Kersfees-doendinge: Markdag in die Overberg

Kom koop jou Kersgeskenke op Greyton.

Maak die Kerskouse hierdie feestyd vol met handgemaakte produkte uit die Overberg se markte, waar jy enigiets van koeksisters, juwele, speelgoed en mooi lap tot biltong, tuisgemaakte konfyt, heuningkoeke en hope atmosfeer sal kry. Suid-Afrika spog met heerlike naweekmarkte en dit is ook dalk net die regte plek om ’n unieke Kersfeesgeskenk te gaan uitsnuffel.

 

Hermanuspietersfontein

Hermanuspietersfontein se mark.

Stalletjies se kos by dié mark wissel van pannekoek tot perlemoen en alles tussenin. Daar is ook lewendige musiek en ’n koffie-hoekie waar jy jou eie koffie kan rooster. Hermanus is net meer as een uur se ry van Kaapstad, perfek vir ’n Saterdag-gesinsuitstappie.

  • Waar: Hermanuspietersfontein Wynlandgoed, Hemel-en-Aarde Vallei
  • Wanneer: Elke Saterdagoggend

 

Hermanus Country Market

Lekkernye by die Hermanus Country Market.

Kom snuffel in stalletjies vol kuns, keramiekprodukte, handgemaakte juwele, speelgoed, plante, rooibostee, kase, vrugte en groente, bier, koffie, wyn en reuse borrels. Alles by dié gewilde Saterdagmark, die Hermanus Country Market.

  • Waar: Hermanus-krieketgronde, Jose Burmanlaan.
  • Wanneer: Saterdae, en hulle Somersnagmark is elke Woensdag, vanaf 12 Desember, 17:00 – 21:00

 

Greyton se prentjiemooi mark

Greyton se markplein is elke Saterdag ’n warboel van mense wat stroom om tuisgemaakte produkte by dié geliefde mark uit te snuffel. Lede van die Greyton Bewaringsorganisasie bestuur die mark en elke stalletjie-eienaar skenk 10% van hul winste aan hierdie waardige organisasie.

Waar: Die Markplein oorkant die NG Kerk in die Hoofstraat

Wanneer: Saterdae vanaf 10:00 – 12:00

 

Markdag op Stanford

Kom kyk na die papierbootresies wat deel is van Stanford se straatmark.

Stanford is baie bekend vir al sy markies. Stanford se Sonsakmark wat op die dorpsplein aangebied word se laaste datums vir vanjaar is 21 Desember. Die dorp se Saterdagmark word elke Saterdagoggend op die stoep van die Stanford Hotel in Queen Victoriastraat aangebied. Stanford bied boonop op 16 Desember hulle straatfees in Victoriastraat aan. Op die program is onder meer ’n karskou, hope vermaak, kuns, kos, ’n papierbootresies en helikopterritte. Die Iziko Museum se mobiele museum en Eagle Encouters is ook daar.

Waar:

Sonsakmark: Op die dorpsplein
Saterdagmark: Op die stoep van die Stanford Hotel in Queen Victoriastraat
Straatfees: In Victoriastraat

Wanneer:

Die Sonsakmark: Die laaste mark vir vanjaar is 21 Desember, 18:00 – 21:00
Saterdagmark: Elke Saterdagoggend van 9:30 tot 12:00
Straatfees: 16 Desember, 9:00 tot 16:00

Disakloof se geskenkemark

Disakloof se geskenkemark sal jou bekoor.

Disakloof is aan die voet van die berg op Bettiesbaai geleë. Disakloof se geskenkemark bied die beste van die kontrei te koop aan. Dit is ’n feesmark propvol hart en mooigoed vir plaaslike inwoners asook vakansiegangers.

Waar: Clarencestraat 2589, Bettiesbaai

Wanneer: 15 tot 29 Desember 10:00 – 18:00; 24 en 29 Desember 10:00 – 18:00

 

Lees meer oor markte op ander plekke in die land:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.