Kabelkarre van Suid-Afrika

Die uitsig by Hartebeespoortdam se kabelkarre Foto: Germari Pieterse (verskaf aan Maroela Media)

Die uitsig by Hartbeespoortdam se kabelkarre Foto: Germari Pieterse (verskaf aan Maroela Media)

Kabelkarre was nog altyd iets wat ons as mens aangetrek het soos ʼn magneet.

Miskien is dit die voëlvrye gevoel wat daarmee saamkom. So asof jy gravitasie vir ʼn kort rukkie gefnuik het. As dit jou dan boonop na ʼn asemrowende uitsig meevoer, is dit ʼn ekstra bonus.

Ons het twee kabelkarre in Suid-Afrika wat mens nie net belowe om jou ʼn heerlike ervaring tydens die rit te gee nie, maar ook ʼn eindbestemming wat enige natuurliefhebber die nodige natuur-inspuiting kan gee wat jou weke in die stad sal laat oorleef.

Tafelberg-kabelkar

Die ervaring:
Die bekende, draaiende kabelkar vervoer al sedert 1929 besoekers na een van die gewildste aantrekkingspunte in Suid-Afrika. Tafelberg se kabelkar is ‘n moet-sien vir enige nuwe en selfs ou besoeker aan die Moederstad. Daarom is dit nie verbasend nie dat dit reeds meer as 24 miljoen besoekers tot bo-op die 1 089 m hoё plat berg gekarwei het, sedert dit oopgemaak het.

Met die pragtige 360 grade uitsig oor die oseaan, Kaappunt, Gewelberge (Twaalf Apostels) en die hawe is dit duidelik hoekom dié berg in een van die Sewe Natuurlike Wonders van die Wêreld ingesluit is.

Geniet ʼn paar uur of selfs ʼn dag op die berg deur een of meer van die drie staproetes te bewandel, ʼn gratis uurlikse gidstoer te neem, die fauna en flora te besigtig of sommer net te ontspan by die self-help restaurant. Vir die dapperes is daar selfs ʼn abseil-geleentheid.

Indien jy nie tyd het om in die dag ʼn draai te kom maak op die berg nie, kan mens deesdae die sonsondergang geniet teen ʼn spesiale prys. In Suid-Afrika se hoogsomer, 1 November tot 19 Desember, en dan weer vanaf 8 Januarie tot 28 Februarie is dit halfprys indien jy ná 18:00 opgaan. Die kabelkar neem besoekers af tot 21:00. Dalk net die ideale tyd om daardie spesiale vraag te vra…

Tafelberg is altyd ʼn goeie idee. Net een uur hierbo, so naby aan die natuur, is al wat mens nodig het om vir jou hernieude energie te gee om weer die stad se gejaag te gaan aanpak.

Pryse: (Pryse verhoog 1 Oktober 2015 met tussen R10 en 15)
Volwassenes: R115 (enkelkaartjie); R225 (retoer)
Kinders(4-17 jaar): R58 (enkelkaartjie); R110 (retoer)
Pensionarisse (slegs Vrydae): R95 (retoer)
Studente (slegs Vrydae): R68 (enkelkaartjie); R130 (retoer)

*Op jou verjaarsdag kan jy verniet opgaan met die kabelkar as jy jou ID-dokument wys. Die kaartjie kan gebruik word vir 7 dae na jou verjaarsdag indien jy nie op die dag van jou verjaarsdag kan opgaan nie.

Besigheidsure:
Indien die weer saamspeel, is die tye soos volg 7 dae ʼn week:
1 Mei – 31 Augustus 2015: 08:30 – 17:00
1 September – 31 Oktober 2015: 08:00 – 18:00
November 2015: 08:00 – 19:00
Desember 2015: 08:00 – 20:00

*Die laaste kabelkar af is gewoonlik ʼn uur later as wat dit sluit.
*Die kabelkar is jaarliks tussen 29 Julie en 9 Augustus gesluit vir jaarlikse onderhoud.

Kontak:
Webwerf:
www.tablemountain.net
E-pos: [email protected]
Tel: 021 424 0015

Harties-kabelkar

Die ervaring:
Daar is nie noodwendig so baie interessante dinge wat mens kan doen in Gauteng soos in die Wes-Kaap nie, maar die kabelkar by Hartbeespoortdam is ʼn móét.

Hierdie kabelkar bied ʼn heerlike daguitstappie wat jou nie net nader aan die natuur bring nie, maar jou kwaliteittyd saam met jou familie en vriende laat geniet.

Dié kabelkar, wat jou op die Magaliesberge neem, is die langste mono-kabelweg in Suid-Afrika en was oorspronklik in 1973 gebou, maar is weer in 2010 heropen nadat dit in 2005 gesluit is vir opgradering.

Anders as Tafelberg se kabelkar is hierdie karretjies kleiner (ses mense kan op ʼn slag binne-in sit) en die ritte is meer gereeld.

Bo-op die berg kan mens die omgewing en uitsig wat voor jou lê, besigtig met die 1 km Dassieloop-staproete wat mens met inligtingsborde help om jouself te oriënteer, deur te verduidelik wat mens in ʼn spesifieke rigting sien op ʼn helder dag. Die dam in die verte kan maklik met ʼn uitsig oor ʼn Europese meer verwar word.

Aangesien jou eie kos en drinkgoed nie toegelaat word nie, is hier restaurante, kosstalletjies, vooraf bespreekte piekniekmandjies en selfs ʼn kroeg waar mens iets te ete en te drinke kan kry, wanneer die hongerpyne knaag. Kinders kan besig gehou word in die speelarea terwyl die ouers ontspan.

As jy ʼn natuurliefhebber is en op soek is na ʼn lekker uitstappie weg van die stad se gejaag, is hierdie jou volgende “beste besluit”.

Pryse:
Volwassenes: R175 pp
Kinders (4-14 jaar oud): R95pp
Kinders onder 4 jaar: Verniet
Pensionarisse: R100 (ID-dokument moet getoon word)
Jaarlikse fooi met onbeperkte toegang: R895 pp

Besigheidsure:
Indien die weer saamspeel, is die tye soos volg, 7 dae ʼn week:
Kaartjiekantoor: 08:30
Eerste karretjie op: 09:00
Laaste karretjie af:
Winter  (Mei – Augustus): 16:45
Somer (September – April): Besoek die webwerf tydens dié maande om die tye te bevestig.

Kontak:
Webwerf:
www.hartiescableway.co.za
E-pos: [email protected]
Tel: 012 253 9910

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Peet Schabort ·

Omdat daar op die Tafelbergkar onderhoud gedoen word is dit duidelik nie ‘n afdeling van Eishkom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.