Kaapse sjarme in Pretoria

Kleinkaap (Foto: Carina Stander)

Daar is ʼn pragplek in Pretoria waar dit wat deur dromers gedroom is, ook gedoen is. Alles aan dié eeueoue Kleinkaap-boetiekhotel getuig van die handewerk van doenende dromers – van die statige Kaaps-Hollandse huis wat in 1920 gebou is met boogvensters, gewels en houtvloere, tot die heerlike restaurant, die swanedammetjie en die stokou eikebome besprinkel met feetjieligte.

Elk van die 34 hotelkamers is ruim en het ʼn unieke karakter. Dink aan antieke klerekaste, koninggrootte beddens, sagte beddegoed en pootjiebaddens. Vir jare was dit die Malan-gesin se woonhuis waar hulle hul vier kinders grootgemaak het, en iets van die huislikheid het beslis behoue gebly. Die atmosfeer is oudwêrelds, dog vars. Grasieus, dog verwelkomend. Nostalgies, dog verkwikkend. Vredig, dog feestelik. Stylvol, dog sonder ʼn krieseltjie voorgee. Tussen al die prag en praal van die plek, skrop-skrop die hoenders ewe nederig op die werf en die parmantige kapokhaantjie kry amper die horriepiep as ek net mik om sy spoggerige vere te streel.

Die restaurant, 16th Lintel, se leuse is “Bringing People Together” en alles is opgestel om dit te verwesenslik – van die dekor tot die kos. Die organiese bestanddele wat gebruik word, word gekweek in hul eie kruie- en groentetuin. By ontbyt is daar ʼn verstommende verskeidenheid van kase, fyngebak, broodjies so mooi dat jy dit skaars wil eet en interessante vrugte- en groentesappe – ek het elke een uitprobeer. Dat sjef Anel die vryheid gegun word om te eksperimenteer, is duidelik en dat die gaste dit geniet, is ook so duidelik soos daglig. Van die spogdisse op die spyskaart is die geglaseerde varkmagie met mosterd, gebraaide appel, botterskorsie-puree en vinkel uit die tuin. Die beesfilet met aartappelskyfies, wilde knoffel en krakerige uie is ook ʼn reusetreffer. Die gesoute karamelkaaskoek met sjokolade en pekanneutkrummels is die heel lekkerste kaaskoek wat ek in my dag des lewens geëet het. Elke gereg word kunstig bedien en versier met eetbare blomme, kleurvolle souse, skyfies vrugte of vars kruie. Die porsies is vrygewig.

Kleinkaap (Foto: Carina Stander)

Deel van die genoegdoening wat mens ervaar, is nie net die geure en smake nie, maar die hele sensoriese belewenis: die geritsel van die blare bo jou kop, die agtergrondmusiek, die water van die fonteintjie, die skaterlag van die eend. Hier is nie ʼn onbenutte of lelike hoekie nie. Die trousale is indrukwekkend. Die vertrekke wemel van oudhede soos ʼn grammofoon, ʼn staanhorlosie, vleuelklavier en skulpversamelings. Ek wou net foto’s neem van die klassieke vloerteëls, gekleurde glasvensters, die ou koets en veteraanmotors in die tuin.

Kleinkaap (Foto: Carina Stander)

Behalwe vir die horde konferensies, afskeidsfunksies, verjaarsdagpartytjies, kombuistees, ooievaarstees en meer as veertig troues wat jaarliks by Kleinkaap gehou word, bied hulle ook allerlei feestelike aktiwiteite aan. Daar is musiekaande met Joshua na die Reën, Coenie de Villiers, Chris Chameleon en Valiant Swart en fliekaande waar jy op gemakkussings onder die sterre sitlê en smul aan ʼn driegangpiekniek terwyl jy fliek. En dan is daar ook Oesfeeste met lang tafels vol seisoenale kos en ʼn Ginfest! Geen wonder dat Kleinkaap in 2019 die LTG-toekenning vir Beste Luukse Boetiekhotel van die Jaar in Gauteng ontvang het nie – voorwaar ʼn uitsonderlike prestasie as jy dink hoe mededingend die mark is.

