Klanke op die buitelug-planke: Wes-Kaapse amfiteaters toor en bekoor

Foto: Bigstock via LekkeSlaap

Die Grieke het dit byna reg gehad toe hulle destyds op ’n koepelvormige arena as teater besluit het. Al wat geskort het, was die Suid-Afrikaanse flair vir teater wat vandag landswyd teaterliefhebbers laat gons. Die tradisie van dié ouwêreldse buitelugteater, saam met Suid-Afrika se unieke vermaaklikheidsbedryf, vorm saam ’n droomkombinasie wat enige musiek- en teaterliefhebber sal betower. Kom wandel saam met LekkeSlaap deur die Wes-Kaap se gunsteling-amfiteaters en laat dié provinsie se bekroonde kuns en kultuur jou toor en bekoor!

Spier-amfiteater

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Cape Town Opera Company (@capetownoperacompany) on

In die hartjie van die Kaapse Wynlande, tussen berge en dale, duskant die Eersterivier, lê Spier Wynlandgoed, een van Suid-Afrika se oudste wynplase. Sedert sy ontstaan in 1692, het dié landgoed in ’n moderne, eko-vriendelike wynplaas ontwikkel en is deesdae ’n uiters gewilde bestemming vir besoekers van naby en ver. Dié landgoed se gewildheid is nie net in sy wêreldklas-wynproduksie gewortel nie, maar ook te danke aan die diverse doendinge wat op die plaas te vinde is. Kuns en kultuur het nog altyd ’n beduidende invloed op die landgoed se estetika gehad en sedert die bekendstelling van die Spier Amfiteater in 1996, het Spier voorwaar ’n mekka vir musiek-, teater- en kunsliefhebbers geword.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Busisiwe Thabethe (@busi_t) on

In 1993 begin Spier se eienaar, Dick Enthoven, om die Spier-amfiteater langs die oewers van die Eersterivier op te rig en open in 1996 vir sy eerste somerfees. Die amfiteater het sitplek vir 3 565 mense en spog met ’n moderne verhoog wat beskut en uiters goed toegerus is. Spier bied elke jaar ’n vyf maande lange somerfees aan vanaf November tot middel-April van die volgende jaar. Dié feesseisoen behels ’n verskeidenheid diverse musiekuitvoerings, toneelstukke, operas en so meer. Opspraakwekkende optredes wat al op hierdie planke kom draai het sluit Ubu and the Truth Commission, La Traviata en Confessions of Zeno in, en beide plaaslike en internasionale kunstenaars het al hierdie verhoog hul tuiste gemaak. Dié jaar se somerfees sluit bekendes soos Karen Zoid en Brian McFadden in en beloof om voorwaar ’n fees vir die oë en ore te wees.

Salige sielsrus naby Spier

The Wild Mushroom Guest House

The Wild Mushroom Guest House (Foto; LekkeSlaap)

Ná ’n aand van kuns en kultuur is daar niks so salig soos ’n goeie nagrus nie. The Wild Mushroom Guest House bied luukse Stellenbosch-verblyf op sy beste en is ook ’n kort entjie se ry van Stellenbosch se historiese middedorp af. Verblyf word in agt luukse suites gebied wat elkeen slaapplek vir twee volwassenes het, en elke kamer vertel die verhaal van ’n spesifieke sampioenspesie. ’n Volle fynproewersontbyt word soggens onder die pergola in die binnehof bedien. Klink dit nie al te lekker nie? Bespreek sommer eersdaags jou verblyf saam met jou uitstappie na die Spier-amfiteater en maak ’n naweek van jou kuns-en-kultuur-plesier.

