Is Starbucks rêrig beter?

Foto: Marianne Styan

Foto: Marianne Styan

Daar is iets aan die reuk en gevoel wat mens in ʼn koffiewinkel kry. Dit plaas jou oombliklik in ʼn ander wêreld. Ek kan geen koffiewinkel weerstaan nie. As ek daardie reuk van gemaalde koffiebone in my neus kry, trek dit my soos ʼn magneet.

Ek lees onlangs die wêreldbekende koffiehuis – Starbucks – beplan om takke oop te maak in Suid-Afrika.

Vir my is dit ʼn blye dag. Ek is gek oor dié heerlike koffiewinkel.

Ek moet egter eers bieg… Ek drink nie eens hulle koffie nie… Wel, nie meer nie. Deesdae is ek ʼn getroue lid van die CA – Coffee Drinkers Anonymous.

Te danke aan ʼn vroeë bepaling dat ek besig was om ʼn koffie-verslaafde te raak. Vyf koppies filterkoffie per dag was die resep vir een baie onvaste hand en ʼn hiper-aktiewe hart… Ek moes die eerste stap neem en erken ek het ʼn probleem…

Dus geen meer kaffeïen vir my nie.

Vandag kan ek met oortuiging sê ek is al vyf jaar “skoon”.

Koffie by Cafe Louvre Foto: Marianne Styan

Koffie by Cafe Louvre Foto: Marianne Styan

Maar gee vir my daardie ongelooflike aroma van varsgemaakte koffie en ek gooi amper al my goeie bedoelings binne sekondes oorboord. Soos ‘n ou verslaafde sit ek en ruik aan my vriende se koffiebekers.

Miskien is dit hoekom ek nog so mal is oor Starbucks. Dit het die hele pakket.

Die reuk. Die gesellige atmosfeer. Die geluid van koffie-bone wat gemaal word. Die warmte binne die koffiewinkel terwyl die sneeu buite val…

Een van my troetelbederfies is om vir my ʼn witsjokolade Mocca Latte (wat ‘n mondvol!) te bestel wanneer ek my eerste Starbucks sien nadat ek voet aan wal sit in Europa of Amerika.

Al hierdie sensoriese bederfies het vir my deel geword van reis.

Maar net om die volgende hoek, met my stomende koppie in die hand, stap ek verby die groot goue boë van die bekende kitskosgroep…

MacDonalds.

En ek besef: dalk het ek geval vir een van die groot sondes van ons tyd.

“Internasionaal” is beter…

Starbucks-koffietafel Foto: Marianne Styan

Starbucks-koffietafel Foto: Marianne Styan

Eens op ʼn tyd kon ek nie wag dat daar McD’s ook op elke hoek van Suid-Afrika pryk nie. Dit het ook gekom en kom groei soos sampioene in ons land. Net soos sy opvolger Burger King, het mense tou gestaan vir ure om ʼn smakie van dié nuutjie te kry. Vir maande was die tou ʼn blok of twee lank. Mense het mekaar afgelos in die toue sodat hulle darem iewers kon werk ook.

Nou is dit ou nuus en is dit soms van die maklikste plekke om die vinnigste iets te ete te kry.

En ek wonder: Is dit ook Starbucks se voorland?

Ons land het seker meer koffiehuisopsies as enige ander land. Of die Amerikaners of ons koffie beter smaak, is ‘n ope vraag en afhangende van elke mens se eie smaakkliere en verslawings.

Wat ek wel besef is dat dit dalk eerder die eksklusiwiteit is, wat gepaard gaan met iets wat mens net van hoor, elke dan en wan op ‘n reis na ‘n verre land proe of dalk is dit sommer net die gelukkige herinneringe wat jy aan daardie koppie koffie (of hamburger) vasbind, wat die verskil maak.

Ek weet ek is ‘n sucker om al my sintuie te gebruik om ‘n herinnering te bou en dis seker hoekom koffie en kos vir my so ‘n “herinnering-genielamp” is.

Of jy nou al 100 keer ander lande se “Starbucks” gedrink het of net met Jan Tuisbly se karretjie na die naaste Bean There, Seattle Coffee Company of Vida E gery het, is dit dalk tyd dat ons elke dag herinneringe maak wat vir ons daardie “Starbucks”-gevoel gaan gee.

So word ‘n plaaslike koffiewinkel ‘n reis na waarheen ons ook al wil gaan. Of dit is om alleen te gaan sit en dagdroom oor reise na verre lande, op te vang met ‘n ou vriend uit Londen of net jou familie weer te leer ken.

Hoekom wag vir die nuutste ingevoerde produk?

Alles is ʼn nuutjie totdat dit oud is…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hector ·

Ek het n paar keur SB filter koffie in die US gekoop, en ek moet sê, dit het elke keer vir my maar baie ingesuur geproe. My eie plunger koffie bly maar vir my die beste.

Leendert van Oostrum ·

Stem saam met Hector oor Amerikaanse koffie (insluitende Starbucks).

Ek het Starbucks al verskeie plekke in die VSA en elders probeer afwurg. Dis waarskynlik die slegste koffie in die wêreld behalwe kitskoffie met 50% sigorei. Ek weet regtig nie of Starbucks (“a coffee flavoured milk drink” en sonder melk is dit nog erger) gaan hond haaraf maak in die SA mark nie.

Elphia ·

Ek was nou onlangs in die VSA en my ondervinding met die Starbucks in die stad waar ek gebly het, was nie baie positief nie. Ja, dit het heerlik geruik toe ek daar verby loop, maar toe ek instap, was die diens pateties swak, swakker as wat ek enigsins al in SA ervaar het. Ek dink toe dat ek dalk net op ‘n verkeerde dag met verkeerde personeel daar ingeloop het, en gaan so 3 dae later weer. Ander personeel, maar dieselfde swak diens.
So, ek is glad nie opgewonde oor hulle koms nie!

Niel van Zyl ·

Nee wat, “high street” coffee shops is vir die voëls. Gee my liewer ‘n Workshop Coffe Co of ‘n Tonic Coffee Bar koffie. Dit is nou as jy eendag kan uitkom by die Oxford Street omgewing in Londen.

Suzie ·

Ek was een keer in Starbucks maar kan glad nie onthou hoe die koffie gesmaak het nie, dit was dus seker nie baie lekker nie. Waarvan ek wel baie gehou het was Dunkin donuts se koffie en ‘doughnuts’, die een keer wat ek in Amerika was, het ek hulle druk besoek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.