Karavaanskou sal kampeerders bekoor

Kampeerders moet seker maak hulle teken 21 tot 23 Februarie in hul dagboeke aan: dit is tyd vir die jaarliks Karavaanskou by Gallagher Estate in Gauteng.

Hier is van die produkte wat by die skou te sien sal wees. Kom maak gerus ‘n draai – daar wag nog talle meer op jou!

BorderX Extreme

BorderX het sy nuwe, kleiner, Extreme-model vroeg in Januarie bekendgestel – net betyds vir die Karavaanskou by Gallagher Estate hierdie Februarie.

In die BorderX Extreme kan twee persone op ‘n dubbelbed voor in die neusafdeling slaap, en dit het ‘n deur agter. Die fokus van die karavaan is op die buitelewe. Dit het ‘n lisensiemassa van 920 kg in vergelyking met die groter Expedition-model wat 1 540 kg weeg.

Maar wie is BorderX? In die Augustus-uitgawe van die Caravan & Outdoor Life Magazine is ʼn storie gepubliseer oor die jongste dubbelas-veldkaravaan, die BorderX Expedition, ‘n veldkaravaan wat deur die egpaar, Werner en Desna Pretorius, vir hul persoonlike gebruik gebou is. Die Pretorius-egpaar het dié besluit geneem nadat hulle hul karavaan in ‘n ongeluk in Namibië verloor het.

Hulle wou ‘n karavaan bou om spesifieke tekortkominge van hul vorige karavaan te oorkom, en omdat albei ingenieurs is, het hulle hul gesamentlike kennis en kundigheid gebruik om ‘n veldkaravaan te skep wat hul leefstyl en persoonlike behoeftes sou pas.

Dié karavaan moes nie deur grense beperk word nie – vandaar die naam BorderX. Die X beskryf die onbekende bestemmings, en die Border sê dit is in staat om tot by Kaïro te reis, indien nodig.

Hul eerste prioriteit was om ‘n veringstelsel te ontwikkel wat spesifiek ontwerp is om ongebaande weë die hoof te bied, en natuurlik algehele duursaamheid verseker. Werner en Desna het saam met Roadque, een van die grootste vervaardigers van karavaankomponente, gewerk, en Border X het een van die mees indrukwekkende padveringstelsels wat tans beskikbaar is, ontwikkel. Vlekvrye staal is gebruik en rooi geverf om ‘n uitstaande kenmerk te wees, en die oog te vang van enige warmbloedige Suid-Afrikaner. Die veringstelsel het dubbele oranjekleurige skokbrekers en swart wielvellings, alles op ‘n sterk struktuur wat mans genoeg lyk om Afrika te verower. ‘n Ander voordeel van hierdie onafhanklike veringstelsel is dat daar geen as onder die middelste gedeelte van die onderstel is nie, om met middelmannetjies klaar te speel, of dit nou sagte sand is of soliede graniet is wat asse kan buig.

Nou, ná maande se ontwikkelingsprosesse, het hulle vorendag gekom met die bykomende BorderX-model, ontwerp vir die kleiner en ligter 4×4-eienaar wat graag afgeleë, wonderlike plekke wil sien.

Daar is baie te sê oor eenvoud ten opsigte van kamp opslaan, asook oor die begeerte om ‘n goeie nagrus te geniet op ‘n ordentlike bed. Volgens alle verslae is die BorderX Extreme ontwerp om aan hierdie vereistes te voldoen. Dit het ‘n groot dubbelbed voor in die neusgedeelte, pakplek verder agtertoe, en ‘n groot deur agter. Buite aan die linkerkant is die buitelewe-komponente, met die uitskuifyskas en ander geriewe.

Baie aandag is gefokus op bakwerkkomponente, en standaardkenmerke sluit in 265/65R17-bande en vellings, stabiliseerders voor en agter (hoekstutte), en onafhanklike kronkelvering. Daarbenewens is daar ‘n 75-liter- kouewater- en 60-liter-warmwatergeiser, twee pompe, ‘n uitskuifkombuis met Dometic-gasstoof en wasbak, ‘n 80-liter-uitskuifyskas, ‘n opwipkombuis met ruim werkoppervlakke, LED-ligte binne en buite, 220/12-voltsokke binne en buite, ‘n slim Victron-laaier, en kragmonitorstelsel, asook klampe vir twee batterye. Koste R216 522 BTW uitgesluit.

Vir ‘n omvattende lys bykomstighede, kontak [email protected].

Badger Adventure Caravans

‘n Ander splinternuwe karavaanvervaardiger wat hul eerste karavaan bekendgestel het by die Karavaanskou, is Badger Adventure Caravans in KwaZulu-Natal.

Die Badger-span het sowat 12 jaar ondervinding in veselglas. Hul kernbesigheid is die bou van hoëtegnologie-veselglasjagte, maar hul vakansiepassie is om te kamp. Daarom het hulle besluit om die 4×4-ervaring en kampkennis te kombineer, en dit te gebruik om ‘n innoverende karavaan te ontwerp waarvan die hoofeienskappe die praktiesheid en gemak daarvan moes wees. Hulle het ook ‘n unieke uitvou-slaaparea gepatenteer, wat daarop gemik is om meer ruimte binne te maak.

Badger is besig om ‘n reeks kompakte veselglaskaravane te bou wat die Badger Mini, Badger Lite, Badger X-Over en die Badger Extreme sal insluit. Hulle het ook ‘n ryhuis-weergawe wat by die Karavaanskou vertoon sal word, plus idees vir bekendstelling later in die jaar.

