs gealluerde magte, bv Unita) in die tydperk 1961 tot 1994. Solidariteit en die FAK het hierdie jaar ook kranse gelê, maar MM het niks daaroor berig nie. Mag ons nooit vergeet nie….

Johnny McCabe ·

Baie mooi Alana!

Lt Col John McCrae MD ‘n doktor in die Kanadese Weermag gedurende WW1 het die gedig ‘In Flanders Fields’ geskryf voor sy dood op die slagveld.
Die gedig is in Afrikaans vertaal deur Hendrik Neethling en Walter E.Vice en Karen Dickens het dit verlede jaar tydens die Delville Bos 100 jaar herhinnerings diens by Thiepval in Frankryk voorgelees.

In Vlaandere se Velde

In Vlaan’re wieg papawers sag
Tussen kruise , grag op grag,
As bakens; en deur dit alles deur
Die lewerikke tjilpend in dapper vlug,
Skaars hoorbaar bo die grofgeshut van kanonne.

Ons is die dooies.
Dae gelede het ons geleef
die dagbreek en sonsondergloed beleef.
Was bemind en was verlief,
nou le ons in Vlaandere se velde.

Veg voort my Kind met alle mag;
neem uit my hand die lig,
met krag moet julle die fakkel dra, met eer.
Wie durf ons dood verloen, onteer –
ons sal steeds dwaal, ons sal nie slaap,
solank pawawers groei in Vlaandere se velde.

As jy weer Europa toe kom besoek ons museum by Delville Bos naby Longueval in die Somme. Dit is baie besonders , daar is ‘n laan Eikebome wat geplant is van akkers wat uit Suid Afrika gebring is en afkomstig is van die Eikebome wat deur die Franse Hugenote geplant het met akkers wat hulle saam geneem het Suid Afrika toe.

Alana ·

Hallo Johnny, sjoe baie dankie hiervoor, ek het nie geweet die gedig is in Afrikaans vertaal nie. Dis ‘n wonderlike ontdekking vir my. Ek lees juis tans ‘n boek oor McCrae, Bonfire, deur Susan Raby-Dunne. Nogal interessant, die verteller is Bonfire, McCrae se perd. Baie leesbaar, maar ook deeglik nagevors. Aangrypend om te sien hoe vinnig die man in die oorlog verouder het … Die graf van die 15-jarige (foto bo) is juis by Essex Farm geneem waar McCrae gewondes versorg het. Hy het ook in die Anglo-Boereoorlog gedien, helaas aan Britse kant, maar tog ‘n interessante skakel met ons. Nogmaals dankie vir die deel van die vertaling!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.