Bushman’s Cave Bergteater

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Leané Swart (@leaneoswart) on

Aan die voet van die Sederberge, sowat 35 kilometer buite Clanwilliam, staan ’n majestueuse rotsstruktuur uitgehol vir jou liriese plesier. Bushmans Cave Bergteater is op Erik en Melinda Milander se plaas, Oude Muur, geleë. Jare gelede het hul vriend, Danie Niehaus, die visie gehad om die massiewe grot op die plaas in ’n opelugteater te omskep. Nadat koppe bymekaar gesit is, is daar begin om die teater te ontwikkel. Die eindresultaat was werklik iets besonders en verskeie van die land se topkunstenaars het al daar opgetree. Om elke hoek en draai van hierdie asemrowende rotsstruktuur is van die bes bewaarde Boesmantekeninge te sien en die Kaapse fynbos is wyd versprei oor dié plaas. Die Tafelberg-sandsteenrotsformasies is eie aan die omgewing en bring ’n gehalte-akoestiek mee wat dun gesaai is in die res van die wêreld. Elke optrede by Bushmans Cave Bergteater word met ’n smaaklike ete van varsgebakte roosterkoeke en brood, asook bredies en potte vergesel. Kom maak gerus ’n draai by dié plattelandse fenomeen as jy op soek is na ’n buitelugteater-ervaring soos geen ander nie!

Knip ’n uiltjie in dié distrik

Boskloof Swemgat

Boskloof Swemgat (Foto: LekkeSlaap)

Boskloof Swemgat is ’n pragtige plasie in die ongerepte Boskloofvallei tussen die noordelike Sederberge se voorheuwels. Dit is net 10 kilometer van Clanwilliam af en is die ideale plek vir ’n gesinswegbreek of ’n romantiese naweek. Verken die plaaspaaie te voet of op ’n motorfiets, vang vis, swem in die rivier en bewonder die sterrehemel. Dié plattelandse plekkie is die ideale oorslaapplek vir besoekers aan Bushmans Cave Bergteater. Die bergteater is net ’n 40 kilometer-motorrit tussen die asemrowende bergagtige landskappe van die Wes-Kaap af en is beslis ’n droombestemming vir teaterliefhebbers wat die wonders van die natuur ook wil beleef.

Oude Libertas-amfiteater

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Elsje Schreuder (@elsjeschreuder) on

Stellenbosch was nog altyd een van Suid-Afrika se gewildste kunstenaarsdorpies wat met ’n ryk, diverse teaterkultuur spog. Teen die hange van die mooie Papegaaiberg en tussen die wingerde en eikebome, lê die Oude Libertas-amfiteater. Hiér is ’n verskeidenheid teater- en leefstyl-ervarings op ’n byna daaglikse basis te sien en elke teaterliefhebber behoort ten minste een keer ’n jaar by dié pragtige amfiteater besoek af te lê. Die halfmaan-bankies is eg-Grieks en die koepelvormige verhoog sorg vir gehalte-akoestiek waarvan die Miemie Coertses van die wêreld net kan droom. Van wêreldklas-galakonserte tot plaaslike komediante se eenmanvertonings ─ dié amfiteater sorg dat oud en jonk dwarsdeur die jaar vermaak word. By die Oude Libertas-amfiteater is ’n jolige uitvoering deur jou gunstelingkunstenaar saam met ’n heerlike glasie wyn uit die distrik nie te versmaai nie!

Lekker lêplek naby Oude Libertas

Life & Leisure Boutique Guest House

Life & Leisure Boutique Guest House (Foto: LekkeSlaap)

Life & Leisure Boutique Guest House is ’n unieke, moderne gastehuis in Stellenbosch-sentraal. Dié gastehuis bied gastekamers en konferensiegeriewe naby bekende restaurante, wynplase en kunsgalerye. Daar is sewe ruim gastekamers en ’n aparte gesinseenheid vir ses gaste langsaan. Elke kamer het ’n moderne en suite-badkamer, koffie- en teemaakgeriewe, WiFi, lugversorging, ’n TV met DStv en ’n yskassie met verversings. Dis ideaal vir kleiner groepe en kan vir ’n verskeidenheid behoeftes voorsiening maak. Dié gastehuis bied luukse geriewe wat saam met die ouwêreldse bekoring van Stellenbosch enige teaterganger se are sal laat bruis!

