Kan LekkeSlaap jou vasvra oor Suid-Afrika?

Vlag van Suid-Afrika (Foto: Self-photographed, BY-SA 2.5 via Wikimedia Commons)

Oos tot wes, wyd en syd, Suid-Afrika word geken aan sy merkwaardige diversiteit en as dit by algemene kennis oor ons pragtige land kom, is daar soveel om te ken én te verken.

Daarom het LekkeSlaap 19 vrae vir 2019 saamgestel om jou algemene kennis oor ons land te toets. Kom ons kyk of LekkeSlaap jou met dié tawwe tienies kan vasvra ─ miskien leer jy iets nuut oor hoekom Suid-Afrika net die beste is!

(Die antwoorde verskyn onderaan)

1. Watter Amerikaanse ster het Kimberley se 128.54 karaat Tiffany-diamant vanjaar na die Oscars gedra?
a) Natalie Portman
b) Lady Gaga
c) Emma Stone

2. Watter stad het in 1882, nog voor Londen, die eerste stad in Afrika met elektriese straatligte geword?
a) Kimberley
b) Kaapstad
c) Johannesburg

3. Watter vorm is die Kasteel de Goede Hoop in Kaapstad?
a) ’n Seshoek
b) ’n Driehoek
c) ’n Vyfpuntster

4. Waar in Suid-Afrika sal jy Die Hel vind?
a) Gamkaskloof, Wes-Kaap
b) Vredendal, Wes-Kaap
c) Kenhardt, Noord-Kaap

5. Wat is die enigste streek ter wêreld waar rooibos verbou word?
a) Cederberg
b) Baviaanskloof
c) Richtersveld

6. Napoleon Bonaparte het tydens sy ballingskap op St. Helena aangedring op wyn van hierdie wynplaas.
a) Solms-Delta
b) Babylonstoren
c) Groot Constantia

7. Watter enorme soutpan is bekend daarvoor dat adrenalienvrate en renjaers hul motors se spoed toets?
a) Verneukpan
b) Bitterpan
c) Brakpan

8. Watter bekende Suid-Afrikaanse privaat ondersoeker het vanjaar ’n beduidende rol gespeel in die reddingspoging en hervestiging van ’n hele klompie van Kamferdam se flaminkkuikens?
a) Gerrie Nel
b) Mike Bolhuis
c) Charl Holm

9. Op watter Oos-Kaapse strand sal jy moontlik sonbaai langs ’n koei?
a) Kampsbaai
b) Koffiebaai
c) Stompneusbaai

10. Watter fabelagtige waterfiguur kan blykbaar by die Meiringspoort-waterval aangetref word?
a) ’n Spook-selekant
b) ’n Karoo-kelpie
c) ’n Karoo-meermin

11. Waar beskerm die mistieke Reënkoningin en haar gesante die grootste broodboomwoud ter wêreld?
a) Modjadjiskloof in Limpopo
b) Sabie in Mpumalanga
c) Karkloof in KwaZulu-Natal

12. In watter Oos-Kaapse Karoodorp kan die graf van ’n wyle Harry Potter aangetref word?
a) Cradock
b) Nieu-Bethesda
c) Grahamstad

13. Aan die toppunt van watter bergpas sal jy die hoogste kroeg in Afrika aantref?
a) Sanipas
b) Tradouwpas
c) Bushman’s Neck-pas

14. In watter natuurreservaat in die Kalahari mag die sand dalk vir jou brul as jy daarop trap?
a) Kgalagadi-oorgrenspark
b) Augrabieswaterval Nasionale Park
c) Witsand Natuurreservaat

15. Hoeveel ingangshekke het die Krugerwildtuin?
a) 9
b) 7
c) 11

16. Waar in Suid-Afrika is die wêreldbekende tegnologie-entrepreneur Elon Musk gebore?
a) Durban
b) Kaapstad
c) Pretoria

17. Watter een van die volgende opsies is die oudste grotte in die wêreld?
a) Kangogrotte, Oudtshoorn
b) Sudwalagrotte, Mpumalanga
c) Sterkfonteingrotte, Gauteng

18. Sowat 90% van die olifantekoeie in hierdie park het nie tande nie.
a) Addo-olifantpark
b) Tembe-olifantpark
c) Knysna-olifantpark

19. ’n Hektaar van hierdie inheemse boom verwyder meer koolfstofuitlaatgas uit die lug as ’n hektaar van die Amasone.
a) Kremetartboom
b) Spekboom
c) Kokerboom

Kyk of jy reg is:

  1. Lady Gaga het Kimberley se Tiffany-diamant vanjaar na die Oscars gedra.
  2. Kimberley het in 1882 die eerste Afrika-stad met elektriese straatligte geraak.
  3. Die Kasteel de Goede Hoop in Kaapstad is ’n vyfpuntster.
  4. Gamkaskloof in die Swartberge staan ook bekend as Die Hel.
  5. Rooibos word slegs in die Cederberge verbou waar die warm somers, reënerige winters en sanderige grond die ideale klimaat skep.
  6. Napoleon Bonaparte het tydens sy ballingskap na St. Helena aangedring op Grand Constance, ’n rooiwyn van Groot Constantia.
  7. Verneukpan buite Kenhardt in die Noord-Kaap is al telkemale deur waaghalse gebruik wat die spoedgrens probeer breek.
  8. Mike Bolhuis het sowat 900 van die wees-flaminke van Kamferdam op sy plaas in Gauteng verwelkom.
  9. Koffiebaai in die Oos-Kaap is bekend daarvoor dat koeie en bulle op die strand “wei”.
  10. As die poel by Meiringspoort oorstroom, sê die mense in die streek die Meiringspoort Meermin is alweer vies.
  11. Die Reënkoningin, ’n mitologiese vroueheerser, en haar volgelinge, die Balobedu-mense, beskerm die grootste broodboomwoud ter wêreld in Modjadjiskloof, Limpopo.
  12. Die graf van ’n wyle Harry Potter en sy vrou, Elizabeth Potter, kan in Cradock gevind word.
  13. Die Highest Pub in Africa kan 2 873 meter bo seespieël aan die bopunt van die Sanipas gevind word.
  14. ’n Spesiale sameloop van omstandighede lei daartoe dat die sand op die duine by die Witsand Natuurreservaat sekere tye van die jaar ’n brulgeluid maak as jy daaraan raak.
  15. Die Krugerwildtuin het 11 ingangshekke.
  16. Elon Musk is in Pretoria gebore en het ook daar groot geword.
  17. Die Sudwalagrotte in Mpumalanga is die oudste grotte ter wêreld. Dit is sowat 240 miljoen jaar oud.
  18. Sowat 90% van die olifantkoeie in die Addo-olifantpark het nie tande nie. Omdat daar nuwe bulle na die park ingevoer word om die genetiese variasie onder die olifante te vergroot, word olifantkoeie nou toenemend met tande gebore.
  19. Die spekboom kan, hektaar vir hektaar, meer koolstofgas uit die lug verwyder as die Amasone.

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur Adriëtte le Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.