Hul konstruksiegeheim is ingespuite veselglas wat byna koeëlvas sal wees, sê Zane Kramm, een van die aandeelhouers.

Die Badger Mini moet nog voltooi word, maar soos die naam daarvan impliseer, sal dit ‘n kleiner weergawe wees.

Die Badger Lite sal die ligste van die vollengtereeks wees, en die doelwit is ‘n BVM van 750 kg, wat beteken dit kan met ‘n B-rybewys gesleep word. Dit het die opsie van ‘n klein slaapbank vir ‘n kind, of bykomende pakplek voor in die karavaan. Daar is ‘n opvouspens, toeganklik van buite en van binne, asook ‘n uitskuif-tweeplaatstoof. Die uitskuifkombuis het koue water uit ‘n kraan, en daar is ruimte vir ‘n opsionele vrieskas-yskas. Pryse begin by R175 000.

Die Badger X-Over-karavaan is meer robuus met ‘n hoër gegradeerde as en 15-duimwiele, wat dit meer geskik maak om op grondpaaie te sleep.

Behalwe al die kenmerke van die Badger Lite, het die X-Over ook ‘n 15-literwarm-watergeiser. Die BVM van hierdie model sal sowat 800 kg wees en die prys R215 000.

Die Badger Extreme is hoofsaaklik ontwerp vir mense wat gretig is om bos toe te gaan, daarom het dit ekstra duur kenmerke, onder andere skokbrekers, modderflappe en rotsskuiwers – en dit kom standaard met ‘n yskas. Hierdie model sal by R265 000 begin.

Badger Caravans het ook ‘n bakkiekampeenheid wat op die laaibak van ‘n dubbelkajuitbakkie pas. Dit is ‘n alleenstaande eenheid, wat beteken ‘n mens kan dit afhaal en op die kampplek agter laat wanneer jy vir ‘n wildrit gaan. Die prys begin by R115 000 (BTW ingesluit).

Badger bied ‘n wye verskeidenheid bykomende toerusting en naverkoop-onderdele, meer wanneer dit later beskikbaar word. Besoek hul webwerf by badgercaravans.co.za.

Nayela

Onthou julle die Nayela-veldkaravaan wat op verlede jaar se skou vertoon is? Dit was die prototipe. Intussen het die maatskappy ‘n nuwe fabriek opgerig, en al die nodige wysigings aan die oorspronklik ontwerp aangebring. Hulle is nou in volle produksie, net betyds vir vanjaar se skou.

Die ontwerper is ‘n professionele argitek, dus kan ons verwag dat die Nayela-dubbelas-veldkaravaan ‘n aantal vernuftige idees sal hê om ruimte te bespaar, en ‘n styl wat duidelik toon dat dit deur ‘n argitek beplan en geskep is!

Afgesien van die buitekant wat baie anders lyk, het Nayela ook ‘n uitskuifslaapkamer aan die een kant, ‘n kenmerk wat ‘n reuseverskil maak ten opsigte van beskikbare binneruimte wanneer jy kamp.

Om ‘n volledige binneruim te skep wanneer jy in die veld vakansie hou, is daar ook ‘n stort-en-toilethokkie teen die agterste muur, wat goeie privaatheid bied.

Aan die ander kant, onder die afdak, is die uitskuifkombuis. Hier is die gladde, gevormde glashoeke. Die hoeke het die finesse wat kenmerkend is van hierdie nuwe geslag veldkaravane.

Nayela bied ‘n spesiale skouprys. Die gewone prys is R495 000, maar die spesiale skouprys is R460 000, BTW ingesluit.

Jurgens

Ek wil graag byvoeg: “Welgedaan!”, want dit is met verligting dat dit lyk asof hierdie maatskappy terug is op vaste terrein en op pad na herstel, met handelaars wat weereens volledige Jurgens-, Sprite-, Gypsey- en Tourers-franchises op hul vloere het. Nie slegs het Natal Caravans en Marine hul franchise vanjaar teruggeneem nie, maar ook Kennis Caravans in Gauteng.

Behalwe die onlangse bekendstelling van Jurgens Penta, beplan hulle ook om sowel die nuwe Penta en die Exclusive by die skou te hê. Daar is vir ons gesê dat ‘n nuwe Classique ook daar sal wees as die tyd dit toelaat.

Dit lyk asof die hele bedryf werklik besig is om spoed op te tel, met die mededinging wat ‘n hoogtepunt bereik. Inderdaad ‘n goeie tyd vir kopers!

Hierdie artikel is verskaf deur die Kamp & Karavaan Tydskrif.

  • Koop jou kaartjies sommer nou vir die Karavaanskou by Webtickets
  • Klik hier vir meer inligting oor die Karavaanskou
  • Volg die geleentheid op Facebook
  • Kaartjies kos R120 per volwassene en R60 per student of pensioenaris.

Wen

Altesaam 25 lesers kan elkeen ʼn dubbelkaartjie na die geleentheid wen! Die wenners sal lukraak uit die inskrywings getrek word. Jy sal ʼn e-pos ontvang indien jy ʼn wenner is. Maak seker jy vul die onderstaande vorm in voor 14 Februarie om 12:00.

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 14 Februarie om 12:00.
  • Wenners sal per e-pos in kennis gestel word.
  • Vervoerkoste en verblyf is nie by die prys ingesluit nie.
  • Die prys kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Maroela Media kan nie aanspreeklik gehou word vir enige verlies of skade wat jy mag ly indien jy die geleentheid bywoon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.