Paul Cluver Forest-amfiteater

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Travel Designer (@traveldesigner) on

Die Paul Cluver Forest-amfiteater lê knus tussen die hemelhoë bome van die Elginvallei op Paul Cluver Wines se wynlandgoed en het plek vir 600 gaste om ’n aand se feestelike vermaak te geniet. Dié amfiteater is in die De Rust Natuurreservaat geleë en sebras, bontebokke, springbokke, rooibokke en volstruise is in die area te sien. Die intieme aard van dié amfiteater sorg vir direkte interaksie tussen die kunstenaars en hul gehoor en bied sodoende ’n unieke teaterervaring. Pieniekmandjies kan ook vooraf bespreek word en soesji, koffie, boetiekbier en Paul Cluver se eie wyne is ook by die teater te koop. Kunstenaars soos Elvis Blue, Emo Adams en The Parlotones kom maak gereeld ’n draai by dié bosteater. Gaste kan ’n rustige stappie tussen die bome na die teater onderneem, waar opelugvermaak op elke gehoorlid wag!

Vind jou paleis in die Elginvallei

Villa Exner – Exclusive Boutique Hotel

Villa Exner – Exclusive Boutique Hotel (Foto: LekkeSlaap)

Villa Exner is ’n eksklusiewe boetiekhotel wat sentraal geleë is in Grabouw in die Elginvallei. Die hotel is die ideale basis vanwaar die besienswaardighede en doendinge in die omgewing verken kan word terwyl jy die stilte en rustigheid van die platteland geniet. Die fynproewersrestaurant op die perseel bied fynproewersaande met ’n smullekker samesmelting van plaaslike en internasionale tendense. Die vasgestelde spyskaart-opsie is ’n heerlike vyfgangmaaltyd met kraakvars, plaaslike bestanddele wat met plaaslike wyn bedien word. Geniet ’n romantiese aandete om die kaggelvuur of eet lekker saam met jou vriende in hierdie ontspanne, dog elegante atmosfeer. In die somer word aandete gewoonlik op die veranda, wat oor die groen grasperke en pragtuin uitkyk, bedien. Kom ervaar al die fyn afwerkings en persoonlike diens wat net ’n klein boetiekhotel jou kan bied!

Maynardville-opelugteater

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Fatima Halday (@fatimahalday) on

Die Maynardville-opelugteater is een van Kaapstad se jarelange teater-instellings. Dié teater dateer uit 1949 en is oorspronklik in die Maynardville Park opgerig om die soortgelyke Regents Park Open Air Theatre in Londen na te boots. Sedertdien het hierdie teater hom sterk in die Kaap se kultuurkringe gevestig en is veral bekend vir die Shakespeare in the Park-fees wat jaarliks meer as 20 000 gehoorlede trek. Gehoorlede kan hul piekniekmandjies pak en op die gras uitspan vir ’n Shakespeare-teaterfees soos min of dwarsdeur die jaar Maynardville se musiek- en teateruitvoerings kom geniet. Dié opelugteater is beslis ’n móét vir enige teaterganger wat aan die Kaap land!

Slaap in die suidelike voorstede

La Petite Drostdy

La Petite Drostdy (Foto: LekkeSlaap)

La Petite Drostdy is ideaal vir vakansiegangers óf sakereisigers wat by Maynardville besoek aflê. Dié kothuis is in ’n pragtige ontwerperstuin geleë en gaste het gebruik van die swembad en privaat braai-area. Die eenheid is mooi versier en goed gemeubileer met ‘n klassieke, plattelandse gevoel.  La Petite Drostdy is gerieflik geleë in die hartjie van Constantia, naby Constantia-winkelsentrum en daar is verskeie wêreldklas- en bekende restaurante op die kothuis se drumpel, waaronder Buitenverwachting, Steenberg en Constantia Uitsig. Daar is ook ’n aantal uitstekende gholfbane, wynplase, Kirstenbosch, Tafelberg en strande slegs ‘n kort motorrit van die kothuis af. So, as jy by Maynardville ʼn draai wil maak, kan jy netsowel jou tasse by La Petite Drostdy aflaai!

Dit was die Grieke wat die amfiteater tot stand gebring het, maar as ons dié Wes-Kaapse buitelugteaters só bekyk, lyk dit asof die amfiteater sy tuiste aan Afrika se suiderpunt kom vind het. Dis mos juis die buitelug se klanke wat die planke toor en bekoor, so besoek gerus dié vyf amfiteaters ─ ons sien jou in die gehoor!

Hierdie artikel is verskaf deur Lekkeslaap.co.za en is opgestel deur is Gerriline Fouché.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.