Jip, die Kleinkapenaars sit wraggieswaar nie en vleg vingers nie – allermins! Daarom is dit is só merkwaardig dat ʼn energieke hotel met sewentig personeellede (as jy almal van die tuinier tot die bestuurder tel) dit kan regkry om deurdrenk te wees van rustigheid en persoonlike aanraking. Die gasvrye vasvatter-bestuurderes Marionè (“chief cheerleader” is haar werkbeskrywing) het ʼn gawe om gaste in ʼn oogwink op te som en presies te verstaan wat elkeen gelukkig gaan maak. Dit is ook hoe sy die plasings van personeel benader: Sy sê jy kan iemand leer om ʼn skinkbord eksieperfeksie te dra of ʼn e-pos te antwoord, maar ʼn “dienaarshart”, soos sy dit noem, kan jy niemand leer nie. Almal hier by Kleinkaap is met die hand uitgesoek omdat hulle dienaarsharte het en dit geniet om iemand se dag spesiaal te maak. Die kelners en kelnerinne is werklik uitstekend. Wendy, die geleentheidsbestuurder (haar werkbeskrywing is “miracle worker”) fladder soos ʼn suikerbekkie deur die projekte – lig, maar met ʼn vaste greep. Die saggeaarde Gerty, wat deel is van die finansiële bestuur, maak tyd vir heerlike geselsies oor ʼn koppie cappuccino en die geleentheidskoördineerder Theunie erken dat Kleinkaap haar lewe gered het omdat sy hier haar landelike liefdes hier kan uitleef – sy groet ons met ʼn kardoesie vol tuisgemaakte marmelade, appelkooskonfyt en laventelkoekies.

Kleinkaap (Foto: Carina Stander)

Kom ek verklaar my kleure: Ek was nie net ʼn dagbesoeker by Kleinkaap nie, ek het vir maande saam met die bestuurderes beplan aan die boekbekendstelling van Die Wonderwese sonder dat ek al ooit daar was – en al my verwagtinge is oortref. Verbeel jou ʼn aand met ʼn vuurblaser en stelstapper en kelners en kelnerinne wat versier is soos storieboekkarakters. Later hoor ek die sjarmante eienares van Kleinkaap, Reine, het voor die tyd my boek vir haar personeel gegee om te lees, sodat hulle die atmosfeer van die storie kon vasvang vir die aand – van die bebaarde “handy man” wat die koperpotte en feetjieligte gehang het tot sjef Anel wat die vreemde geregte uit my boek vir die gaste opgetower het. (Kamstige takboktonge en pou gerol in spek.) Hulle het uitgevind na watter musiek ek geluister het terwyl ek my boeke geskryf het en dit oor die luidsprekers gespeel. En kyk, dis nie asof ek voorkeurbehandeling gekry het nie – die verstommende persoonlike aandag word geskenk aan elke liewe funksie wat Kleinkaap aanpak – só vertel verskeie mense my wat al troues of herdenkings daar bygewoon het. Die Kleinkapenaars laat jou werklik glo dat dit hulle plesier, nee, hulle pássie is om jou dag te maak. En daarin slaag hulle loshande: Dit was lag-lag een van die spesiaalste aande van my lewe.

Kleinkaap (Foto: Carina Stander)

Heelwat Gautengers het vir my vertel dat hulle nie eers bewus was van Kleinkaap se bestaan nie. Dis soos ʼn versteekte skat in die stad. Gewoonlik wanneer ek op reis is, verken ek die wyer omgewing en besoek museums, konserte en parke, maar die atmosfeer by Kleinkaap was so aangenaam, dat ek dit nie wou verlaat nie. Ek wou eers nóg ʼn romerige cappuccino gedrink en nóg ʼn stuk van daardie onvergeetlike kaaskoek met my man deel voordat ons die pad lughawe toe aandurf. Die oomblik toe ons by die hekke uitry, het ek skielik geweet wat die plek so besonders maak: Kleinkaap is in die stad, maar nie van die stad nie. Net soos wat sy mense in hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld is nie.

REISRAAD

  • Kleinkaap-boetiekhotel is stapafstand vanaf Centurion Mall en 35 km vanaf die OR Tambo-lughawe. GPS koordinate: S25.50’28.7” E028.10’38.5”
  • Hou hulle webwerf of Facebook-blad dop vir interessante ervarings soos fliek-onder-die-sterre, die Oesfees, Ginfest of musiekkonsert. Dagbesoekers is welkom om aan te sit vir ʼn voortreflike ontbyt van R150 per persoon of vir middag- en aandete. As jy werklik die hartklop van Kleinkaap wil hoor, oornag in die geskiedkundige gewelhuis.
  • Vonkpos: [email protected] Skakel: 012 654 9878 of 082 883 3383. Webwerf: https://kleinkaap.co.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Spikkels ·

WOW wat ‘n wonderlike plek. Word op my “bucketlist” gevoeg

Nee-wat ·

Ons werk se afsluitingsfunksie onlangs by KK was, myns insiens, alles behalwe indrukwekkend. Nadat ons gly-gly deur die modderpad (parkeerarea) moes aanploeter, moes ons ontdek dat elkeen se koffie/drankie afsonderlik per kaartmasjien betaal moes word – met n dametjie wat nie geweet het hoe om die masjien te werk nie! n Kollega met kennis daarvan het toe maar ingespring en personeel se transaksies deur die masjientjie geryg … Die plek is pragtig, die vleis was goed, die groente swak, die nagereg goed, maar dit was beslis die swakste keuse vir n jaarafsluitingsfunksie OOIT!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.