Juwele in die Slanghoekvallei

Slanghoek Mountain Resort (Foto: Marianne Styan)

“Die rustigheid wag vir jou hier…”

Dit was die woorde in die boodskap van die bestuurder, van Opstal Stay, toe ek inderhaas my tasse in die motor gegooi het, voor my aand by hulle in die Slanghoekvallei.

Binne ʼn maand het my motor sy pad drie keer deur die Hugenote-tonnel gevind, na die fynbosoorlaaide berge aan die anderkant. Die kronkelpad tussen grys berghange deur, na die Slanghoekvallei. Ek wonder hoekom vergeet mens hoe ongelooflik mooi hierdie omgewing anderkant ‘die tonnel’ is, terwyl dit net so oor ʼn uur vanaf Kaapstad is en so maklik is om te bereik?

Met elke besoek het ek letterlik die rustigheid oor my voel neersak soos ek deur die berge my pad vind en afdraai van die N1-hoofweg.

Op die Slanghoek-kronkelpad, aan die voet van die Slanghoekberge, lê drie plekke, net ʼn paar kilometer uit mekaar. Elk met sy eie karakter en atmosfeer wat by enige een se behoefte sal pas. Dieselfde rustigheid vou jou toe wat so eie aan die gebied is vir my soos ʼn perd en perdekar.

Opstal Stay

Opstal Stay (Foto: Marianne Styan)

Die Opstal-plaas se Frans-geïnspireerde restaurant-en wynproefasiliteite lê soos ʼn oase langs die pad. Die beige en blou geboue bied ʼn pragtige agtergrond vir ontbyte, middagetes en troues. Die professionele sjef, JP Lombard, se disse is watertandlekker en kan afgesluit word met ʼn macaroon en wynproe. Die heerlike wyn wat mens kan proe by die wynproefasiliteite word gemaak deur pa en seun, Stanley en Attie Louw. (Die restaurant is oop vir ontbyt en middagete, Woensdag tot Sondag.)

Maar dis na die vyf, amper onsigbare huisies teen Badsberg se hange, waarna my siel nou trek.

Soms voel mens iets moderns pas nie in die natuur nie. Hier is dit nie die geval nie. Die Opstal Stay se uitgespreide huisies se natuurlike en neutrale kleurafwerkings laat dit amper verdwyn teen die berg en smelt saam met die omgewing. Binne-in stroom die natuurlike lig deur die massiewe vensters. Dit voel kompleet of jy in die natuur bly. Die dekor is minimalisties, maar mooi en oral waar jy jouself draai, sien mens die asemrowende berge en uitsig.

Die huisies is luukse selfsorgeenhede en is ten volle toegerus met alles wat mens nodig het, met ʼn heerlike braai, kaggel en selfs ʼn onweerstaanbare Kolkol-swembad/hot tub met ʼn uitsig, vir die warm of koue dae.

Elke huisie is spesiaal vernoem na ʼn lid van die familie wat hier, al sedert 1847, met wyn boer. Sewe generasies later en die legende van die oorspronklike lede word nog steeds lewendig gehou deur die naam en storie wat aan elke huisie gekoppel is.

Toe ons die middag laat aan hulle heerlike wyn teug en die braaivleisvuurtjie al brand, kan ek sien hoekom hierdie familie nie hierdie vallei wil verlaat nie. Soos die wind opsteek, ritselend in die bloekombome en die reënwolke saampak oor die Slanghoekberge, vergeet ek letterlik van álles en spoel die rustigheid oor my…

Meer inligting: www.opstal.co.za/opstal-stay/

Goudini Spa

Goudini (Foto: Goudini Spa/Facebook)

Almal ken die klipskrif wat Goudini Spa uitspel teen die berg wanneer mens die N1-hoofweg volg. Ek het dit al so dikwels gesien, en altyd gesê ons moet gaan, maar net nog nooit daarby uitgekom nie. Nou is ek bitter spyt.

Dié ATKV-oord, met sy verskeidenheid verblyfopsies, van luukse villas en woonstelle, tot rondawels en kampeerplek, om van te kies, is ideaal vir ʼn gesinsnaweek, vakansie of selfs besigheidsnaweke, te danke aan die luukse konferensiefasiliteite. Die interieur is netjies en Afrika-chic met alles wat nodig is in ʼn selfsorgeenheid.

Die kinders baljaar van die oggend tot die aand in die verskeie natuurlik verhitte mineraalbaddens en waterglyplank, terwyl daar ook genoeg ander aktiwiteite is om van te kies indien aktief-wees jou ding is. Dit sluit perdry, tennis, speelareas, minigholf en staproetes in, om net ʼn paar te noem.

Indien mens lus is vir wynproe of rondry, is daar ʼn verskeidenheid wynplase in die omgewing om van te kies, onder andere Du Toitskloof (Oude Meul Bakkery), Jason’s Hill, Opstal en Du Preez Estate.

Die uitsig oor die wye groen vallei en blou berge in die verte het my egter gekluister gehou aan ons villa teen die Badsberg se voet, indien ons nie geswem het nie. Met sonsopkoms tot sonsondergang het die palette van kleure op die berge konstant verander en elke paar uur ʼn nuwe prentjie geskilder. Selfs hier vind die rustigheid jou, maak nie saak watter tyd van die dag dit is nie.

Meer inligting: www.goudinispa.co.za

* Indien jy ʼn ATKV-lid is, kry mens lekker afslag op verblyf.

Slanghoek Mountain Resort

Slanghoek Mountain Resort (Foto: Marianne Styan)

Volg jy die pad verby Goudini Spa en Opstal Stay, vind mens die derde juweel van die Slanghoek-kroon.

Slanghoek Mountain Resort is ʼn baie informele maar pragtige oord in die skadu van groen, welige akkerbome. Net anderkant die statige kliphoofgebou, gebruik vir troues en konferensies, lê ʼn verskeidenheid verblyfopsies. Daar is selfsorg chalets en goed ingerigte safaritente met alles wat jy in ʼn chalet sal kry. Die safaritente het elk sy eie braai-area en netjiese en suite-badkamer. Ek was ongelooflik beïndruk met hoe skoon en goggavry die tente was ten spyte daarvan dat dit in die middel van die veld is.

As ʼn aanhanger van glamping is hierdie vir my ʼn heerlike ontdekking, want ek kamp met al die geriewe van ʼn selfsorgeenheid byderhand. Die kinders kan hulle fietse of perd ry, minigholf speel, in die swembad of op die speelrame baljaar terwyl die ouers ontspan en die natuur indrink.

Oorkant die groot pad, op die groen Wilgerboom-walle van die Slanghoekrivier is die kampeerplek, met sy eie swembad en speelarea.

Op ons laaste middag hier, lê ek op die groen gras in die skadu van die akkerbome. Die uitsig oor die blou majestueuse Slanghoekberge is asemrowend. Ek kyk hoe die wind die wolke oor die bergtoppe waai, dit sagkens daaroor vee, amper asof die wolke probeer vasklou om nog ʼn rukkie langer te wil bly en ek weet ek kan met hulle assosieer.

Wie sal hierdie rustigheid wil prysgee, as jy ʼn keuse het?

Hierdie vallei gaan my weer sien.

Meer inligting: www.slanghoekresort.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

legens ·

die land bly mooi ongeag die chaos agteruitgang en vernietiging wat heers .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.